Winterfees met witwarm vuurwater PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Beleef boeregasvryheid op sy beste by die Mampoerfees op Saterdag 1 Junie by die Ditsong Willem Prinsloo Landboumuseum. Die fees is van 9 vm tot 5 nm en mampoer en likeurs kan geproe en aangekoop word.

Die gewilde sanger Pieter Koen tree tussen 1 nm en 3 nm op. Daar is ‘n biertuin vir die dorstiges, ‘n verskeidenheid kos- en vlooimarkkraampies, ’n vertoning van veteraan trekkers en -enjins en vir die kinders is daar talle pret aktiwiteite. Hawerjeug bied Boeresport in die arena aan, en die ouer garde kan met heimwee terugdink aan hulle jong dae wanneer die Boeredansers ‘n demonstrasie van die mazurka, die settees en die wals gee.


‘n Kuier by een van die vorige mampoerfeeste
Foto: Verskaf

In die rustige atmosfeer van die Ou Plaaswerf kan gesmul word aan vars gebakte brood uit die buite bakoond, pap-en-kaiings, tradisionele gemmerbier en soetkoekies. Daar is begeleide toere deur die 1880-huis en demonstrasies van tradisionele werfaktiwiteite. Besoekers kan ook ‘n draai maak op die ossewa, getrek deur ‘n span rooi Afrikaner-osse.

Die hekke maak 8 vm oop. Toegang is R60 vir volwassenes en R20 vir laerskoolkinders. Die museum is uit met die N4-Oos-snelweg. Neem die Rayton/Cullinan afrit en draai oos op die ou Bronkhorstspruitpad (R104). Vir meer inligting, skakel 076-054-5229, 082-551-3061, 081-380-7276 of 012-736-2035/6.

 

© 2019 Die/The Bronberger