Hy trap suutjies in klein bietjies PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 July 2019 09:24
Untitled Document

Jare gelede was daar nog volop trapsuutjiese in voorstedelike tuine, maar deesdae sien jy selde een. Die kenners sê dit is ‘n gevolg van die ondeurdagte gebruik van insekdoders, wat nie net die insekte uitwis nie, maar ook die diere wat hulle vreet.

Huiskatte speel ‘n rol in dié uitwissingsproses en so ook die mense wat trapsuutjiese as ongelukbringers, wat uit die weg geruim moet word, sien en diegene wat dié diertjies as troeteldiere aanhou.

As ‘n mens net kyk na die manier waarop hulle water drink, sal jy verstaan hoekom trapsuutjiese gereeld in gevangeskap vrek: Hulle lek dou van blare af en kan nie water uit poeletjies opslurp nie.

Inheemse trapsuutjiese, soos alle ander Suid-Afrikaanse reptiele, is deur wetgewing beskerm en mag nie aangehou, verkoop of gedood word nie.


Die Flapnektrapsuutjies
Foto: Wikipedia

Stadig
Die trapsuutjies het sy naam gekry oor sy stadig voortkruipende manier van beweeg om naby genoeg aan prooi te kom voor hulle wegvlieg. Onder die trapsuutjiese in ons land, is dié van die genus Bradypodion, wat ‘stadig-lopend’ beteken, en soms gesamentlik Suid-Afrikaanse dwergtrapsuutjiese genoem word. Daar is die Kaapse dwergtrapsuutjies, die Knysna-, Drakensberg-, Karoo-, Transvaal-, Transkei-, Zoeloeland- en Robertson-dwergstrapsuutjies.

Omtrent 190 trapsuutjies-spesies is bekend, wat in nege genera ingedeel word. Hulle is almal Ou-Wêreldse akkedisse wat in Afrika, Arabië, Madagaskar, Spanje, Suid-Europa, Indië, Sri Lanka en die Seychelle aangetref word.

Hulle wissel in lengte van slegs ’n paar sentimeters tot die grootste trapsuutjies op aarde, Calumma parsonii van Madagaskar, wat tot omtrent 70 cm lank word en selfs voëltjies en akkedisse vang.


Dié trapsuutjies het hom swart geskrik
Foto: Wikipedia

Kleur
Trapsuutjiese word ook verkleurmannetjies genoem oor hulle vermoë om van kleur te verander. Hulle ruwe vel is dikwels ’n dowwe bruingroen, maar kan verander in reaksie op dinge in die omgewing, veranderings in temperatuur en die lig en ook wanneer hulle honger is.

Kleurveranderings wissel van subtiele verskuiwings in skakerings van bruin tot ’n samespel van oranje, groen, blou en selfs ultraviolet kleure, wat die menslike oog nie kan sien nie. Dié outjie kan selfs pikswart word as hy bedreig voel.

Die kenners sê dat die kleurverandering deur hormone, wat pigment-houdende selle in die trapsuutjies se vel affekteer, veroorsaak word. Pigmentselle kan hulle pigmente vinnig verplaas, wat die kleur beïnvloed.

Kleurveranderings help glo ook met sosiale kommunikasie. Trapsuutjiese sal soms opvallende kleurpatrone vir mekaar flits, maar gewoonlik probeer hulle hulself kamoefleer.

Trapsuutjiese is boombewoners en hulle tone en sterte is spesiaal gevorm sodat hulle blare en takkies maklik kan vasgryp. Hulle papegaai-agtige pote het twee versmelte tone aan die een deel en drie versmelte tone aan die ander deel van die poot. Dié tone help hulle ook om saggies met wiegende bewegings deur takke en blare te beweeg en met die ritsel van blare in die wind saam te smelt.


’n Kaapse dwerg-trapsuutjies lek water van ’n blaar af
Foto: Wikipedia

Fynkam
‘n Trapsuutjies se oë is stereoskopies en kan onafhanklik van mekaar en in teenoorgestelde rigtings draai om hulle omgewing vir vyande en prooi te fynkam. Die prooi, gewoonlik ’n insek, word blitsvinnig met die lang, taai tong opgeraap en ingesluk. Die tong is tot twee keer so lank as die liggaam self.

Trapsuutjiese vreet meestal insekte, soos krieke, sprinkane en vlieë, terwyl sommige spesies ook blare sal vreet.

Die meeste trapsuutjiese lê eiers wat na vier tot 24 maande uitbroei, afhangende van spesie. Daar is selfs ‘n spesie, die Jackson-trapsuutjies, wie se kleintjies lewendig gebore word. Die grootte van die trapsuutjies voorspel hoeveel eiers sy sal lê: Kleiner spesies lê twee tot vier eiers, terwyl die groteres 80 tot 100 eiers op ‘n slag kan lê.

Trapsuutjiese is binne ‘n jaar of twee volwasse, behalwe die arme reus van Madagaskar wat in November uitbroei, in Januarie volwasse is, in Februarie eiers lê en dan vrek.


‘n Trapsuutjies het ‘n spesiale manier waarop hy ‘n warm pad oorsteek. Sy bene word baie hoog gelig sodat net twee bene op ‘n slag aan die padoppervlak raak
Foto: Pat Elk

 

© 2019 Die/The Bronberger