Speke gaan sing in sirkelroete PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Die Tshwane Diamond Classic fietswedren op 26 Mei gaan opgedra word aan Andrew Randall, wat op Goeie Vrydag op sy fiets doodgery is.

“Op dié dag gaan ons ’n spesiale aandenking aan sy weduwee, Tracy, oorhandig,” sê mede-fietsryer, Mauritz Meyer. “Ons moet motoriste bewus maak van die veiligheid van ryers op die pad. Dit is ’n mooi en gesonde sport en ons moet hulle wat deelneem respekteer op die paaie. Dit kos niks om ’n bietjie geduldig te wees nie en ook respek aan ryers te toon.”

Die 45-jarige Andrew was deel van ‘n groep fietsryers wat vroegoggend op 19 April in Centurion gaan ry het toe ‘n wit Toyota Tazz in die bondel ingejaag het. David Labuschagne, roete-ontwerper vir die Tshwane Diamond Classic fietswedren, was ook in dié groep. Hy het voor in die groep gery en is nie beseer nie. Agt fietsryers is hospitaal toe geneem.


Andrew Randall

Daar gaan spesiale medaljes, opgedra aan Andrew, by dié fietswedren op 26 Mei wees en ‘n minuut van stilte voor die fietsryers wegspring.

Die fietswedren begin om 7 vm by Baviaanspoort Korrektiewe Dienste op Zambeziweg-verlenging. Ryers kan deelneem aan ‘n 110 km of 50 km wedren. Daar gaan ook ritte vir kinders wees, ‘n kategorie vir twee- tot vierjariges en een vir vyf- tot sewejariges. Die dag sluit ‘n 5 km pretstap in. Verversings word deur Baviaanspoort gedoen en ‘n braai word ná die tyd gehou.

Die wedren word aangebied deur Hectic Promotions, die nie-winsgewende maatskappy wat ook die Bestmed Cycle4CANSA en Tshwane Classic aanbied.

David verduidelik dat dit die heel eerste Tshwane Diamond Classic fietswedren gaan wees en dat die roete uitdagend, maar goed gebalanseerd is. Die wedren loop van Baviaanspoort en volg ‘n skilderagtige sirkelroete deur Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit. 


Die wedren loop van Baviaanspoort en volg ‘n skilderagtige sirkelroete deur Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit

David sê dat dié padwedren oor mooi geteerde paaie loop in plattelandse gebiede, wat nie druk verkeer dra nie.

Volgens David toon padfietsry ‘n oplewing en daar is Suid-Afrikaners wat in internasionale wedrenne soos die Tour de France presteer. Hy sê dat Pretorianers die afgelope klompie jare afgeskeep is wat gehalte wedrenne aanbetref. Dié nuwe wedren gun Pretorianers die kans om aan ’n goed georganiseerde byeenkoms deel te neem sonder om ver te reis.

Vir meer inligting, besoek www.cycleevents.co.za of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger