Steyn sterk goed aan ná ongeluk wat gemeenskap aangryp PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 25 June 2019 09:19
Untitled Document

Die 16-jarige Steyn Steenberg van Boschkop sterk goed aan by ‘n rehabilitasiesentrum ná ‘n frats veldmotorfietsongeluk op Moedersdag. Steyn het sy linkerbeen in dié ongeluk verloor.


Steyn Steenberg in Unitas se intensiewe sorgeenheid in Mei
Foto’s: ‘Steyn se storie’

Die ongeluk was op Sondag12 Mei toe Steyn omtrent een kilometer vanaf Kitty Hawk met sy motorfiets teen ‘n staalversperring gebots het. ‘Steyn se storie’, die naam van ‘n Facebook-blad wat sy ouers, Christa en Jacques Steenberg, ná die ongeluk geskep het, vertel die verhaal van hoe die gemeenskap, Steyn se skool, Hoërskool Garsfontein, en die NG Kerk Tygerpoort die gesin bygestaan het.

Jacques vertel dat ‘n lid van die gemeenskap, Jenny, op Steyn afgekom het ná die ongeluk. Steyn was toe nog by sy volle bewussyn en kon sy pa se nommer vir haar gee. Toe sy ouers op die toneel aankom, het hulle eers net die ooglopende beserings gesien.

“Ons het so rukkie later eers die handdoek van sy been opgetel en toe geskok gesien hoe erg die been beseer is. Die staalreling het sy linkerbeen amper heeltemal onder die knieg afgesny.”


Steyn is op 25 Mei uit die intensiewe sorgeenheid na die hoësorg-eenheid geskuif en sy vriende kon uiteindelik met hulle Steyn T-hempies aan gaan kuier

Paramedici het so 30 minute later opgedaag, morfien gespuit, sy been gespalk en ’n drup opgesit. ’n Noodhelikopter was nie beskikbaar nie en Steyn is met ‘n ambulans Unitas toe, waar hy dadelik aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel is omdat altwee sy longe platgeval het as ‘n gevolg van gebreekte ribbes en impak op sy borskas.

Al drie hoofslagare in Steyn se linkerbeen is met die ongeluk afgesny. Hy het sy bewussyn verloor en moes onmiddellik bloed begin kry. ’n Noodroep is na die gemeenskap uitgestuur. “Dit was asemrowend hoe die gemeenskap gehoor gegee het aan ons seun se nood en gretig in rye gaan staan het om bloed te skenk,” skryf Jacques. “Ons is oorval deur mense wat direk aan hom wou skenk en verskeie het die intensiewe sorgeenheid direk gebel.”


Akteur Pierre Breytenbach voor in die ry mense wat nog voor oopmaaktyd by ’n bloedskenkingstak gewag het om bloed vir Steyn te skenk

Terugvoer van SANBS Atterbury was dat daar daardie dag 110 eenhede bloed geskenk is en dit het nie eers ander depots ingesluit nie. Dié bloedskenkingstak se daaglikse teiken is 35 eenhede bloed.
Toe Steyn by die hospitaal aangekom het moes hy eers ’n volledige skandering kry voor hulle hom teater toe kon vat. Dié skandering het ook ’n ernstige fraktuur van die bekken, bloeding op die milt en ’n sny in die linker nier gewys, behalwe vir sy gebreekte linker-gewrig.

Steyn is teater toe geneem en Jacques en Christa moes ná die tyd hoor dat hy twee keer ingegee het en dat die dokters twee keer gesukkel het om hom te laat herleef. Die span het glo omtrent 30 minute gesukkel met resussitasie.


Steyn op 25 Mei saam met sy ma Christa, pa Jacques en sy sussie, die 14-jarige Karla, toe hy vir die eerste keer in twee weke uit intensiewe sorg kon gaan

Die besluit is geneem om Steyn se linkerbeen te amputeer omdat sy toestand so swak was dat hy waarskynlik nie ’n drie tot vier ure operasie om die slagare te heg, sou oorleef nie. Die been is met minimum narkose bo die knieg afgesit en Steyn moes net met dié proses ses eenhede bloed ontvang.

