Angie Kleijn
Hierdie is ‘n verhaal van ‘n man wat vergeet het wie hy was. As 24-jarige het hy verdwaas en sonder enige identifikasie deur die strate gedwaal. Hy is in Weskoppies opgeneem en het eers 30 jaar later onthou wat sy naam is . . . en toe wou niemand hom glo nie. Hy moes ‘n verdere sewe jaar lank sukkel om te bewys wie hy is.
Sy storie is ook dié van Weskoppies in die jare voor pasiënte met medikasie kalm gehou kon word en toe praktyke soos insulien-terapie nog toegepas is. Dié terapie het in 1935 vir die eerste keer in Suid-Afrika by Weskoppies Hospitaal die lig gesien. Dié hospitaal is egter eers in 1947 herbenoem na Weskoppies. Dit is in 1892 begin as die ‘Krankzinnigengesticht te Pretoria’ en in 1912 het die naam na Pretoria Sielsieke Hospitaal verander.
Dit was die naam van die hospitaal waar Horace Morgan in 1937, net betyds vir “insulien-koma-terapie”, opgeneem is. Marilynne Holloway het in ‘The man who forgot who he was’ in die ‘Scope’ van 21 November 1975 vertel dat Horace sy geheue in 1937 verloor het en vir die volgende 37 jaar onder ‘n valse identiteit in gestigte aangehou is.
Die 24-jarige Horace is in Johannesburg se strate gevind en die polisie het hom na die Pretoria Sielsieke Hospitaal geneem, waar hy ‘Robertson’ gedoop is. Later het Horace vertel dat die manlike verpleërs dissipline toegepas het deur pasiënte half te verwurg.
Hy het aan Marilynne vertel dat dit omtrent 42 keer met hom gebeur het – ‘n verpleër gryp hom van agter af met die hoek van sy elmboog onder die ken en druk teen sy keel tot hy kon voel dat sy tong begin uithang, sy oë uit hulle kaste bult en sy neus begin bloei. Slegs dan het hulle die greep op hom verlig.
Marilynne, die skrywer van die artikel, het in 1975 met dr Phyllis Morgan, wat toe superintendent van Weskoppies was, oor dié aantygings gepraat. Phyllis het dit “aaklige beskuldigings” genoem, maar gesê dat sy toe slegs vir die afgelope jaar in beheer van die hospitaal was en nie kon uitspraak lewer oor toestande in die dertiger- en veertigerjare nie. Sy het genoem dat die probleem om pasiënte te beheer in die 1970’s nie meer bestaan het nie omdat hulle op medikasie was wat hulle kalmeer.
Die omgewing van die ‘Krankzinnigengesticht te Pretoria’ in 1892
Bron: Breedt, 2009
Beginjare
In 1992 het C Plug van Unisa se Departement van Sielkunde, en JL Roos van Weskoppies Hospitaal ‘n artikel oor Weskoppies se beginjare in die ‘South African Medical Journal’ gepubliseer.
Hulle skryf dat daar teen 1890 reeds verskeie inrigtings vir sielsiekes in die res van die land was, maar geen in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) nie. Daar was een in Grahamstad (1875), Pietermaritzburg (1880), Bloemfontein (1883) en Port Alfred (1889). Die hospitaal by Valkenberg is kort daarna gestig.
Tenders is in Februarie 1890 genooi om te gaan kyk na die planne en spesifikasies vir ‘n ‘Krankzinnigengesticht te Pretoria’ by die kantore van die staats-ingenieur-argitek, Sytze Wopkes Wierda.
W Goetz se tender van £12 620 is deur die volksraad se uitvoerende raad aanvaar. Die hospitaal is so 3 km wes van die Pretoriase Stasie op 84 hektaar grond, wat as die ‘Ou Botaniese Tuin’ beskryf is, gebou.
Die bestuur van die inrigting is deur drie kurators, wat deur die regering aangestel is, behartig: Staatsekretaris Willem Eduard Bok; Pretoria se magistraat, CE Schutte; en lid van die uitvoerende raad, JMA (Donkie) Wolmarans, wat die bekende ‘Wolmarans Villa’ teen die hange van die Magaliesberg in Donkerhoek gebou het. Die sekretaris was WJ Geerling.
Die riglyne wat die kurators vir hulleself opgestel het, is in 1893 gepubliseer en stipuleer dat die kurators ‘n besoekende mediese offisier en personeel moet aanstel. Die opname en ontslaan van pasiënte moet goedgekeur word en die hospitaal moet gereeld geïnspekteer word. Die kurators moes een keer ‘n jaar aan die regering verslag doen.
Horatio Shaun Morse Morgan toe hy ná 37 jaar uitgekom het
Foto: ‘Scope’, 21 November 1975
Wet
Die kurators moes ook ‘n wet opstel vir die sertifisering en gevangehouding van pasiënte. Dit het gelei na die promulgering van Wet 9 van 1894, wat voorsiening gemaak het vir die veilige aanhouding van gevaarlike kranksinniges en vir die omsien en aanhouding van mense met versteurde verstandelike vermoëns.
Voor dié wet was daar geen wettige basis vir die gevangehouding van pasiënte nie. Die nuwe wet het ‘n landdros toegelaat om iemand as verstandelik versteurd te sertifiseer op grond van ’n diagnose deur twee mediese praktisyns.
Pretoria se distriksgeneesheer, die Skots-gebore dr Gordon MW Messum, is aan die begin van 1892 as die eerste besoekende dokter aangestel.
