Dié voëltjie doen naaldwerk PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 July 2019 11:25
Untitled Document

Al ooit gehoor van ‘n voëltjie wat geleer het om naaldwerk te doen? Die kwêkwêvoël werk plantblare met spinnekopdraad aan mekaar vas.

Hy bou sy balvormige nessie laag op die grond tussen graspolle, plantblare of struike. Die nessie word uitgevoer met sagte grasse en veertjies, wat met spinnekopdraad aanmekaar geheg is.


’n Groenrugkwêkwêvoël
Foto: Wikipedia

Dié nesbouer se pièce de résistance is egter die manier waarop hy dié nessie dan bedek. Hy werk blare letterlik aan mekaar vas met die res van die klewerige spinnekopdraad wat hy versamel het, sodat dit ‘n dak oor sy nessie vorm. Party mense sê dat die dakkie eers gemaak word voor die nessie onder hom ingebou word. Wanneer alles in plek is, lê die wyfie twee tot drie eiers.

Dié voëltjies se vorige Engelse naam was ‘bleating warbler’ wat na sy roep verwys. Hy moes seker dan in Afrikaans as die blêrblêrvoël bekend gestaan het omdat sy alarmroep net soos die blêr van ‘n klein lammetjie klink. Behalwe vir die blêr-alarm maak hulle nog ‘n ander harde geluid wat klink soos ‘n insek wat ‘n elektriese heining tref of twee klippe wat teen mekaar gekap word.


Die nessie onder blare wat met spinnekopdraad aan mekaar vasgewerk is
Foto: Sheldon Hooper, Sabi-Sabi

Die groenrug- en grysrugkwêkwêvoël klink soortgelyk, bou hulle nessies op dieselfde manier en die kenners sê deesdae dat dié klein 11,5 cm lange voëltjies eintlik dieselfde spesie in die Cisticolidae familie is. Altwee is skugter voëltjies wat laag in digte dekking gevind word.

Die groenrugkwêkwêvoël, Camaroptera brachyura, het ‘n grys mantel, ’n grys, kort, skewe stert en sy vlerke is groenerig. Sy onderkant is ‘n witterige grys.


’n Grysrugkwêkwêvoël
Foto: Wikipedia

Die grysrugkwêkwêvoël, Camaroptera brevicaudata, lyk amper dieselfde, net ‘n bietjie dowwer en ‘n klein deel van sy vlerke is olyfkleurig. Die geslagte lyk eenders, maar jong voëltjies het ‘n ligter geel bors.

Soos die meeste sangers is kwêkwêvoëls insekvretend. Die mooimeisie, ’n broeiparasiet, gebruik hulle as broeigashere.

 

© 2019 Die/The Bronberger