Op 15 Mei het Steyn ‘n opvolg-operasie gekry om sy bekkenbeen te heg en die amputasie aan sy been af te rond. Op 19 Mei is die pype wat Steyn laat asemhaal het, verwyder en hy het self begin asemhaal.


Steyn en Basjan met Steyn se eerste ‘naweekpas’ op 1 en 2 Junie

Toe hy onder verdowing uitkom het hy gesukkel om te sluk of te praat. Sy ouers het aanvanklik gedink dat dit veroorsaak is deur die intubasie-pype, maar die dokters het gesê dit lyk of hy ligte beroertes in twee areas van die brein gehad het.

Die neuroloog het gesê dat dié beroertes in ‘n area van die brein was wat gewoonlik goed herstel. Hy was ook bekommerd oor Steyn se trae gesigspiere en sy visie wat swak is aan die linkerkant.

Hy het arbeidsterapie, fisioterapie en spraakterapie begin kry en het ná ‘n rukkie met ‘n loopring, en toe met krukke begin regkom. Steyn is op 25 Mei uit die intensiewe sorgeenheid van Unitas na die hoësorg-eenheid geskuif.


Gemeenskapslede skenk bloed vir Steyn

Hy is op 30 Mei per ambulans oorgeplaas na ‘n rehabilitasiesentrum waar hy geëvalueer is en sy ouers was verheug om te hoor dat Steyn in ’n beter toestand was as wat die sentrum verwag het.

Op 31 Mei het Steyn se dokter vir hom ‘n ‘naweekpas’ gegee om saam met sy gesin by die huis te gaan kuier. “Ek kan nie die gevoel in woorde beskryf hoe verlig ons is en hoe lekker dit is om hom ‘n bietjie by die hospitaal te kon ‘leen’ nie,” het Jacques gesê.

Jacques het gesê dat Steyn goed eet en dat sy spraak verbeter soos die swelling op die brein sak. Die neuroloog het hulle laat weet dat die skanderings wat die dag voor Steyn se ontslag gedoen is, gewys het dat niks vererger het nie. Daar was nog kommer oor die wyehoek visie in sy linkeroog, maar die verwagting was dat alles behoort te herstel.


Die foto is op 5 Junie geneem. Steyn is saam met drie van sy onderwysers: Rozanne Marais, Wolla Prinsloo en Delene van Loggenberg

Christa en Jacques het op 5 Junie hulle eerste gesinsessie met die mediese span gehad, wat ‘n dokter, fisio-, spraak-, arbeidsterapeut, maatskaplike werkster en sielkundige insluit.

Die verwagting was dat Steyn ses weke altesaam in die rehabilitasiesentrum moet deurbring, maar dit moet weekliks by die mediese fonds gemotiveer word.

Teen die Bronnie se saktyd het Jacques gesê dat Steyn se visie-probleem nog nie beter is nie, maar dat hy goed vorder met sy oefening in die rehabilitasiesentrum. Weens die slegte breek van sy linker-gewrig het Steyn ook nog nie gevoel in daardie hand se duim, wys- en middel-vinger gehad nie.


Die album wat leerlinge van Hoërskool Garsfontein vir Steyn gemaak het

Jacques het vertel dat hulle in gesprek is met ortotiste wat Steyn se prostetiese been kan maak. In dié stadium lyk dit of die mediese fonds net die staat se voorgeskrewe minimum gaan bydra en Jacques sê dat daar ‘n redelike tekort aan fondse gaan wees, veral omdat daar nie iets soos ‘n ‘veeldoelige’ been is nie. Steyn gaan waarskynlik nou ’n ‘loop-been’ moet kry en later die jaar ’n ‘sport-been’.
Hoërskool Garsfontein se personeel en leerlinge beplan fondsinsamelings om Steyn te help.

As jy deel van insamelings wil wees, hou ‘Steyn se storie’ op Facebook dop vir toekomstige aankondigings. Jacques sê dat dié blad aanvanklik bedoel is as ‘n dagboek vir Steyn, om te lees wanneer hy beter is. Dit het egter ontwikkel in ’n verhaal van ’n gemeenskap wat bymekaargekom het en uitgereik het na ’n jong seun en sy gesin wat hulle ondersteuning nodig het

 

© 2019 Die/The Bronberger