Oom Paul en oom Wikkelspies PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 25 June 2019 09:30
Untitled Document

So ‘n ent anderkant Rustenburg, effe dieper die Bosveld in, was ‘n spesiale skool, waar Pik Botha se pa die skoolhoof was, vertel Koos Reyneke:

Die Paul Kruger Gedenkskool, of oom Paulskool, soos almal die skooltjie neffens die Selonsrivier genoem het, was in ‘n landelike omgewing omdat meeste van die leerlinge meer aangelê vir plaas- en handewerk as vir papiere en geskrifte was, het Koos vertel.

Dit was ‘n skool vir gewone, goeie Afrikanerkinders wat net minder boekvaardighede as handvaardighede gehad het. Maar, daar was ‘n nuwe wet, dat jy móés skoolgaan tot jy sestien was óf standerd agt geslaag het. Daar was kinders in dié skool wat nog báie ver van standerd agt af was, al moes hulle al skeer. Skoolvakke het goed soos tuinmaak, putgrou en enjins-regmaak ingesluit. Ingels was vir dié wêreld se kinders soos Grieks – net erger.

Máár, omdat Suid-Afrika ‘n Unie geword het, móés die kinders ‘n paar woorde Ingels ken en was Engels, as tweede taal, ‘n verpligte vak, het Koos Reyneke vertel.

Vir skoolafsluiting waar sertifikate, bekers en dinge einde van die jaar uitgedeel word, is Koos se predikantpa, met sy swart pak en wit das, genooi om die verrigtinge te open. Rustenburg se burgemeester, Paul Bodenstein, gedrapeer met goue ketting wat mooi op sy bors rus, het nie afgesteek by die ander spoggerige eregaste in die heel voorste ry, teen die verhoog, langs skoolhoof Botha en sy vrou nie.

Skoolhoof Botha het dié jaar ‘n báie spesiale program laat voorberei. ‘n Stukkie uit Julius Caesar, van William Shakespeare – of Willem Wikkelspies, soos die Bosvelders gesê het, sou deur die kinders opgevoer word – in Ingels natuurlik.

As hoofseun móés ou Herklaas Nel ook ‘n rolletjie kry al was sy Ingels nóg verder agterweë as die karige Ingels van die hoofrolspelers.

Hoofseun Herklaas was daarby ook kort duskant stom en hakkel as dit by dié vreemde taal kom.

Daarom is meer gekonsentreer op die hoofseun se uitrusting as ‘n Romeinse soldaat wat nougeset lyk soos Peter O’Toole se uniform in Masada. Herklaas moet net drie woorde uit sy kop uit leer en verder sy teenwoordigheid met daad en optrede afdwing. Hy sou wild en woes op die verhoog storm en met harde voetval en swaaiende swaard en skild bulder:

“We’ve caught Caesar!”

Dis al. Niks meer nie. Sy reuse gespierde gestalte en Romeinse lyf sal die res doen: Die mense na hulle asems laat snak! Die Boeretannies laat gil, het Koos Reyneke vertel.

Ná Herklaas se dramatiese meesterspel sal die hoofkarakter, vaardiger in Ingels, die sin voltooi en sê: “. . . and we’ve assassinated him!”

Oor en oor is hierdie dramatiese hoogtepunt ingeoefen! Oor en weer oor. Vreesbevange staan hoofseun Herklaas agter die purperrooi verhooggordyn en herhaal en herhaal sy drie woorde – oor en oor. Dis byna sy beurt . . . byna, byna en toe breek die groot oomblik aan.

Herklaas storm op die verhoog soos ‘n reuse Afrikanerbul met swaaiende swaard en skild. En hy sien die mense. Meer mense as wat hy ooit bymekaar gesien het: Deftige mense. Herklaas huiwer. Trek nog meer asem in. Sy borskas wil bars. Die hoofrol-outjie wat ná hom sou praat, is óók al op die verhoog.

“Wief kôôôt Sieser end wie, end wief tjôp’t off his hêd!” bulder Herklaas.

Uit die veld geslaan volg die hoofkarakter wat sou sê “. . . and we’ve assassinated him!” met: “O! O, joe hêv, hêv joe, and now joef buggerd up de hole sjouw!”

Pandemonium! Dit sou nog glad nie die einde van die vertoning gewees het nie, maar dit was, het Koos Reyneke vertel.

 

© 2019 Die/The Bronberger