Welbekend se paaie lei na groot verliese PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 June 2019 09:18
Untitled Document

Die inwoners van Welbekend Sektor Een het ‘n dringende versoek aan die Gautengse premier, David Makhura, gerig om te help met die haglike toestand van hulle paaie.

Verlede maand het ons berig dat pendelaars ‘n versoekskrif onderteken het oor ‘n spesifieke Witpoort-grondpad, nommer D2761. Dié is maar een van vele paaie in die Welbekend-distrik wat dringend herstel moet word.


‘n Vragmotor word uit die watergat gesleep
Foto’s: Verskaf

Inwoners sê dat instandhouding van die paaie sporadies is, wat na ernstige agteruitgang gelei het. Van die sake wat aandag moet geniet is slaggate en dongas wat deur watererosie gevorm is, stormwater-dreineringspype wat verstop is, verouderde of vermiste padtekens en die vorming van sinkplaatpaaie.

Volgens die versoekskrif is daar baie ernstige ongelukke, sommige noodlottig, waar nooddienste en helikopters, sowel as voertuie van owerhede en patrollie-lede nodig is. Al dié dienste spandeer tussen twee tot ses ure by so ‘n ongeluk. Die paaie se toestand beïnvloed die veiligheid van nooddienstepersoneel en die vervoer van pasiënte.


Twee vragmotors probeer verby die watergat kom

Die plase in dié gebied word grootliks vir kommersiële boerderydoeleindes gebruik en boere het dié oesseisoen probleme ondervind toe kontrakteurs nie bereid was om op dié paaie te ry nie omdat hulle vragmotors beskadig word.

Die paaie se toestand beïnvloed ook die vervoer van vee en pluimvee en die suiwelbedryf, waar aankopers nie die paaie wil gebruik nie. Dié faktore het ‘n groot ekonomiese impak op die boere en kontrakteurs.


‘n Vragmotor sit in die watergat vas

Paaie waaroor gekla word is D1316 (van P6-1 tot R50); D75 (van D2761 tot D1316); D2761 (van P6-1 tot D1316); D38 (van D1316 tot R42); die aansluitende pad tussen D1316 en D2763 oor Boschkop; D2763; paaie na kleinhoewes op Yzervarkfontein; aansluitende paaie tussen D2761 en P6-1 tussen Vlakfontein en Witpoort; en tussen Onbekend en Kameelzynkraal.

Een van die grootste probleme is op D1316, tussen D2761 en D38, waar ‘n reuse watergat gevorm het omdat stormwaterpype geblokkeer is. Selfs vragmotors val gereeld in dié gat vas.


Daar is geen aanduiding dat ‘n stopstraat by dié besige kruising met die Delmaspad volg nie

Die tweede groot probleem is by die kruising van die R50 Delmaspad en D1316. Die Delmaspad is ‘n besige roete en die enigste padtekens op D1316/P67-1 wat aandui dat daar ‘n stopstraat volg, is reg by die kruising. Daar was reeds twee ernstige ongelukke waar mediese helikopters die pasiënte moes gaan oplaai.

 

© 2019 Die/The Bronberger