Weersinwekkende onmenslikheid PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 23 July 2019 09:09
Untitled Document

Die weersinwekkende mishandeling van ‘n ryperd, waaroor die Bronnie op bladsy agt van hierdie uitgawe verslag doen, sal enige wese wat die woord ‘mens’ waardig is, met afgryse vervul.

‘n ‘Deftige’ man en vrou met twee kinders in hulle spoggerige voertuig is gesien waar hulle twee perde wat plat op ‘n klein sleepwaentjie moes lê, karwei het – blykbaar op soek na ‘n plek om die stomme, mishandelde diere weg te smyt. Een perd is op die Nooitgedacht-grondpad afgelaai waar dit, te swak om op te staan, bly lê het voor die eerste barmhartige hom gekry het. ‘n Boer van die omgewing het vir die perd water gebring en Wet Nose, ‘n dierereddingsorganisasie, om hulp geskakel.

Die boer sou die eerste van baie geskokte, warmhartige mense wees wat ingetree het om die mishandelde dier te help en om die walglike mishandelaars aan die man te probeer bring. Die perd is Zulu gedoop omdat hy naby ‘n ‘kultuurkraal’ met ‘n dergelike naam gekry is.

Zulu is op die toneel deur die mense van Wet Nose en andere behandel en met groot sorg en moeite na die organisasie se perseel op Vaalbank geneem waar gespook is om hom aan die lewe te hou en op die herstelpad te kry.

Die storie van Zulu het deur sosiale media en die tradisionele media rugbaar geword en het die harte van honderde diep aangegryp. Die blote hoeveelheid meelewing en die aantal mense uit die gebied en van elders wat hulp aangebied en verleen het, kan jou tog opnuut vertroue in die ‘menslikheid’ van ‘n groot groep mense gee.

Benewens praktiese en geldelike hulp, is selfs ‘n groot beloning deur omgeemense uitgeloof vir inligting wat daartoe kon lei dat die wreedaards aangekeer word sodat hulle tot verantwoording geroep kan word.

Teen die Bronnie se saktyd, is niemand nog in dié verband in hegtenis geneem nie. Zulu het met tye goeie verbetering getoon en kon op sy eie bene staan, maar die graad van die mishandeling en sy beserings was van só ‘n ernstige aard, dat hy nie buite gevaar was nie.

Zulu se verhaal is ‘n tragiese een, maar dit is ook een wat weereens bewys van die ‘menslikheid’ van baie van ons mense gelewer het.

 

© 2019 Die/The Bronberger