Aan wie het die skelette in ou Pretoria se Du Preezhoek-kerkhoffie, wat vir die Gautrein moes plek maak, behoort? Daar was geen teken van grafstene oor toe hulle opgegrawe is nie, maar ’n jaar se intensiewe navorsing wys dat dié gebeendere die verhaal vertel van Jan Diknek du Preez en sy nasate, hulle siektes, harde fisiese werk en die ontberings wat pioniers deurgemaak het.
In Die Bronberger se Junie-uitgawe het ons die saga van die Bronkhorst-broers, Pretoria-distrik se eerste inwoners, vertel in ‘Twee fonteine, twee broers en Pretoria se eerste kliphuis’.
Ons het vertel dat Gert Bronkhorst, wat die eerste kliphuis in Pretoria gebou het, ongeveer in 1839 op die plaas Elandspoort ingetrek het. Ná Gert se dood in 1848 het dié plaas die eiendom van Andries van der Walt geword. Andries en sy skoonseun, Johannes Petrus (Jan Diknek) du Preez, het toe reeds aan die westekant van die Apiesrivier gebly. Hulle het die plaas Du Preezhoek herdoop.
Anja Meyer by ’n plakkaat wat lees: ‘The skeletal remains of Du Preezhoek, Pretoria, South Africa. A bioarchaeological investigation of a 19th-century pioneer family’
Foto: Esmé Meyer
Opgrawings
In Julie 2006 het Archaic HPM verkennende uitgrawings in ‘n deel van die ou Du Preezhoek-plaas gedoen om te sien wat die impak van die Gautrein hier sou wees. ‘n Kaart van 1877 wys die grense van Pretoria met die Du Preezhoek-begraafplaas as die suidelike grens.
Dit was op die walle van die Apiesrivier in die omgewing van Fonteinedal, langs die ou Nederlands Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatschappij (NZASM) treinbrug, wat tussen 1890 en 1893 gebou is om Pretoria met Mosambiek te verbind.
Met dié uitgrawings het Archaic HPM oorblyfsels van ‘n ou begraafplaas, strukture en ‘n gedeelte van die oorspronklike populierbos wat aan die Elandspoortplaas verbind kon word, gevind. In daardie stadium kon die menslike oorskot in die begraafplaas nie konkreet aan die Du Preez-familie verbind word nie.
Dié lugfoto van die ou begraafplaas se ligging is in 2005 geneem
Bron: WNNR, SAC: 498523/Tshwane/2005
Plaaslike Bronberg-inwoner, bio-argeoloog Anja Meyer, het daardie Desember, as studieprojek vir haar eerste honneursgraad, saam met Johan Nel van Archaic HPM die oorskot van 11 mense opgegrawe.
Volgens Anja se navorsingsartikel in die ‘South African Archaeological Bulletin 64 (190): 156–165, 2009’, genaamd ‘The skeletal remains of Du Preezhoek, Pretoria, South Africa – A bioarchaeological investigation of an early pioneer family’, word daar aanvaar dat die begraafplaas eers ná die Bronkhorsts se tyd ontstaan het.
Anja het in 2007 ’n jaar lank by die Departement van Anatomie, UP, hierdie individue se skelette met forensiese antropologiese tegnieke geanaliseer om te bepaal wat die ouderdom en geslag van elke individu was. Ná talle besoeke by die Nasionale Argief en deur Van der Walt- en Du Preez-nasate te raadpleeg, het Anja se genealogiese navorsing met ’n redelike mate van sekerheid aangedui wat die identiteite van die eens-naamlose skelette is.
Die Du Preezhoek-begraafplaas was waar die ou NZASM-treinbrug die Apiesrivier kruis
Foto: Anja Meyer |
Die Apiesrivier agter die bome, soos gesien vanaf die Du Preezhoek-begraafplaas
Foto: Anja Meyer |
Familie
Vir ’n jaar lank was hulle letterlik, in Anja se woorde, haar “familie”. Anja is in 2011 ook gevra om by een van die SA Genealogiese Vereniging se byeenkomste by die Voortrekkermonument ’n praatjie daaroor te lewer. Sy het gepraat oor hoe genealogie, argeologie en forensiese antropologie kon saamkom om vir dié pioniers van vroeë Pretoria hulle name terug te gee. Sy het ook in ’n radio-onderhoud daaroor gepraat en genoem hoe kosbaar die opdoen van dié nuwe kennis ook persoonlik vir haar was.
“Die hele ontplooiing van die saak was vir my baie interessant,” het haar ma Esmé Meyer met ons gedeel. “Die daaglikse nuus, klein menslike oomblikke, die bio-argeologie, paleo-patologie – tot by haar baie besorgde bystand met hulle herbegrafnis in die Du Preez-akker.”
Dié akker is aan die heel westekant van die historiese Kerkstraat-begraafplaas. Op die dag van hulle hereniging by hulle familie, waar Anja blomme op die gemeenskaplike graf geplaas het, is die oorskot elk in ’n miniatuurkissie neergelê, met elke beentjie en brokkie daarin volledig bekend aan haar.
