Gemeenskap hou aan bloed skenk ná ongeluk PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 19 August 2019 18:44
Untitled Document

‘Helder’, ‘n splinternuwe musiekblyspel gebaseer op die Josef-verhaal in die Bybel, word van 22 tot 24 Augustus by die NG Tygerpoort-gemeente in Shere aangebied.

Zander van der Westhuizen, kultuurargitek en leraar by dié kerk, en Leon Gropp, wat tussen hulle spog met SAMA, ATKV-Lier en Ghoema-toekennings, durf hulle grootste musikale produksie nog aan.

Anna Davel, bekend as Afrikaanse liedjieskrywer, sangeres en aktrise van formaat, vertolk die rol van regter Marelize Strydom. Pierre Breytenbach, ‘n gesoute verhoogkunstenaar en ook bekend vir sy televisie- en advertensiewerk, speel Groenbaard de Beer. CJ van Aarde, een van die land se top tien junior sangers, is Joe ‘Judge’ de Jongh.

Na 70 oudisies is die beste jong talent as straatkinders vir die twee straatbendes in die produksie gekies. In totaal is daar meer as 40 spelers op die verhoog.


Anna Davel

Die produksie speel af in Lumina, ‘n fantasiestad van lig, ‘n stad vol hoop en potensiaal, vol kleurvolle karakters en intriges. Lumina bestaan uit distrikte, areas, strate, plekke en monumente; duidelik uiteengesit in ‘n toeristekaart. In die Niemandskant en Suidekant van die stad funksioneer straatkinders in verskillende bendes terwyl die leiers van die stad in die Noordekant woon.

‘n Straatkind van Lumina word in ‘n desperate situasie vasgevang. Sy gawe om tussen waarheid en leuen te kan onderskei, word deur sy meester misbruik. ‘n Mespuntsituasie dwing hom om ‘n keuse te maak.

Hy ontsnap uit sy omstandighede deur ‘n dubbele lewe te lei. ‘n Nuwe weldoener gebruik die kind se gawe om reg en geregtigheid te laat geskied. Wanneer sy straatvriende hulp nodig het, word sy nuwe lewe met die oue gekonfronteer. Noodgedwonge word sy ware identiteit onthul. Sy eie leuen word uiteindelik deur die waarheid verhelder met verrykende gevolge.


Pierre Breytenbach

‘Helder’ laat jou nadink oor die betekenis van die waarheid, die maskers wat ons dikwels dra en die vryheid wat onthulling bring.

In samewerking met Jattie de Beer, vervaardiger en skrywer, word ‘n professionele album van die musiek vir verkope vrygestel. Die kostumering is deur Arnold Cloete, ‘n bekende in die opera en musikale teaterbedryf; die produksiestel deur Finely Wrought; en die klank en beligting deur Fogtech.

Die opvoerings is op 22 Augustus om 7.30 nm en op 23 en 24 Augustus om 3.30 nm en 8 nm by die NG Tygerpoort Kerkgebou.

Kaartjieverkope vind aanlyn deur TIXSA plaas en kos R160 of R140. Bel Riana de Wet: 012-809-0107 of stuur ‘n epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger