Byvreter speel gou klaar met angels PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Al ooit gewonder hoe ‘n byvreter dit regkry om ‘n by in te sluk? Hy haal glo eers die by se angel uit deur hom herhaaldelik op ‘n harde oppervlakte te kap.

Die Europese byvreter, Merops apiaster, is ’n algemene somerbesoeker in ons kontrei. Dié voëltjies kan tot 250 bye ‘n dag vreet, maar hulle impak op byebevolkings is redelik klein omdat hulle nooit ‘n byekorf besoek nie. Hulle vreet glo net so een persent van werkerbye in die gebied waar hulle voorkom.

Dié voëltjies vreet ook ander insekte soos perdebye en naaldekokers.

Die Europese byvreter is in 1758 deur die Sweedse natuurkundige, Carl Linnaeus, beskryf. Sy genus naam, Merops, is die antieke Griekse woord vir ‘byvreter’ en apiaster is ’n Latynse woord wat ook ‘byvreter’ beteken van apis, wat ‘by’ beteken.


Die Europese byvreter wyfie, links, wag vir die by wat die mannetjie vir haar vang
Foto: Wikipedia

Dié is ‘n klein slanke voëltjie met helder kleure. Hy is ongeveer 26 tot 29 cm lank, wat die twee verlengde sentrale stertvere insluit, en het ‘n geel keel, blou bors, bruin bo-rug en geel-laer rug. Die vlerke is groen, blou en bruin en die voël het ’n swart bek.

Die geslagte lyk eners, maar wyfies neig om groener eerder as goue vere op die skouers te hê. Buite die broeiseisoen is hulle kleure baie dowwer met ‘n blou-groen rug en geen verlengde stertvere nie.

Dié byvreters bly in swerms en maak nes in sandbanke, verkieslik naby rivieroewers. Met die hofmakery voer die mannetjie die wyfie met die groter prooi wat hy gevang het en hou die kleiner prooi vir homself.

Die paartjie grou lang nes-tonnels in oewers of sandbanke uit. Dié tonnels is gewoonlik omtrent een meter diep en eindig in die nesvertrek. Die tonnels kan hergebruik word, maar die meeste paartjies grou elke jaar ‘n nuwe tonnel.

Die wyfie lê vier tot sewe wit eiers met twee-dag tussenposes. Die eiers broei ná 19 tot 21 dae uit. Die ouers neem beurte om op die nes te sit en in omtrent ‘n vyfde van gevalle is daar nes-helpers om na die kleintjies om te sien. Dié helpers is gewoonlik kuikens uit ‘n vorige seisoen.

Die kuikens verlaat die nes as hulle tussen 21 en 32 dae oud is. Die ouers voer hulle nog vir ‘n ruk daarna terwyl hulle die spesiale kunsies aangeleer word om ‘n by te vang en sy angel te verwyder.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger