Ysbere durf Oudezwaanskraal se bibberwater aan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 19 August 2019 19:05
Untitled Document

Honderd dapper swemmers het die jaarlikse Ysbeer-swem op 13 Julie op Oudezwaanskraal aangedurf. Die buite-temperatuur was -6 grade Celsius en die water-temperatuur 4 grade Celsius op dié wildplaas op die Dorsfonteinpad.


Vroegoggend brand die konka-vure in die ysige koue
Foto: Luisa van der Linde

Dapper vrywilligers swem sedert 2014 ‘n afstand van 75 meter in die yskoue damwater vir ‘n goeie doel. Hulle samel komberse, klere, doeke en kos in vir minder gegoede gesinne van die Witpoort-omgewing en Kanana-nedersetting, waar baie van Oudezwaanskraal se werkers woon.


Die ysbeertjie sit en wag vir die swemmers. Kyk net hoe trek die stoom uit die water op
Foto: Luisa van der Linde

Mense bring hulle gesinne en geniet ‘n dag op die plaas. Vanjaar was daar ongeveer 250 toeskouers om die swemmers aan te moedig. Swemmers het in verskillende kategorieë meegeding: ’n Senior mans- en vroue afdeling; junior seuns- en meisies-afdeling; en dan is daar jaarliks ook ‘n afdeling vir dié wat met die snaaksste uitrusting aan swem.


Dié met interessante uitrustings aan by die wegspringplek
Foto: Skermgreep

Dié meerman het ook meegeding
Foto: Oudezwaanskraal

Die swemmers van die wegspringplek af gesien
Foto: Skermgreep

Agnes Venter van Oudezwaanskraal het dié Ysbeer-swem die “Polar Bear Plunge” gedoop. Sy vertel dat hulle dié dag gewoonlik so na as moontlik aan die draaipunt van die jaar op 21 Junie doen, maar dat sy vanjaar vir haar kinders gewag het om van vakansie af terug te kom.


Die swemmers staan gereed om weg te spring
Foto: Oudezwaanskraal

Sy sê dat daar altyd mediese mense by so ‘n swem teenwoordig is en dat sy al mense in komberse voor haar kaggelvuur moes ‘ontdooi’, maar dat vanjaar se swem sonder voorvalle afgeloop het.


Die eerste sarsie swemmers in die water
Foto: Oudezwaanskraal

Agnes se dogter, Esther Ferreira, sê dat daar baie borge was wat gehelp het om die dag ‘n sukses te maak. Miami het gesorg vir geskenkpakke en souse; Inter Africa Bureau de Change het boereworsrolle, koffie en tee gegee; en Smirnoff het gesorg vir vodka as versterking vir die swemmers se senuwees ná die swem.


Die manswenner, Douw Breed, en vrouewenner, Sonika Moir
Foto: Oudezwaanskraal

Die meisieswenner, Anje van Aard, en seunswenner, Gustav Combrink
Foto: Oudezwaanskraal

Comair en Kulula het gratis retoer vliegkaartjies aan die wenners geskenk en Skyline Productions het gesorg vir die hommeltuig (drone)-beelde en video-film plus foto’s.


Nog twee inskrywings in die ‘interessante drag’ afdeling
Foto: Oudezwaanskraal

Wenner Sonika Moir met ‘n span swemmers agter haar
Foto: Oudezwaanskraal

Die wenners van die senior-afdeling was Sonika Moir en Douw Breed. Die wenners van die junior swem vir kinders was Gustav Combrink en Anje van Aard.


Van die goedere wat vir liefdadigheid ingesamel is
Foto: Oudezwaanskraal

 

© 2019 Die/The Bronberger