Stoomtrein staan oor permitte verval het PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 June 2019 09:32
Untitled Document

Wat het van die stoomtreinritte na Cullinan geword? Die historiese stoomtreine het dié jaar nog nie een rit na Cullinan onderneem nie. Die antwoord het te doen met veiligheidspermitte en glo glad nie met die diefstal van dwarslêers en treinstawe nie.

Friends of the Rail (FOTR), die organisasie wat vir jare lank onder andere die Diamond Express ritte na Cullinan onderneem het, is deur Wonder Steam Trains oorgeneem. ‘n Woordvoerder vir dié organisasie sê dat hulle meestal uit dieselfde vrywilligers wat vir FOTR gewerk het, bestaan en dat hulle ook dieselfde treine en stasie by Hermanstad gebruik.


Die historiese stoomtrein stoom die Cullinan-stasie op 11 Februarie 2018 binne

FOTR was ’n nie-vir-wins-instansie wat sowat 30 jaar gelede deur ‘n groep stoomtreingeesdriftiges begin is. Lede restoureer en onderhou veteraan stoomtreine om as ‘n “lewendige museum” te bedryf.
Die Wonder Steam Trains woordvoerder sê dat kaartjieverkope vir stoomtreinritte in 2019 tydelik gestaak is omdat die organisasie vir TransNet wag om hulle veiligheidspermitte, wat aan die einde van verlede jaar verval het, te hernu.

Sy sê dat dit ‘n ope spoorpermit is en al Wonder Steam Trains se treinritte insluit; nie net die Diamond Express ritte na Cullinan nie. Intussen gebruik die organisasie hulle wagtyd om een of twee lokomotiewe te restoureer. Fondse is egter beperk omdat daar geen treinritte is nie.

Volgens die woordvoerder kan Wonder Steam Trains nie kommentaar lewer oor die diefstal van dwarslêers en treinstawe nie en ook nie oor die impak van die beplande treinbrug oor die nuwe toegangspad na Cullinan nie.


‘n Gerestoureerde lokomotief op Wonder Steam Trains se Hermanstadstasie

Ontspoor
Ongeveer sewe jaar gelede het ‘n stoomtrein net buite Cullinan-stasie ontspoor nadat dwarslêers gesteel is. Die hout-dwarslêers is met beton vervang en daarna het die diefstal van spoorstawe begin.

FOTR se stoomtrein het op 21 Maart 2017 omtrent vier kilometer buite Rayton met 500 passasiers aan boord, ontspoor ná omtrent 160 meter se spoorstawe gesteel is. Van Maart 2017 tot Januarie 2018 het FOTR besoekers met die trein tot op Rayton geneem en het hulle van daar af met busse tot in Cullinan vervoer.


Restourasiewerk word in die wagtyd aan die historiese stoomlokomotiewe gedoen

Ná herstelwerk aan die spoorlyn het die historiese stoomtrein ná bykans ‘n jaar se afwesigheid op 11 Februarie 2018 weer met ‘n vrag toeriste op Cullinan se stasie ingestoom. ‘n Amptelike lintknip-seremonie is gehou om die spoorlyn te open. Jan-Louis Spoelstra van TransNet vragspoor taklyne en erfenis en Elvin Josephus Harris van TransNet het die seremonie bygewoon en gesê dat die spoorlyn herstel is om toerisme te bevorder.

Teen die Bronnie se saktyd kon niemand ‘n aanduiding gee wanneer die veiligheidspermitte hernu gaan word en stoomtreinritte weer gaan begin nie. Die woordvoerder vir Wonder Steam Trains sê dat mense hulle Facebook-blad moet dophou. Sodra die permitte hernu is, sal die skedule vir die jaar se uitstappies daar bekendgemaak word.

 

© 2019 Die/The Bronberger