Op die vleuels van ‘n droom PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 July 2019 09:17
Untitled Document

Die 20-jarige Corné van Aardt van Cullinan is een van die jongste mense om ‘n kommersiële vlieënierslisensie te kry en terselfdertyd sy multi-enjin instrument-gradering te slaag. Jy moet ongeveer 200 vliegure hiervoor hê.

Corné het die prestasie op 21 Junie by Loutzavia Vliegskool in Wonderboom behaal en het só ‘n droom, wat hy sedert kleintyd koester, laat waarheid word. Hy vertel dat hy sedert sy kleuterskooldae altyd opgekyk het as hy ‘n vliegtuig hoor en gewens het dat hy kon vlieg.

So is Corné later hoërskool toe en het op die ouderdom van 15, toe hy in graad nege was, by Hoërskool Garsfontein se Vliegakademie ingeskakel. Dié akademie werk saam met ‘Professional Flight Centre’ by die Wonderboom-lughawe.


Corné van Aardt met die drie strepies op sy skouer

Corné het met opleiding vir sy private vlieënierslisensie begin en het in Desember 2013 sy eerste vlieguur aangeteken. Hy het sy eerste solo-vlug op 24 Januarie 2015, op die ouderdom van 16 jaar, gedoen. Dit is waar jy jou eerste strepie verdien. Hy het daardie jaar ook sy private vlieënierslisensie se teoretiese vakke klaargemaak.

Corné was in 2016 in matriek en het daardie jaar meer op sy skoolwerk gefokus. Hy verduidelik dat ‘n mens volgens die wet al op die ouderdom van 17 ’n private vlieënierslisensie mag kry, wat beteken dat jy vriende en familie saam met jou kan opvat, maar jy mag nie daarvoor vergoed word nie.

Ná skool het Corné oorgeskuif na Loutzavia Vliegskool, waar hy op 2 Junie 2017 sy private vlieënierslisensie op die ouderdom van 18 voltooi het. Dit is waar jy jou tweede strepie verdien en waarvoor jy 45 vliegure moet hê.


Corné van Aardt, links, word gelukgewens deur Johan Myburgh, ‘n graad twee instrukteur by
Loutzavia Vliegskool op Wonderboom-lughawe
Foto: Loutzavia

Om vlieg ’n beroep te maak, moet jy ’n kommersiële vlieënierslisensie kry en volgens die wet kan jy dit op die ouderdom van 18 jaar kry. ’n Mens kan dié lisensie op enkel- of dubbel-enjin vliegtuie doen en Corné het dubbel-enjins gekies. 

Instrument-gradering is ‘n ekstra vak wat nodig is om in enige weersomstandighede te vlieg. Baie jong vlieëniers sukkel om dié vak deur te kom lank ná hulle ’n lisensies gekry het.

Corné het sy teoretiese vakke en ook die instrument-gradering vak in 2018 voltooi, voor hy op
21 Junie sy multi-enjin kommersiële vlieënierslisensie ontvang het. Sy toekomsplanne is om vir ‘n lugredery te werk.

 

© 2019 Die/The Bronberger