Hier volg die nuus Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 25 June 2019 11:15
Untitled Document

Soms neig die toedrag van sake in ons land – en meer bepaald ook in ons gebied – om ‘n mens negatief en selfs effe moedeloos en swartgallig te stem. Maar aan die keerkant van sake is hierdie 200ste uitgawe van die Bronnie deurspek met stories wat inspireer, hoop en vertroue gee en jou sommer net goed kan laat voel oor mense wat omgee, vasbyt, ‘n positiewe verskil maak en as voorbeeld vir baie kan dien.

Ons vertel op bladsy 10 die storie van ‘n Zwavelpoortse vrou wat weens vreesaanjaende omstandighede alles waaroor sy gedroom het, verloor het. Met die onbaatsugtige bystand van mense uit haar gebied het die hawelose vrou opgestaan, moue opgerol en begin om uitsonderlike brode te bak. Vandag kan Lindie Theron by verskeie markte gesien word, waar haar produkte baie gesog is. Al wat die gemeenskapslede wat haar gehelp het in ruil wil hê, sê Lindie, is dat sy op haar beurt, waar dit moontlik is, iemand anders sal help.

Toe die 16-jarige Steyn Steenberg van Boschkop in Mei baie ernstig in ‘n motorfietsongeluk beseer is en sy been verloor het, het ‘Steyn se storie’ die gemeenskap aangegryp en is hulp en bystand van oral aangebied en ontvang. Mense uit die omgewing het tou gestaan om lewensnodige bloed te skenk en sy skool, Hoërskool Garsfontein, en kerk, NG-Tygerpoort, het van meet af betrokke geraak om te help waar hulle kon. Steyn sterk intussen mooi aan en bystand duur voort om byvoorbeeld die nodige hulpmiddels, behandeling en prostese moontlik te maak. Steyn se storie is op bladsy 12.

Vyf geesdriftige omgeevroue wat die omgewing na aan die hart dra, het oorlog verklaar teen katteklourankers wat die Bronberg in Faerie Glen besoedel. Dié ongewenste indringerplant word met gereelde uitroeisessies letterlik hand-en-tand beveg om die natuur, soos hy bedoel is om te wees, te herstel. Die berig kan op bladsy 15 gelees word. Toevallig adverteer twee apteke se mense op dieselfde blad dat hulle oorlog teen vullis verklaar en gereelde skoonmaak-aksies word in hulle omgewing gehou.

Op bladsy 21 berig ons oor ‘n groep diereliefhebbers wat hulle terapie-honde na ‘n plaaslike tehuis vir gestremdes neem om die onvoorwaardelike liefde van ‘n troetelhond met dié spesiale behoeftiges te deel. Ook op dié blad deel ons die goeie nuus dat die stadsraad, ná volgehoue druk van burgerregte-groepe, sy omstrede ‘reinigingsheffing’ herroep het. 

‘n Vullisterrein in private besit op Mooiplaats is aangewys as die beste en doeltreffendste van sy soort in die ganse gebied van die Pretoriase metroraad. Hopelik kan dit dien as inspirasie vir mense wat steeds hulle rommel oral in ons mooi gebied wegsmyt.

Die betrokkenheid en onbaatsugtigheid van die spesiale gemeenskap wat die Bronnie se reikgebied bewoon, kom deurlopend in dié uitgawe na vore: Byeenkomste ten bate van liefdadigheid, mense wat baie jare reeds aktief betrokke is by brandvoorkoming en -bestryding, ‘n groepie wat maandeliks iets spesiaals vir hulle omgewing se senior burgers doen en oudstryders wat gesneuwelde soldate herdenk, spreek verder van die positiewe gees wat in ons omgewing heers.

 

© 2024 Die/The Bronberger