Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke
in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit
wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
Vir volksvreemde kosse is ek nie
bang nie, maar vir Indiese geregte
was ek nog altyd matig
versigtig. Dit roep altyd daai prentjie
van die ou met bloedbelope pieringoë
en ’n vlamskietende tong by my
op.
Maar ek hou my lyf dapper toe
Metgesel meen Indiese kos is net
die ding om ’n nat, koue Sondag
mee op te kikker en ons sit af na die
Hazeldean winkelsentrum se Tranna
toe.
Tranna is die naam van die Pakistanse
volkslied, verneem ons later
by die gawe kelner. Die eienaar is ’n
Pakistanie, sê gawe kelner, maar die
kos by Tranna is Noord-Indies, waar
die sjef vandaan kom. Van Punjab af,
om presies te wees, verduidelik hy.
Tranna is by die Hazeldean winkelsentrum
Die binnewerke van Tranna is klein
en intiem. Net ’n paar tafeltjies en ’n
kroegie en vandag ook ’n lang tafel
waar die Sondagse buffet uitgestal
staan. Want Sondag is buffet-dag by
Tranna, maar jy kan ook van die baie
uitgebreide spyskaart
af bestel.
Die buiteplek is
egter ruim en
gerieflik en vandag
is die stoep
met plastiese
mure toegespan
teen die koue.
Ons kry ons sit op
die stoep en bestel
die nodige
om die kleintongetjie
soepel
te hou, terwyl ons
die spyskaart
bestudeer.
Dit bied leesstof
wat jou nogal lank
besig kan hou Jy
kan byvoorbeeld
kies uit 15 vegetariese
disse, tien
soorte brijani, elf
hoendergeregte
en net soveel van
lam, tien broodsoorte
van Indiese
oorsprong, ’n rits
voorgeregte wat kebabs en samoesas
insluit, seekos en platters en
nog alles wat ek vergeet het.
Die Sondag-buffet is vandag eintlik
die logiese keuse en sekerlik die
beste waarde vir geld wat ek in ’n
baie lang tyd raakgeloop het. Vir
R65 kry jy ’n keuse van voorgeregte
soos samoesas, kebabs en chillibites.
En dan kan jy hoenderkerrie,
lamkerrie, hoender masala, hoender
korma of een van twee groentegeregte
kies, of natuurlik ’n ietsie
van elk, sou jy wou.
Alles kom saam met basmatiese rys
en een van daai wonderlike, groot,
plat Indiese brode en alles is natuurlik
goed gekerrie en gekrui. Gawe
kelner vertel ons dat al die buffetgeregte
matig (mild) is. O ja, natuurlik
is daar ook nagereg; ryspoeding
of/en roomys.
Ek het met die sitslag die prys van
?n glas rooiwyn gemeet teen die prys
van ?n bottel en besluit op ?n bottel.
Dit was egter voor ek Tranna se
reuse-wynglase gesien het.
As jy van die spyskaart af bestel, kan
jy kies tussen matig, medium en
sterk. Omdat Metgesel die buffetding
doen, kies ek ’n medium lam
korma van die spyskaart af.
Dit is gedoen in ’n hemelse, ryk
kasjoeneut-en-roomsous. Die vleis is
van ’n goeie gehalte en murgsag.
Die ‘medium’ byt raak, maar nie te
seer nie. Net reg vir ’n koue dag,
eintlik. Die ligte, los basmatiese rys
komplimenteer die korma-lam mooi,
maar dis die Roti-brood saam met
daai kasjoeneutsous wat my trommel
naderhand dik agter die lekker
aan laat raak.
My keuse kos R75 en ek sou op
enige ander dag gedink het dis baie
billik, as dit nou nie was vir die
feesmaal wat Metgesel van die buffet-
tafel af geniet nie. Sy probeer ’n
bietjie van alles en dalk ’n bietjie te
veel van party, maar lekkerder, sê
sy, het sy lanklaas op ’n Sondag of
op enige ander dag geëet. Ek help
haar om haar ryspoeding baas te
raak en besluit om volgende keer
my stouter skoene aan te trek en te
gaan vir die ekstra-sterk. |