Gelukwense kom julle toe PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 25 September 2019 07:20
Untitled Document

Met hierdie uitgawe vier ons met oorgawe en in diepe dankbaarheid Die Bronberger se 17de bestaansjaar. En ons wil hierdie spesiale verjaarsdag-Bronnie as geskenk met ons opregte gelukwense en waardering aan elke liewe leser en aan elke liewe adverteerder opdra. Baie geluk en baie dankie! Want dit is aan julle wat die ware gelukwense toekom.

‘n Sewentienjarige mens mag bes moontlik as nog net ‘n blote bogkind beskou kan word. In die erg mededingende wêreld van die publikasiewese en te midde van groeiende kompetisie van elektroniese aard, is dit egter amper ongekend dat ‘n gemeenskapblad, sonder die rugsteuning van enige groot organisasie en groot geld, die ‘rype’ ouderdom van 17 haal.

Ons is deeglik en nederig onder die besef dat die Bronnie se voortbestaan en groei net deur genade moontlik gemaak is. Genade wat ons geseën het met wonderlike ondersteuning en meelewing uit ons gebied se eiesoortige lesersgemeenskap en met die onontbeerlike ondersteuning van ons gewaardeerde adverteerders.

Van meet af, nou ‘n stewige 17 jaar gelede, is die Bronnie deur die mense van ons gebied in hulle midde verwelkom. Die meelewing, geesdriftige aansporing, lesersbriewe en voorstelle sedert daardie heel eerste uitgawe, het alle verwagting oortref. Só iets het ons (toe al jare reeds in die mediawêreld betrokke) nog nie beleef nie.

Die Bronnie is deeglik en met opgewonde oorgawe gelees. Dit het direk daartoe gelei dat ons adverteerders goed ondersteun is en dié besef het tot ‘n welkome toename in advertensie-belading gelei, wat die lewensbloed van Die Bronberger se voortbestaan is. Dankie!

Ons wil dit ook nie nalaat om ‘n paar spesiale mense, wat jare reeds getrou met die uitgee van die Bronnie meewerk, spesiaal te bedank en ons gelukwense oor te dra nie. Baie dankie, Tania, Jeanette en ons drukkersvriende Allen en Lydia.

Gesondheid! Ons klink met vertroue ‘n glasie op nog baie sinvolle en suksesvolle bestaansjare.

 

© 2019 Die/The Bronberger