Bronbergse boom besit glo bose magte PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Een van die bome wat bo-op die Bronberg groei het bose magte, lui ‘n tradisionele Afrika-taboe. Jy mag nie sy hout gebruik om vuur te maak nie en as ‘n koei van dié boom se blare vreet, sal sy net bulkalwers kry.

Tog is dit nie taboe om die mispel se wortels, blare en takkies as medisyne te gebruik nie. ‘n Aftreksel van sy wortels en blare behandel malaria en werk blykbaar ook vir borsaandoenings soos hoes en longontsteking. Dit word gebruik as ‘n purgeermiddel, vir blaasprobleme, maagpyn, tandpyn, menstruale probleme en om omlope te behandel.

Kinders wat ly aan geswolle ledemate of naeltjie-ontsteking word met ‘n mengsel van fyngestampte mispelblare en klein takkies gewas. ‘n Aftreksel wat van die boom se wortels gemaak word, help glo as ‘n slang jou gepik het.

Fyngestampte blare word op beeste en honde se bosluisbytplekke gepak om dit gouer te laat genees.


Die wilde mispel
Foto’s: Wikipedia

Naam
Die wilde mispel of grootmispel, Vangueria infausta, is ‘n lid van die katjiepiering-familie. Sy generiese naam, Vangueria, kom van die Madagassiese naam vir die mispel se familielid, Vangueria edulis: voa vanguer. Die Latynse woord ‘infausta’ beteken ‘ongelukkig’ en verwys na die towerkragte wat aan die boom toegedig word.

Die mispel se vrugte word meestal rou geëet, maar in sommige landsdele word dit as gedroogde vrugte geberg om in tye van voedselskaarste te eet. Die vrugte kan ook gedistilleer word om mampoer of asyn te maak.

As die vrugte gis, word daar bier van gemaak. Blykbaar maak die vrugtemoes, gemeng met ‘n bietjie water en suiker, ‘n aanvaarbare soet-suur vervanging vir appelsap. Die vrugte kan gebruik word om geur aan kos te verleen as ‘n mens die saad en vel verwyder. Dit word tradisioneel gebruik om geur aan pap te verleen.

Elke 100 g vars vrugte bevat 3,7 g vitamiene C, 1,4 g proteïene, 28 g stysel, 28 mg natrium,
0,61 mg nikotiensuur en hoë vlakke kalsium en magnesium. Die vrug se saad kan selfs gerooster word en het ‘n heerlike neutagtige smaak.

Terwyl dit aan die boom is, word die vrugte deur eekhorings, nagapies, blouape en bobbejane gevreet. Bosvarke vreet die vrugte wat van die boom afgeval het.

Gehard
Die mispel is ‘n geharde en droogte-bestande boom wat ook gematigde koue kan weerstaan. Hy is bladwisselend en sy hoogte wissel van drie tot sewe meter, afhangende van waar hy geplant is.

Hy het gewoonlik meer as een stam en die bas is gryserig tot geelbruin. Dit is glad en dop in oneweredige smal strokies af.

Die jong takke het sagte, fluweelagtige haartjies. Die ovaalvormige enkelblare is liggroen en bedek met sagte haartjies as hulle jonk is. Wanneer die blare ouer word, voel hulle grof en dit lyk asof hulle so half draai.


Vrug

Bloeisels
Sagte bloeisels word saam met die nuwe blare van September tot Oktober gevorm. Dié bloeisels word later klein groenerige wit tot geel blommetjies wat in trosse op die sytakke voorkom.

Die vrugte van ongeveer 3,5 cm in deursnee word van Januarie tot April gedra. Hulle is ‘n glansige donkergroen kleur as hulle jonk is en word oranje-pers as hulle ryp word. Die oorblyfsels van die ou blombasis kan aan die punt van die vrug gesien word. Daar is drie tot vyf sade in elke vrug.

Groei
Jy kan dié boom vanaf saad of stiggies kweek, maar ‘n mispel se saad vat lank om te ontkiem. Om seker te maak dat die saad ontkiem moet die buitenste vel en die vrugtemoes verwyder word. Die saad moet oornag geweek word en die volgende oggend in ‘n goed gedreineerde, sanderige saailingmengsel geplant word.

Die saailinge kan in groter sakke uitgeplant word as hulle die drie-blaar stadium bereik en kan vir ten minste ‘n jaar daarin gehou word voor hulle in die grond geplant word. Hulle groei redelik stadig.

 

© 2019 Die/The Bronberger