Inwoners ontstoke oor nuwe watermeters PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 July 2019 09:14
Untitled Document

Cullinan-inwoners is die josie in oor nuwe watermeters wat lek en weghol waterlesings aandui. Die watermeters wat vervang word, is knap ‘n paar jaar gelede in dié dorp ingesit en het glo geen probleme gegee nie.

Klagtes op die dorp se openbare munisipale Telegram-groep is legio. Die eerste vraag is hoekom dié nuwe watermeters ingesit word. Inwoners sê dit lyk na ‘n taktiek om belastingbetalers se geld te mors. Sommige meters wat vervang word, was maar drie maande oud.


‘n Watermeter wat lek in Campweg
Foto’s: Cullinan munisipale Telegram-groep

Baie mense wat self maandeliks hulle watermeterlesings aan die munisipaliteit deurgee, het agtergekom dat die nuwe meter se lesing nie dieselfde is nie. Dit gaan ‘n groot impak op munisipale rekenings hê as die lesing van die meter wat verwyder is, nie geneem is nie.

Om dié probleem te verhoed, het baie mense gereed gesit om hulle ou watermeters se lesings af te neem as hulle sien dat die installasiespan in aantog is. Sulke foto’s wys in baie gevalle weghol-watertellings wat moeilik is om te verklaar.

Een inwoner sê dat haar meter vervang is terwyl niemand by die huis was nie. Alle krane was toe en die meter het reeds op 300 gestaan toe sy die eerste keer na die lesing kyk. ‘n Ander inwoner sê dat die meter binne 15 minute die watertelling na sewe eenhede vermeerder het. Nog ‘n inwoner sê dat haar watermeter die Woensdagmiddag 3.30 nm vervang is toe hy op 3094 gestaan het. Die volgende oggend 9:45 vm het die lesing op 5510 gestaan.


Modder en water rondom ‘n nuwe watermeter in 10de Straat

Op die munisipale groep het Johann Scholtz gesê sy meter wys dat hy 2 Kl in een dag gebruik het.

Dolphin Whisper Gastehuis het berig dat die vorige meter teen 5:42 nm nog gekoppel was. Die nuwe meter is teen 5:43 gekoppel, maar ‘n foto wat geneem is voor die koppeling, wys dat die lesing reeds op 1070 gestaan het.

Adri Prinsloo het op die groep berig dat ‘n dam water rondom haar pa se nuwe meter gevorm het en dat die meter gewys het dat hy 5 Kl in een nag gebruik het. Hy het die meter oopgegrawe en gesien dat die koppeling tussen die meter en die pyp na sy huis nie meer wil vasdraai nie. Hy het self ‘n nuwe koppeling gekoop en vervang en die meter het ophou lek.


‘n Skeef geïnstalleerde watermeter toon ‘n weghollesing

Graham Erasmus het op die groep laat weet dat hy geweier het dat die span Tshwane-kontrakteurs sy watermeter vervang. Hulle is daar weg, maar het hom gewaarsku dat verskeie spanne besig is om meters in Cullinan te vervang en dat sy meter wel een of ander tyd vervang sal word.

Inwoners word aangeraai om eerder ‘n waterlekkasie by die munisipaliteit te rapporteer en nie foutiewe meters nie. Gustav van Aardt het op die groep berig dat hy ‘n waterlekkasie na die nuwe meter op 28 Junie aangemeld het. Die navraag is op 5 Julie gesluit, maar die saak was teen die Bronnie se saktyd nog nie opgelos nie.

Waterprobleme kan aangemeld word by 012-358-9999.

 

© 2019 Die/The Bronberger