Mishandelde Zulu loop lang herstelpad PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 23 July 2019 09:11
Untitled Document

‘n Beloning van R25 000 wag op iemand wat kan sê wie dit is wat Zulu die perd langs Zambeziweg-verlenging (R513) afgelaai het om daar dood te gaan.

Zulu is op 25 Junie op die Nooitgedachtgrondpad naby Zuluka, ‘n stam-kultuurdorp, ‘weggegooi’.

Ooggetuies het gesien dat ‘n silver Fortuner en ‘n smal roomkleurige sleepwaentjie met twee perde op, gebruik is om Zulu te gaan aflaai.


Zulu is op 25 Junie op ‘n grondpad afgelaai om daar dood te gaan
Foto: Wet Nose

Hulle het toe verder gery met die ander perd, ‘n klein bruin perd met swart maanhare en ‘n stervormige bles, vasgebind op die waentjie. Dié perd het platgelê met sy hoewe wat tussen die tralies deursteek.

Ooggetuies het ‘n netjies aangetrekte swart vrou en ‘n ietwat oorgewig swart man in ‘n leerbaadjie saam met twee kinders van ongeveer 10 jaar oud in die Fortuner gesien.


Waar hy gelê het, kon Zulu ‘n paar slukkies water inkry
Foto: Wet Nose

Volgens Veronica Van der Merwe van Wet Nose Dierereddingsentrum het dieselfde gesin vroeër langs Africa Tanks in Cullinan stilgehou en die vrou het uit die voertuig geklim. Sy is na raming in haar dertigs en het ‘n pienk en wit rok gedra.

Veronica sê dat die voertuig rondom 7:15 vm van Pretoria se kant af gekom het en sy sê dit klink asof hulle op en af gery het op die pad tussen Montana en Cullinan, moontlik op soek na ‘n plek om Zulu af te laai.


Zulu op sagte beddegoed by Wet Nose
Foto: Wet Nose

Wet Nose se span het Zulu op 26 Junie opgehelp
Foto: Wet Nose

Veronica sê dat Zulu naby Zuluka, vandaar sy naam, van die oop veewaentjie, wat gewoonlik gebruik word om skape te vervoer, afgesleep is en in die pad gelos is om dood te gaan. ‘n Plaaslike boer het vir die perd water gebring en vir Wet Nose laat weet.

Wet Nose het vir Zulu gaan oplaai en hulle veearts het alles gedoen om die perd te red, maar hulle het getwyfel of hy dit deur die nag sou maak. Hy is op sagte beddegoed neergesit, maar kon nie opstaan of vreet nie.


Zulu is dadelik begin behandel by Wet Nose
Foto: Wet Nose

Op 26 Junie het Veronica laat weet dat Zulu nog met hulle was, maar steeds te swak was om self op te staan. Die Wet Nose-span het Zulu op sy bene gekry en hom masseer om die bloedvloei te help. Hy kon slegs ‘n paar happies voer inkry.

Op 27 Junie het Zulu begin vreet en het self gestaan, alhoewel sy bene erg geswel was en sy lyf vol sere was. Hy kon stadig begin loop en kon ook sonder hulp opstaan. Sy hoewe is op 28 Junie gedoen en hy kon daarna beter begin loop.


Zulu se hoewe is op 28 Junie gedoen
Foto: Wet Nose
.


Op 27 Junie het Zulu al self gestaan en die aandag begin geniet
Foto: Wet Nose

So het Zulu elke dag sterker begin raak en het die aandag wat hy gekry baie geniet. Met die herstelpad langs het Zulu begin vriende maak. In die eerste week in Julie het Veronica berig dat die swelling in Zulu se bene mooi begin sak het, maar dat hulle nog ‘n menigte wonde behandel wat veroorsaak is omdat hy vir te lank op ‘n harde oppervlakte op sy sy gelê het.


Zulu se oop sere herstel mooi op 1 Julie
Foto: Wet Nose

Op 7 Julie het Zulu weer ‘n terugslag gehad en moes die span by Wet Nose hom weer help om regop te staan. Veronica sê dat hy steeds baie swak is. Zulu is ‘n nuuskierige perd en is soms heel parmantig, terwyl hy ander tye gou moeg word en moedeloos lyk. Sy sê dat Zulu se stryd nog lank nie verby is nie.


Zulu soos afgeneem deur Laurika van der Linde op 4 Julie

Wet Nose wil seker maak dat geregtigheid geskied en wil hê dat die mense wat Zulu in die pad afgelaai het, vir hulle sondes moet boet. As jy enige inligting het, bel Veronica by 081-018-3062.

 

© 2019 Die/The Bronberger