Sperdatum vir voorbrande op hande PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 25 June 2019 09:25
Untitled Document

Die spertyd om voorbrande op jou grond te maak is 30 Junie. Voorbrande mag net voor 10 vm of na 3 nm gemaak word indien daar geen wind is nie.

Karen Yssel van die Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum sê dat dit teen die wet is om oop vure in die brandseisoen te maak. Sy vra dat die gemeenskap ekstra versigtig moet wees en geen vure moet maak wat weghol-brande kan veroorsaak nie. Die brand van vuilgoed word ook nie toegelaat nie.

Volgens Karen het die Cullinan-distrik verlede jaar skade van R30 miljoen gely in die verlies van weiding, vee, huise en ander skade. “As jy ‘n klein, oop vuurtjie iewers sien wat sonder toesig brand, maak dit asseblief dood,” sê sy. Rapporteer alle veldbrande aan jou gemeenskapsveiligheidsgroep.


Prof Cheryl McCrindle gee raad oor brandstroke om diere te beskerm

Diere
Prof Cheryl McCrindle van Donkerhoek Veeartseny Spreekkamers doen ‘n beroep op hoewe-eienaars om voorbrandstroke voor te berei om hulle diere te beskerm. Sy sê dat haar praktyk jaarliks te doen het met gevalle waar perde en beeste doodbrand omdat hulle nie van veldbrande af kan wegkom nie.

Prof Cheryl sê dat dié brandstroke 30 meter wyd moet wees en dat jy ‘n breër strook moet maak aan die kant waarvandaan die wind gewoonlik waai. Dié stroke kan ook tot reg teen jou heining skoon geploeg word.

Sy sê dat eienaars van perde en beeste ‘n stuk grond op hulle eiendom moet hê waar die gras baie kort gehou word en waarheen die diere aangejaag kan word wanneer daar ‘n veldbrand is.

Prof Cheryl raai alle veeboere aan om ‘n draadknipper aan te skaf sodat heiningdrade geknip kan word in noodgevalle, sodat die diere kan uitkom. Sy raai perde-eienaars aan om die gras rondom hulle stalle baie kort te hou en om veral olifantgras met ‘n hand-bossiekapper kort te hou.

Volgens Prof Cheryl is dit noodsaaklik om twee ingange na stalle te hê sodat perde uitgeneem kan word aan die kant waar dit nie brand nie. Hulle moet verkieslik aan halters wees omdat veral Arabierperde en donkies geneig is om bo-oor ‘n vuur te probeer spring.

Laastens sê Prof Cheryl dat dit ‘n baie goeie belegging is om ‘n waterkar aan te hou. Maak seker dat die sleepwa wat die water dra se wiele altyd styf is en dat die waterpomp werk. As daar ‘n brand is, kan die gebiede rondom die stalle en waar die gras kort gehou is, as voorkomende maatreël natgespuit word.


Die nuwe Welbekend / Boschkop Brand-besigheidbestuurseenheid se kenteken

Wet
Alle grondeienaars het verpligtinge ten opsigte van die maak van voorbrande en aanskaf van brandbestrydingstoerusting. Die verpligtinge is vervat in die Wet op Veld en Bosbrande (Wet 101 van 1998), soos bygewerk. Die wet word deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye toegepas. Dit is in jou belang om aan te sluit by jou plaaslike brandbestrydingsvereniging.

Die Welbekendse Brandbestryding-vereniging (WBBV) was vir baie jare die BBV in ons gebied.

Mettertyd is gebiede so ver as Bronkhorstspruit bygevoeg en die gebied en vereniging het groot en moeilik bestuurbaar geraak.

Die departement se beplanning is om weg te beweeg van plaaslike BBVs in elke gebied en slegs ’n paar BBVs per provinsie toe te laat. Die departement wil ná die brandseisoen een Tswhane-Oos BBV daarstel, wat uit brand-besigheidbestuurseenhede vir elke gebied sal bestaan.


’n Vasgekeerde trop perde is in September 2016 gehelp om van die vlamme op Elandshoek te ontsnap

Besluit
Op die WBBV se vergadering op 23 Mei is besluit om besigheidbestuurseenhede vir Boschkop en Welbekend te vorm. Alhoewel brandbedrywighede nie onder die polisie sorteer nie, is daar besluit om die grense van die twee besigheidbestuurseenhede volgens die grense van die Boschkop- en Welbekend-polisiestasies te trek, met wyke wat belyn is met die GPF-wyke.

Die WBBV bly die brandvereniging in ons gebied tot dit in die Tshwane-Oos BBV inkorporeer word, maar alle administrasie sal van nou af deur die brand-besigheidbestuurseenhede hanteer word.

Die tussentydse bestuurspan is die lede betrokke in elke GPF-wyk of soos aangewys in elke gebied.

Die brandbeampte is Herman van Zyl, 082-421-8043. Administrasie en finansies word gedoen deur Hennie Kieser, 082-450-5921 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Welbekendse Besigheidbestuurseenheid
Wyk 1: Knoppiesfontein: Herman van Zyl, 082-421-8043.
Wyk 2: Tierpoort, Klipkop, Kameelzijnkraal, Kleinzonderhout – Allard Boessenkool, 072-540-7154.
Wyk 3: Stafford Elsworth, 082-969-5954.
Wyk 4: Bashewa, Tierpoort, Grootfontein en Rietvlei View – Piet van der Merwe, 082-888-1358.

Boschkopse Besigheidbestuurseenheid
Donkerhoek en Kleinfontein – Johan van Emmenis, 067-017-6677.
Boschkop – Richard van Zyl, 082-431-9569.
Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort – Nic Woodrow, 082-924-4259.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Alle inligting, insluitend aansluitingsvorms en kontakinligting, is beskikbaar by
http://welbekendfire.org.za. Hou dié webwerf dop vir moontlike veranderings aan die afsnydatum vir voorbrande.

 

© 2019 Die/The Bronberger