Plaaslike vullisterrein beste in Pretoria PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 June 2019 09:18
Untitled Document

Die vullisterrein op Mooiplaats het die beste presteer van alle sulke terreine in die groter Pretoria-gebied. Dié vullisterrein, wat deur The Waste Group bedryf word, het 96% behaal.

AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hulle nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet. Slegs twee uit sewe vullisterreine wat in die Groter Pretoria-gebied geoudit is, het nie aan nasionale standaarde voldoen nie.

’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen. Die twee terreine wat dit nié gemaak het nie was Onderstepoort met 76% en Soshanguve met 78%. Altwee dié vullisterreine word deur Stad Tshwane Metro bedryf.


Hatherley-vullisterrein
Foto: AfriForum

Bon Accord, wat ook deur The Waste Group bedryf word, volg met 94% ná Mooiplaats. Daarná is dit drie van Stad Tshwane Metro se terreine: Ga-Rankuwa met 92%, Hatherley met 88% en Bronkhorstspruit met 84%.

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos omheining, toegangsbeheer, brande, mediese afval en rehabilitasie in.

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hulle gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke gebied wil verbeter.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

 

© 2019 Die/The Bronberger