Oorlog teen kattekloue verklaar PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 25 June 2019 09:24
Untitled Document

Daar word oorlog gemaak teen katteklourankers in Faerie Glen Natuurreservaat. Vyf ‘katteklourankerdames’ het weeklikse Vrydag-sessies om dié kategorie-een indringerranker in die reservaat uit te wis.

Die katteklouranker, Dolichandra unguis-cati, is ’n vinnig groeiende klimplant, wat vreemd genoeg in die jakaranda-familie val. Die plant is inheems aan die tropiese droëwoud van Sentraal-Amerika, Suid-Amerika en die Karibiese Eilande.

’n Biologiese beheerprogram teen katteklourankers is in 1996 deur die Landbounavorsingsraad se Plantbeskermingsnavorsingsinstituut ingestel en word in samewerking met die Departement van Omgewingsake se Werk vir Waterprogram onderhou. Tot dusver het dié program sewe potensiële insekbiokontrolemiddels ondersoek en vier in Suid-Afrika vrygestel.


Margot Graham, links, en Jenny Bester, regs, is twee van die vyf ‘katteklourankerdames’ wat ’n volgehoue stryd teen dié kategorie een indringer in die Faerie Glen Natuurreservaat voer
Foto: VFGNR

Kloue
Die mees algemene manier om dié ranker uit te roei is om hom met die hand uit te kap, wat ‘n uiters moeilike taak is. Die plant het vergroeide steunblare – klein gehaakte rankies, wat kompleet nes kloue lyk, en aan bome vasklou. Dit is dié ‘kloue’ wat die plant sy naam gegee het. Die stingels is houtagtig en kan tot 20 meter bereik.

Katteklou is as ‘n ornamentele ranker die land ingebring omdat hy mooi geel, trompetvormige blomme in die lente het en so vinnig groei. Die ranker sal binne ‘n japtrap ‘n heining vol geel blomme vorm of teen onooglike mure opklim. Die blomme het ’n deursnee van 4 cm tot 5 cm en kan alleen of in groepe van twee of drie voorkom.

Die katteklouranker neem inheemse plante en bome oor en versmoor hulle. As daar niks is om teen op te klim nie, groei individuele stamme grondlangs en veroorsaak ‘n ondeurdringbare mat wat saadontkieming van inheemse plante verhoed.

Lang primêre wortels strek onder die grondoppervlak en produseer groot knolle van 40 cm tot 50 cm lank. Die vrugte is bruin afgeplatte kapsules van 25 cm tot 95 cm lank. Elke kapsule bevat 100 tot 200 sade.


Al klouend teen ‘n boomstam op
Foto: Wikipedia

Genees
Tog word die katteklouranker baie hoog geag in Suid-Amerika, waar hy inheems is. Inwoners gebruik sy wortels en blare al eeue lank as ‘n geneesmiddel vir verskeie siektes, veral vir rumatiek en spysverteringskwessies soos prikkelbaredermsindroom en maagswere. Suid-Amerikaners glo dat dié plant die ingewande ondersteun omdat dit die spysverteringskanaal skoonmaak en goeie dermflora bevorder.

Katteklouranker word daar as ‘n antivirale krui beskou, wat die immuunstelsel ‘n hupstoot gee en ‘n mens teen infeksies beskerm. Hulle sê ook dat hy ‘n kragtige antioksidant is en anti-inflammatoriese en anti-mutageniese uitwerking het. Daarom word hy ook gebruik in die behandeling van allergieë, asma, diabetes, chroniese moegheid, aambeie en om bloeddruk af te bring.


Die mooi geel, trompetvormige blomme
Foto: Wikipedia

Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat se volgende amptelike uitroeisessie van uitheemse indringers is op Saterdag 20 Julie van 8 vm tot 11 vm. Deelnemers ontmoet mekaar op die grasperk voor die ingangsgebou. Neem jou eie snoeiskêr, handsagie, handskoene, hoed en water saam.

As jy beplan om aan dié sessie deel te neem, stuur ‘n e-pos of SMS na voorsitter, Louise Kritzinger: 072-275-0614 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger