Merkwaardige tweeling word ‘n eeu oud PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 25 September 2019 09:22
Untitled Document

Hoe ongewoon is dit dat ‘n tweeling altwee 100 jaar oud word? Anna en Hendrik Bredenkamp van Serene Park Aftree-oord in Garsfontein het op 31 Augustus ‘n volle eeu oud geword.

Dié twee is die enigste oorlewende kinders uit 11 en het hulle verjaardag saam met familie en vriende gevier. Anna het nooit kinders gehad nie, maar Hendrik het vyf kinders, 13 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.

Die tweeling stel in tale belang en Anna is vlot in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Chichewa, ‘n taal wat sy aangeleer het toe sy vir 16 jaar in Malawi sendingwerk gedoen het. Hendrik is ‘n afgetrede landdros en praat vlot Afrikaans, Engels, Zoeloe en Duits.


Anna en Hendrik Bredenkamp
Foto: Danielle Garrett

Dié twee is in die aftree-oord vir hulle humorsin bekend. Hulle hou ook altwee daarvan om te lees en om winkels toe te gaan.

Hendrik sê dat hy glad nie 100 jaar oud voel nie, maar dat hy die verstand van ‘n 90-jarige ‘jong man’ het. Die tweeling sê dat hulle resep vir ’n lang lewe hulle geloof insluit, sowel as eerlikheid en om na ‘n mens self om te sien.

Hulle sê dat hulle nie ‘n wondermiddel, vitamien-mengsel of lewensreël het nie, maar dat hulle seker maar net gelukkig is en miskien ook goeie gene het.

 

© 2019 Die/The Bronberger