Ontploffing laat groot gebied kragloos PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 June 2019 09:16
Untitled Document

Groot gedeeltes van Pretoria, veral die oostelike deel, was sonder elektrisiteit ná ‘n ontploffing vroegoggend op 4 Junie by die Njala-substasie op die Delmaspad, langs die Rietvleidam.

Die munisipaliteit het aanvanklik gesê dat die krag af is omdat dit uitgeskop is by dié substasie. Daar is later gesê dat ‘n skakelaar gebrand het. ‘n Video wat deur Fritz Vermaak geneem is, wys egter dat daar ‘n ontploffing by dié substasie was. Dié YouTube video is binne een dag meer as 27 000 keer gekyk.


’n Skermgreep uit die video wat Fritz Vermaak van die ontploffing geneem het

Die gebiede wat kragloos was ná die ontploffing het ingesluit: Moreletapark, Mooikloof, Zwavelpoort, Rietfontein, Wapdrand, Erasmuskloof, Faerie Glen,Waltloo, Mamelodi, Eersterus, Willows, Pumulani, Pyramid, Koedoespoort, Highlands, Lynnwood, Brooklyn, Villeria, Wingate Park, Aries, Kloofsig, Lyttelton, De Hoewes, Lydiana, Willow Acres, Silverton, Murrayfield, Wingate, Mirage en Waverley.

Reuse verkeersknope het ontwikkel toe mense dié Dinsdagoggend probeer werk toe gaan het. Burgemeester Stevens Mokgalapa het die substasie dieselfde oggend besoek om te kyk hoe die tegnici vorder.


Die rookwolk in die lug ná die ontploffing

Teen 1 nm het die metro aangekondig dat die Njala-substasie weer werk en dat voorstede aangeskakel word. Mense is gevra om toestelle af te skakel omdat die stelsel oorlaai was en aanhou uitskop het wanneer die krag aangeskakel word.

Die Njala-substasie het op 12 Junie glo weer ‘uitgeskop’ en die krag was af in die hele ooste van Pretoria, asook dele van die noordelike voorstede, die Moot en Centurion. Volgens die stadsraad is die probleem veroorsaak deur ‘n fout op die toevoerkabels vanaf ‘n Eskom-substasie na die Njala-substasie.

 

© 2019 Die/The Bronberger