Dié ‘vuurvalke’ volg veldbrande PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 19 August 2019 20:41
Untitled Document

In die brandseisoen is dit nie ‘n vreemde gesig om te sien hoe grootrooivalke na die vlamme aangevlieg kom nie. Hulle sweef in die lug om insekte en ander prooi, wat van die vlamme af vlug, op te raap. Dié voëls sal meer vang as wat hulle kan vreet en huiwer nie om oorskietkos onder klippe of bosse weg te steek nie.

Hulle sit gewoonlik op ‘n oop tak, telefoonpaal, heining of ‘n rots voor hulle afduik om prooi te vang, en kan lank in die lug sweef voor hulle afduik. Dié voëls vreet hoofsaaklik insekte soos sprinkane, termiete en kewers, en minder gereeld spinnekoppe, skerpioene, slange, klein voëls en soogdiere.


Van naby is die diagnostiese witterige oë duidelik sigbaar
Foto: Frank Vassen

Die grootrooivalk, Falco rupicoloides, se vere is ‘n dowwe rooibruin kleur. Sy agterkant, bo-vlerk en flanke het swart dwarsstrepe. Sy bors en kop is gestreep, maar hy het nie snorstrepe soos die kleinrooivalkwyfie nie. Dié valk word verder van die kleinrooivalkwyfie onderskei deur ‘n grys, dwarsgestreepte stert.

Die grootrooivalk is groter en ligter bruin as die kransvalk met ‘n witterige ondervlerk, wat in vlug ‘n skerp kontras met die donkerder lyf vorm. Van naby is die diagnostiese witterige oë duidelik sigbaar.

Die geslagte lyk eners. Die voël is 36–40 cm groot met ‘n vlerkspan van 68–84 cm en weeg 200–300 gram. Onvolwassenes het ‘n rooierige, dwarsgestreepte stert in plaas van die volwassenes se grys, en het ’n donker oog.


Die grootrooivalk is ‘n dowwe rooibruin kleur met swart dwarsstrepe
Foto: Thomas Schoch

Die grootrooivalk is ’n algemene standvoël wat in die grootste gedeelte van die land voorkom. Dié voëls bly meestal binne dieselfde gebied, maar sommiges is nomadies. Hulle is gewoonlik stil, maar in broeityd roep hulle met ‘n skril, herhaalde ‘kee-ker-rik’-geluid.

Grootrooivalke gebruik ander voëls se ou neste, soos dié van kraaie. ‘n Tipiese nes is tussen twee en 20 meter bo die grond in ‘n boom of selfs op ‘n telefoon- of kragpaal. Twee tot sewe dofgeel eiers word gelê, wat na 22 tot 23 dae uitbroei. Die jong voëls kan na 30 tot 34 dae begin vlieg, maar bly vir ten minste 26 dae daarna nog van hulle ouers afhanklik.

 

© 2019 Die/The Bronberger