Verstommende Steyn terug skool toe PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 19 August 2019 18:42
Untitled Document

Steyn Steenberg is op 22 Julie, knap 12 weke na die ernstige motorfietsongeluk waarin hy sy been verloor het, terug skool toe.

In ‘Steyn sterk goed aan ná ongeluk wat gemeenskap aangryp’ in Die Bronberger se Junie-uitgawe het ons vertel dat die 16-jarige Steyn Steenberg van Boschkop amper dood is in ‘n veldmotorfietsongeluk op Moedersdag.

“Nou ja, daar stap die man in by die skool vanoggend! Het behoorlik vir ons gevoel soos sy eerste dag in graad een,” het Steyn se pa, Jacques, gesê.


Steyn Steenberg is terug skool toe
Foto: Verskaf

Jacques en sy vrou Christa het nie gedink dat Steyn ná sy ernstige beserings so gou weer skool toe sal gaan nie. “Hy verbaas ons so,” sê Jacques. Steyn het aanvanklik net ‘n paar uur ‘n dag by sy skool, Hoërskool Garsfontein, deurgebring en sal langer bly soos hy daarvoor kans sien.

Steyn het op 12 Mei omtrent een kilometer vanaf Kitty Hawk met sy motorfiets teen ‘n staalversperring gebots en al drie hoofslagare in sy linkerbeen is afgesny. Altwee sy longe het platgeval as ‘n gevolg van gebreekte ribbes en impak op sy borskas. Hy het ook ’n ernstige fraktuur van die bekken, bloeding op die milt, ’n sny in die linker nier en gebreekte linker-gewrig gehad.

In die teater het hy twee keer ingegee en het die span dokters omtrent 30 minute gesukkel met resussitasie. Dit het later aan die lig gekom dat hy ligte beroertes in twee areas van die brein gehad het, wat sy spraak en sig aangetas het.

Steyn is op 30 Mei per ambulans oorgeplaas na ‘n rehabilitasiesentrum waar hy vir ses weke spraakterapie en intensiewe fisio-, arbeids- en sielkundige terapie ontvang het.


Steyn vertel vir dr Zander van der Westhuizen, leraar by NG Gemeente Tygerpoort,
hoe hy gevoel het
Foto: Skermgreep

Sy spraak het 90% verbeter, maar hy het 50% sig aan die linkerkant van albei oë verloor. Jacques vertel dat die neuroloog gesê het hulle moet dit kans gee tot ses maande na die ongeluk.

“Dit is die tyd wat dit neem vir die meeste breinbeserings om te herstel tot die mate wat dit kan. Dit wat nie in ses maande herstel nie, het net ’n 5% kans om daarna te herstel. So ja, ons bid en kou naels tot November,” sê Jacques.

In ‘n video-onderhoud met dr Zander van der Westhuizen, leraar by NG Gemeente Tygerpoort, het Steyn gesê dat hy blind was toe hy in die intensiewe sorgeenheid wakker geword het. Die feit dat hy toe ook glad nie kon praat nie was vir hom baie erg. Steyn het gesê die been was vir hom ‘n bysaak – almal het vertel hoe bly hulle was dat hy lewe.

Steyn loop met ‘n tydelike prostese tot hy sy eie permanente prostetiese been kan kry. Hoërskool Garsfontein is besig met ‘n fonds insamelingsinisiatief daarvoor.

 

© 2019 Die/The Bronberger