PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 22 June 2009 18:11
Untitled Document

Dit is maklik om vas te stel of die roofvoël wat jy nou net in die lug sien sweef het ’n wou is of nie. Kyk net of sy stert ’n v-vorm maak. ’n Wou word van ander roofvoëls onderskei deur sy kenmerkende gevurkte stert.

Dit is dié stert wat hom toelaat om baie akkurate duike uit te voer. Hy kan afswiep en ’n stukkie prooi op ’n snelweg tussen bewegende voertuie oppik. Dit alles deur die v-vormige stert in vlug vanaf ’n horisontale na ’n amper vertikale posisie te beweeg.

Die geelbekwou is aanvanklik as ’n aparte spesie gesien, maar word toe later deur sommige voëlkenners as ’n sub-spesie van die swartwou geklassifiseer. Afhangende van waar hy ingedeel word, staan die geelbekwou bekend as Milvus milvus aegypticus of Milvus milvus parasitus.


Die geelbekwou
Foto?s: Wikipedia

Onlangse DNA toetse laat dit nou weer blyk asof die geelbekwou genoeg van die swartwou verskil om hom ’n aparte spesie te maak. Alhoewel die twee ’n gemene voorsaat het, is hulle so lank terug geografies geskei dat individue blykbaar nie meer met mekaar gekruis kan word nie.

Die geelbekwou is omtrent so groot soos ’n tarentaal, 51 – 60 cm lank. Sy vlerkspan is 133 – 180 cm. Sy vere is roesbruin met ’n ligter band oor die boonste vlerk, en sy snawel en bene is helder geel.

Die geslagte lyk eners, maar onvolwassenes het ’n swart snawel en dofgelerige veerrande. Onvolwassenes kan onderskei word van die swartwou deur hul dieper gevurkte sterte. Beide geelbek- en swartwou is somerbesoekers, maar dit is net die geelbekwou wat hier broei. Dié twee se roep klink eners – ’n hoë, skril runnikgeluid.

Die geelbekwou vreet soogdiere, kleiner voëltjies, reptiele, insekte en aas. Hulle aas veral langs paaie waar insekte en diere doodgery word en kan lastig raak in kampeerplekke.


Die geelbekwou met sy kenmerkende gevurkte stert

Broei
Die geelbekwou vlieg in swerms as hulle nie broei nie. Hulle broei van September tot November. Die nes is ’n holte van 50 – 80 cm diep, bestaande uit takkies en is uitgelê met ou lappe, wol, mis of velle. So ’n nes word in ’n boom gebou en twee tot vier eiers met bruin vlekke op, word gelê. Die mannetjie en wyfie neem beurte om op die nes te sit tot omtrent ’n week ná die kuikens uitgebroei het. Die kuikens vat vyf weke om uit te broei en verlaat die nes na ’n verdere ses weke.

 

© 2019 Die/The Bronberger