Hulle rus langs die Apiesrivier is versteur, maar in volle erkenning van wie hulle was, is hulle gebeendere weer met hulle eie mense herenig.
Anja besig met uitgrawings in die ou Du Preezhoek-begraafplaas
Foto: Anja Meyer
Kandidate
Anja is deur Antoon Du Preez van die Du Preez Trust gehelp met die moontlike genealogiese status van die 11 individue wat daar opgegrawe is. Die lys van kandidate uit die Du Preez-familie strek van Jan Diknek tot sy kleinkinders.
Jan is in 1848 met veldkornet Andries van der Walt se dogter, Maria Magdalena, getroud. Ná haar dood het hy met Emmerentia Adriana Wilhelmina Frederika Meyer (weduwee Steyn) getrou. Daar was 12 kinders uit sy eerste huwelik: Sewe seuns, waarvan een aangeneem is, en vyf dogters.
Anja doen verkenningswerk in die ou Du Preezhoek-begraafplaas
Foto: Anja Meyer
Die kandidate vir die gebeendere sluit ook die Van der Walt-familie in en begin met Andries Petrus van der Walt en strek tot sy kleinkinders. Andries is met Cornelia Magdalena Potgieter getroud en hulle het 12 kinders gehad.
Martini-Henry patroondoppies in die grafte het gehelp om van die grafte te dateer. Dié geweer is deur die Britte gemaak en vir die eerste keer in 1871 gebruik. Dit het in die Boere se hande gekom met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881) en die twee individue in die grafte waar die doppies gevind is, kon dus nie vroeër as 1880 gesterf het nie.
Dié oorblyfsels was vermoedelik deel van die voorstoep van Jan Diknek se huis
Foto: Anja Meyer
Vroue
Drie van die skelette was vrouens tussen die ouderdomme van 30 en 60 jaar. Twee van dié vrouens was van Europese herkoms en een van gemengde herkoms. Die skelette wys dat al drie vrouens aan ten minste een kind geboorte geskenk het.
’n Vierde individu was tussen die ouderdom van 12 en 16 jaar. Van die sewe oorblywende individue was een ’n kind tussen sewe en agt jaar oud en die res babas vanaf geboorte tot drie jaar oud. Die bepaling van geslag in kinderskelette, veral kinders wat nog nie puberteit bereik het nie, is baie onakkuraat en daarom word geslag gewoonlik net vir volwassenes bepaal.
Anja se navorsing het aangetoon dat die volgende vroue in die Du Preez-familie, wat voor 1890 oorlede is en in die regte ouderdomskategorie val, in grafte DPH 05.a; DPH 06 en DPH 08 kon lê: Cornelia Magdalena du Preez; Johanna Hendrina du Preez; Catharina Magdalena du Preez; Anna Maria Danielina du Preez; Catharina Magdalena du Preez; of Maria Magdalena du Preez.
Antoon du Preez het ook die volgende kandidate aangedui: Cornelia Magdalena du Preez; Johanna Hendrina du Preez; Catharina Magdalena du Preez; Anna Maria Danielina du Preez; Johanna Adriana du Preez; en Maria Magdalena du Preez.
Vroue in die Van der Walt-familie wat in die regte kategorie val is: Johanna Adriana (Smit) van der Walt; en Hester Maria (Smit) van der Walt.
Die kissies met die herbegrafnis in die Du Preezhoek-akker in die historiese Kerkstraat-begraafplaas
Foto: Anja Meyer
Kinders
Daar was net een kandidaat vir graf DPH 01, ’n Du Preez-kleinkind, Hester Susanna Catharina Elizabeth du Preez. In DPH 02 is die kandidaat Charles Peter van der Walt. In grafte DPH 03, DPH 04, DPH 07, DPH 09 en DPH 10 is die kinders van baba tot drie jaar oud en hulle kon wees: Maria Magdalena du Preez; Johanna Marthina du Preez; Hendrik Petrus van der Walt; of twee Van der Walt-babas waarvan die name onbekend is.
In graf DPH 05.b is die enigste kandidaat Petrus Johannes du Preez. Hy is in 1888 dood en sy graf was bykans bo-op graf DPH 05.a, wat aan een van die vroue behoort het. Dit kan met redelike sekerheid gesê word dat dit sy ma was: Johanna Hendrina du Preez, wat ook in 1888 dood is.
Geen moontlike oorsake van dood kon bepaal word vir enige van dié skelette nie, want daar was geen traumatiese bewyse op die gebeendere sigbaar nie. Patologie wys egter dat die mense swaargekry het, ‘n gebrekkige dieet gehad het en deurlopend harde fisiese arbeid verrig het.
Hulle was Pretorianers, voor die term ontstaan het. Soos die littekens aan hulle skelette wys, het dié baanbrekers letterlik die weg vir ons oopgemaak. Op hulle bloedsweet-grond het vervoer oor die laaste 180 jaar van ossewa tot stoomtrein tot Gautrein verander.
Die Du Preezhoek-akker
Foto: Anja Meyer
|