Cullinan-inwoners samel kos op ?n drafstap in PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 22 June 2009 15:56
Untitled Document

Elsabé Maré

Op ’n vrolike herfsoggend het 118 deelnemers in Cullinan aangetree vir ’n wedloop om kos en ander voorraad vir liefdadigheid in te samel.

Die Christelike Maatskaplike Raad van Cullinan in samewerking met die Cullinan SAPD, Cullinan Info en Lemon Tree Restaurant het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om deel te neem en skenkings te maak. Groepe kon mekaar in goeie gees uitdaag om deel te neem, wat Petra Diamond Mine en Belton Mining toe ook gedoen het.


Supt. Stephen (?Big Show?) McIntosh, die nuwe stasiebevelvoerder van Cullinan-polisiestasie, trek die skoot af vir die begin van die wedloop

Die deelnemers het van Cullinan Info onder in Oaklaan weggespring op ’n 5 km of 10 km roete, uitgelê deur die skilderagtige dorpie. Kaartjies is na afloop van die wedloop getrek en deelnemers was aangenaam verras met hul geskenke geborg deur die gemeenskap. Absa het R20 000 geborg, Pep Stores het 100 komberse geskenk en Cullinan Info was vol blikkieskos wat deelnemers bygedra het.

Stalletjies het heelwat te kope aangebied en uitstallings is gehou; troeteldiere was gewild en die slange het baie verras. Varsity College Menlyn se groep vrywilligers het oral gehelp.


Bruno, die langhaar Duitse herdershond, het almal se verbeelding aangegryp. Hier is hy by sy hanteerder, Mack Ntsoane

Die SAPD se honde-eenheid van Pretoria-Wes, onder leiding van inspekteur Swanepoel was ook daar. Hy het verduidelik dat honde vir sekere eienskappe getoets word en dan daarvolgens opgelei word as spoorsnyers of om dwelms en springstof uit te snuif.

Volgens Marie Ziervogel, een van die organiseerders, was die dag ’n reuse sukses en bewys dat die gemeenskap as ’n span kan saamwerk.


Deelnemers waai, maar is haastig om klaar te maak

 

© 2019 Die/The Bronberger