Doring onder my tong PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Estelle Pretorius van Rayton skryf:
Goeiemiddag Bronnies. Baie dankie vir my gratis Bronnie met sy pragtige swaeltjie voorblad.

Ek lees met ’n “doring onder my tong” en ’n pyn in my hart die skrywe van Errol Cuthbert! Sy eensydige en negatiewe opmerkings pas hoegenaamd glad nie by die gemeenskapsgedrewe gesindheid van die Bronnie-redaksie of sy lesers nie, en is onnodig en ongevraagd. Gelukkig is sulke afbrekende opinies by verre in die minderheid!

Verder beskou ek myself as ’n Bronnie-leser, nie as ’n “Afrikaner” nie, maar wel ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner! Wat my aanbetref is ’n Afrikaner ’n beesras! Ek is trots Suid-Afrikaans, alhoewel ek aan my ma se kant ’n Skotse ouma en ’n Ierse oupa gehad het. Ek is ’n trotse afstammeling van Rob Roy McGregor. My man, daarenteen, is ’n trotse afstammeling van Andries Pretorius.

Die Bronnie bied regtig iets vir almal om te waardeer en te geniet! Ons kry dit gratis en dan wil mense nog voorskryf! Ai tog!

Tog vind ek dit interessant dat Meneer Cuthbert die artikels interessant genoeg vind om dit met sy familie te wil deel, al het hy “’n broertjie dood” aan Afrikaans! Die geskiedenis wat hy wil deel, is dan Afrikaans.

Naskrif: Die “doring onder die tong” is net vir ingeval daai tong iets onwelvoegliks wou besig!

Hou asseblief aan met julle wonderlike, ‘tweetalige’ tydskrif!

 

© 2019 Die/The Bronberger