Gebied groet geliefde veearts PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 20 May 2019 10:00
Untitled Document

Rayton se geliefde veearts, dr Arnold Gerhard Lademann, is op Goeie Vrydag, 19 April in sy huis in Groblersingel, Rayton oorlede. Hy sou op 7 Oktober 80 jaar oud geword het.

Sy begrafnisdiens op 25 April is deur ds Chris Lötter waargeneem vanuit die NG Kerk Rayton. Dr Lademann het pankreaskanker gehad en sy dogter Gisela het hom vir vier maande dag en nag opgepas met die hulp van ‘n versorger, Emily, en hulle huishulp, Lisa.

Sy vrou, Marie, is op 29 Mei 2017 ná ‘n stryd met kanker in die ouderdom van 75 jaar oorlede.
Dr Lademann was ‘n baie gewilde veearts in die gebied. In ‘n brief aan Die Bronberger het Gerda Berga geskryf dat haar gesin bevoorreg genoeg was om hom as veearts te kon hê sedert hulle Rayton toe getrek het.


Dr Arnold Lademann

“Oor die jare het dr Lademann ons diere gesond gehou en altyd vir die wat wou luister lesse in dieremaniere gegee. Hy het gevra dat ‘n mens hom die dag ná die besoek moet terugbel om te sê hoe die dier vorder.”

“As ek dink aan woorde om hom te beskryf, dink ek aan kundigheid, geen-nonsens-nie, by tye onkonvensioneel, oplossing-gedrewe, bekostigbare fooie, ‘n eksentrieke veearts met ‘n hart wat omgee vir diere,” het Gerda geskryf.

Dr Lademann het nie gehuiwer om besoeke na plase in die omgewing te doen nie. Daar is baie mense wat hom ewig dankbaar sal wees vir sy bereidwilligheid om huisbesoeke te doen om ‘n lyende troeteldier in sy of haar eie mandjie die tydelike met die ewige te help verwissel.

 

© 2019 Die/The Bronberger