Moordverdagte ná jaar gevang en weer gelos PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2019 20:35
Untitled Document

‘n Vierde man is op 26 Julie in verband met Victor Mabunda, landdros by die Cullinanse Landdroshof, se moord aangekeer, maar weer vrygelaat omdat die aanklaer glo versuim het om die saak op die hofrol te plaas.

Die Bronberger het verlede jaar berig dat die 50-jarige Victor, bekend vir sy opspraakwekkende uitlatings in die hof, op 10 Januarie 2018 koelbloedig doodgeskiet is in die oprit na sy huis in Prinsloostraat 52 A, Bronkhorstspruit.

Victor is glo vier keer geskiet en is op die toneel dood verklaar. Niks is in die voorval gesteel nie en dit is vermoed dat die moord verbind kan word aan hofsake waarby Victor betrokke was en dat ‘n sluipmoordenaar gehuur is.


Victor Mabunda
Foto: Verskaf

Paulos Fourie en Thomo Ngoato, tronkbewaarders by Baviaanspoort Korrektiewe Dienste, is op
1 Februarie 2018 vir die moord op Victor aangekeer. ‘n Derde verdagte, Thato Maringa, is die volgende dag in Soweto in hegtenis geneem. Hy was in besit van ‘n voertuig wat aan die moord gekoppel kon word.

Thato, ‘n gevangene in Baviaanspoort wat uit was op parool, is verbind aan sewe ander sake. Die polisie het na ‘n vierde verdagte gesoek.

Victor se broer, Chris Mabunda, het gesê dat die familie geskok was om te hoor dat die vierde verdagte vrygelaat is. Hy het gesê dat die man wat vrygelaat is ‘n “persoon van belang” was waarna die polisie vir meer as ‘n jaar lank gesoek het.

 

© 2019 Die/The Bronberger