Geheime oor Van Gogh-broer se selfmoord in SA PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 22 June 2009 15:58
Untitled Document

Dat Vincent van Gogh se jongste broer, Cornelis, in die Anglo- Boere-oorlog aan die Boere se kant geveg het, is iets wat min mense weet. Dat hy in dié oorlog gesterf het, is iets wat jy op ’n gedenkbord in Pretoria, waar hy gewoon het, kan gaan raaklees. Maar dat hy, nes sy beroemde broer, selfmoord gepleeg het, is iets wat die amptelike verslae van daardie tyd eers nie bekend wou maak nie.

Min het die Nederlanders, Theodorus van Gogh en sy vrou Anna Cornelia (néé Carbentus), besef dat die lot van hul gesinnetjie eendag wêreldnuus sou wees. Hulle sou nie kon raai dat hul oudste seun, Vincent Willem van Gogh, so ’n bekende kunstenaar sou word nie. Nog minder sou hul kon raai dat al drie hulle seuns voortydig sou sterf.


Cor van Gogh
Foto?s: Wikipedia

?n Selfportret deur Vincent van Gogh
.

Sterf
Ouboet Vincent het op 27 Julie 1890, in die ouderdom van 37 jaar, die veld ingeloop en homself met ’n rewolwer in die bors geskiet. Hy het nie besef dat sy wond dodelik was nie en het gaan terug klim in die bed in die herberg, L’Auberge Ravoux, in Auvers-sur-Oise, Frankryk. Hy is twee dae later in sy bed dood. Ouboet Theo, die kunshandelaar, was platgeslaan deur sy broer se selfmoord. Hy het sifilis opgedoen en is knap na Vincent se dood in ’n hospitaal opgeneem waar hy ses maande later op 25 Januarie 1891 in Utrecht dood is. In 1914 is Theo se oorskot verskuif en langs Vincent begrawe.


Die van Gogh gesin met pa Theodorus en ma Annna Cornelia bo. Die kinders se foto’s is gerangskik met die oudste kind links en die jongste regs. Links is die beroemde Vincent, en dan Anna, Theo, Elisabetha, Willemina en Cor.

Kleinboet Cor is in die Anglo-Boereoorlog dood. Sy sterftedatum word in verskillende bronne as 12, 14 of 24 April 1900 aangedui. Daar is ook verskillende verklarings oor die oorsaak van sy dood.

Cor
Cor het in 1889 op 22-jarige ouderdom na die Zuid-Afrikaansche Republiek geïmmigreer vanuit Nederland. Voor Cor se vertrek het hy eers ’n besoek aan sy broer Theo in Parys afgelê. Theo het vir Cor ’n paar van Vincent se skilderye as geskenk gegee. Later het Cor uit Suid Afrika geskryf hoe die skilderye sy kamer ophelder.

Cor het aanvanklik naby Germiston op ’n myn gewerk. Volgens sekere bronne was dit die Cornucopia-myn op Elandsfontein. Hy het by die Nederlansche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschapij (NZASM) aangesluit waar hy as tekenaar gewerk het en was vermoedelik betrokke by die aanleg van die Delagoabaai-spoorlyn.


?n NZASM-trein by die Johannesburgse stasie, kort na die opening in 1892. Dit is di soort lokomotiewe waaraan Cor gewerk het.
Foto: Ted Polet

Volgens Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief is Cor in Februarie 1898 met Anna Cathrine Fuchs getroud. Hulle het in Markstraat in Pretoria gewoon, maar het in 1899Pretorius- en Schoemanstaat. Nou word sy beroep as ingenieur vir ZASM aangegee.

Cor en Anna se huwelik was nie gelukkig nie en agt maande na hul troue het Cor reeds ’n testament opgestel waarin hy sy moeder in Nederland benoem as sy enigste erfgenaam.

Veg
Toe die Anglo-Boere-oorlog uitbreek het Cor aan die Boere se kant gaan veg. Hy het by die Vrystaatse vrywillegerskorps onder kommandant JSF Blignaut aangesluit. Cor is egter in Maart 1900 naby Kroonstad gevangene geneem deur die Britse magte. As krygsgevangene het hy baie siek geword en is oorgeplaas na ’n militêre hospitaal by Brandfort in die Vrystaat.


?n Poskaart van die okkupasie van Brandfort rondom die tyd wat Cor daar as krygsgevangene in die hospitaal dood is
Poskaart: Underwood

Dit is daar waar hy in April gesterf het. Die Transvaalse afdeling van die Rooi Kruis het ’n verklaring uitgereik dat hy homself per ongeluk geskiet het. Die eerste verklaring oor sy dood is vir ’n lang ruk stil gehou. Volgens dié verklaring word die doodsoorsaak as “zelfmoord gedurende koorts” aangegee.

Gedenk
Cor se naam verskyn egter op gedenkborde in Pretoria en Bloemfontein as een van die 78 Nederlanders wat hul lewens in die Anglo-Boere-oorlog verloor het.

“Ter Herinnering aan de Nederlanders en Oud Nederlanders gevallen voor de Republieken in den Oorlog 1899-1902”, lui die borde. ’n Mens kan vandag nog Cor se naam gaan soek op die muurbord aan die oostelike gewel van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Du Toitstraat. ’n Duplikaat van dié bord is in die voorportaal van die Tweetoringkerk in Bloemfontein.


Vincent en Theo se grafte by Auvers-sur-Oise, Frankryk

Hof
Ongeveer vier jaar na Cor se dood het sy weduwee sy testament in die hof beveg. Uit die 1904 hofstukke blyk dit dat sy hom “uit eie vrye wil voor sy dood verlaat het, en al sy meubels geneem het”.

Wat van die Vincent van Gogh skilderye geword het wat in Cor en Anna se Pretoria-huis gehang het, weet niemand nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger