PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 22 June 2009 18:10
Untitled Document

Die Aussies gaan glad nie ingenome wees as hulle hoor dat ons ’n boom het wat stof in die oë van hul wondermiddels skop nie. Kenners meen dat ons kanferbos ’n kragtiger ontsmettingsaksie as Australiese teeboomolie, Melaleuca alternifolia, het.

Wie sou nou kon raai dat iets wat in die volksmond bekend gestaan het as boesmantabak, bekend vir ’n narkotiese effek op die roker daarvan, vandag gesog sou wees in die kosmetiese bedryf?

Dié volksnaam het tot stand gekom toe Kalahari-boere agterkom dat die Boesmans kanferbosblare rook. Dié blare bevat geen nikotien nie en alhoewel dit ’n narkotiese effek het, is dit nie verslawend nie. Vandag kan ’n mens gedroogde boesmantabak op bykans enige webwerf wat tradisionele medisyne adverteer, aankoop.

En waar daar ’n rokie is, is daar iewers ’n vuurtjie. Kanferbos produkte vat nou eers regtig vlam, al word dit al vir eeue lank ingespan om ’n groot verskeidenheid take te verrig, van kosmeties tot die behandeling van ernstige siektes.

Dit is eers die afgelope paar dekades wat die kanferbos, Tarchonanthus camphoratus, se essensiële olies in laboratoriums verwerk word om velprodukte te maak wat ’n strelende, anti-irritasie en opklaringseffek vir sensitiewe velle, dermatitis, sonbrand en bedsere, het. Tradisioneel is takkies kanferbos gebruik as insekafwerende middel. Dit is tussen klere, komberse en selfs kos geplaas om bosluise, vlooie, vlieë, luise en motte weg te hou. Dié boom se sade, wat ’n sterk kanfergeur afgee, is gebrand om hutte te ontsmet. Vars blare en takkies is bygevoeg om die vuur meer te laat rook.

Die hout is termiet-bestand en is tradisioneel gebruik om hutte en heinings mee te maak. Die olie wat verkry word as die sade gepars word, hou muskiete, muggies en bykans enige bytende insek weg. As dié olie aan jou lyf gesmeer word, werk dit vir ses tot tien ure - lank genoeg om ’n rustige nag te verseker.


Die vrugte met watte-agtige hare
Foto: plantzafrica

Kussing
Die Tswana en Venda stamme gebruik die kanferbos se wollerige sade om kussings mee op te stop. Hulle glo dat dié kussings help vir hoofpyn, slaaploosheid en rusteloosheid. Ander stamme druk kanferblare onder hul kussings vir ’n rustige nag sonder nagmerries, en ook om keelseer te behandel. Baie stamme het vroeër sierkranse van kanferbosblare op hul koppe gedra. Die vars blare is in die hare ingedruk om luise en skilfers weg te hou. Die Masai het die kanferblare as parfuum gebruik.

Om kanferrook in te asem is blykbaar goed vir rumatiek en sommige stamme hou hul seer gewrigte binne-in dié rook. Die blare word ook in ’n bad gegooi vir dieselfde doeleindes.

Sekere stamme het geglo dat reisigers na vreemde lande, kanferbosblare moet kou om hulle te beskerm teen bose invloede. Die Tswanas druk kanferblare in hul hoede of vleg ’n kransie om hul koppe om krag op ’n lang reistog te verseker. Hulle smeer ook hul voete met vars kanferblare voor hul op reis gaan. ’n Strelende salf wat seer voete, blase en koorssere behandel, is gemaak van fyngeparste kanferblare in vet gemeng.

Medisyne
Medisinale gebruike van die kanferbos strek van behandelings vir geslagsiektes, sooibrand, verteringsprobleme, hoofpyne, hoes, verkoue en griep. Baie stamme, en selfs die Voortrekkers, het kanferbos gebruik om asma, brongitis en ander borsaandoenings te behandel.

’n Sterk aftreksel word in ’n warm bad opgelos om verlamming en serebrale bloeding te behandel. Die kanferbos het ook sweetdrywende eienskappe en word gebruik om koors te behandel.

Boonop is dié boom se weerstand teen veldbrande uitsonderlik. In studies is daar gesien dat ’n kanferbos selfs ná drie veldbrande oorleef. Omdat hy droogtebestand is, kan hy in droë dele, waar bykans niks anders wil groei nie, geplant word. Hy kan gebruik word om duine te bewaar en om gronderosie deur wind en water te beheer. Sy stadigontbindende blare beteken dat hy grondvrugbaarheid verhoog.


Boesmantwak
Foto: Psychoactive Herbs

Snoei
Die kanferbos word twee tot nege meter hoog en word eintlik meer as ’n struik gesien. Met gereelde snoei om slegs een hoofstam te vorm, kan ’n netjiese boompie gekweek word.

Hy dra roomwit blomme van Maart tot Junie. Die vrugte, bedek met wollerige, watte-agtige hare, word gedra van Junie tot September. Dit is nie maklik om die kanferbos van saad af te groei nie; slegs 30- 40% van saailinge oorleef. Die boom kan ook gegroei word van plantlote wat met wortelstimulerende hormone behandel moet word voor hul geplant word. Die boom groei 600- 800 mm per jaar.

Familie
Die kanferbos hoort in die daisyfamilie. Tot onlangs is slegs twee spesies kanferbos in suidelike Afrika erken: Tarchonanthus camphoratus en T. trilobus. PPJ Herman van die Nasionale Herbarium in Pretoria het egter bevind dat daar verskeie spesies onder Tarchonanthus camphoratus gegroepeer is en het hulle in 2002 herrangskik op grond van verskille in blomme, blomtye, blaarvorm en verspreiding. Nou word daar vyf spesies onderskei: T. camphoratus, T. littoralis, T. minor, T. obovatus en T. parvicapitulatus. Tarchonanthus, en T. trilobus word verder onderskei in twee variëteite, naamlik var. trilobus and var. alpinii.

 

© 2019 Die/The Bronberger