’n Telefoon is in April 1892 geïnstalleer en die hospitaal was in Mei 1892 gereed om pasiënte op te neem. Koerantadvertensies het verkondig dat die kurators aansoeke om opname begin oorweeg. Die pos vir ‘n vroulike oppasser is ook geadverteer.
Die eerste pasiënte, slegs 25, is uit verskeie tronke in die ZAR na die hospitaal gestuur. Watervoorsiening was vanuit ‘n put op die terrein en 500 bome is in die eerste jaar geplant. Die hospitaal is in 1893 aan die munisipale waterstelsel verbind en ‘n 2,5 hektaar groentetuin is uitgelê.
‘n Noord-oostelike aansig op die gebou
Bron: ‘South African Medical Journal’, 1992
Dr Smeenk
Die pasiëntetal het aanhou toeneem en ‘n voltydse mediese direkteur het nodig geword. Daar is in Holland na dokters met gewenste ondervinding gaan soek en dr Henricus AE Smeenk is aangestel.
Daar was meer swart pasiënte as wat verwag is en planne is gemaak vir ekstra verblyf. Ná nog kamers, huise en buitegeboue in die eerste drie jaar aangeskaf is, was daar nie meer geld vir ‘n permanente nuwe gebou nie en die huisvestingsprobleem het geleidelik erger geword.
Dr Smeenk se eerste diagnostiese klassifikasie het al 108 gevalle wat in 1896 behandel is, ingesluit.
Twee faktore was glo van oorheersende belang: die belangrikste in geval van wit pasiënte was oorerflike faktore, soos ‘n familie-geskiedenis van geestelike versteuring. Die tweede belangrikste faktor was alkohol, wat glo by die swart pasiënte ‘n groot rol in versteuring gespeel het.
Sewe gevalle wat vroeg in 1896 opgeneem is, is toegeskryf aan ‘wanorde in die land’ wat deur die Jameson Inval van Desember 1895 veroorsaak is en die reuse ‘dinamietontploffing’ op 19 Februarie 1896 by Braamfonteinstasie.
In die eerste jaarlikse verslag het dr Smeenk gesê dat die hospitaal ‘n toesighoudende instelling is vir chroniese pasiënte, maar ook omsien na akute pasiënte wat genees kan word.
Behandelings was beperk, maar die regte fisiese versorging het glo na merkbare verbetering gelei. Dr Messum het opgemerk dat pasiënte se fisiese toestand in die eerste twee maande verbeter, maar daarna dieselfde bly omdat pasiënte niks het om te doen nie. Dr Messum en later ook dr Smeenk, het die belangrikheid van verskeie vorms van werk en ontspanning benadruk.
Só lyk die gebou in Ketjenstraat vandag
Behandeling
Nadat dr Smeenk aangestel is, het addisionele behandelingsfasiliteite bygekom, soos warm baddens vir akute mania, ‘n sel met ‘sagte’ opgestopte mure en ‘n apteek. Dr Smeenk het selde na die gebruik van medikasie in sy verslae verwys. Hy het gevra dat die ergste versteurdes in ‘n aparte gebou gehuisves moes word, maar daar was nie genoegsame fondse daarvoor nie.
In die jaarverslae van 1897 en 1898 is daar reeds uitgewys dat die hospitaal ernstig oorbevolk is.
Tydelike selle van gegalvaniseerde yster is opgerig, maar gewelddadige pasiënte kon nie van kalm pasiënte geskei word nie. Daar was ‘n tekort aan werk- en ontspanningsfasiliteite en toepaslike oppassers.
Teen die einde van 1898, die laaste voor-oorlogse jaar, was daar 138 pasiënte. Daar is geen jaarlikse verslae in die oorlogsjare tussen 1899 en 1901 gepubliseer nie. Toestande in die hospitaal het in dié tyd drasties agteruit gegaan.
‘n Joernalis van die Johannesburgse koerant, ‘Transvaal Leader’, het in 1899 berig dat die hospitaal donker is, swak ventilasie het, oorbevolk en onhigiënies is en dat dit deur onopgeleide oppassers bestuur word, soos ‘n “half-witted” meisie van 16 wat in beheer van die kindersaal was.
Nog ‘n negatiewe berig oor die hospitaal het gekom van Frederick B Higginson, ‘n Engelse musiekonderwyser wat in 1894 na Suid-Afrika gekom het. In Mei 1899 is hy gearresteer omdat hy daarvan verdink is dat hy kort ná die Jameson Inval wapens weggesteek het.
Frederick het egter gesê dat hy deur staatsagente ontvoer is en onwettig in die gestig gegooi is. Hy is op 2 Desember 1899 vrygelaat en is dadelik koerante toe met grafiese beskrywings van onhigiëniese toestande, pasiënte wat elke nag vir 12 ure sonder enige fasiliteite toegesluit word en deur gevoellose opsigters geslaan word.
Die ingang na Weskoppies Hospitaal in 1975
Foto: ‘Scope’, 21 November 1975
Oorlog
Die 15 maande ná Frederick in dié Krankzinnigengesticht was, kan as die moeilikste in die hospitaal se hele geskiedenis beskryf word. Toestande in Pretoria was onstuimig selfs voor die Britse okkupasie op 5 Junie 1900. Dit is gevolg deur grootskaalse deportasie van Hollandse burgers, erge inperking van siviele vryhede, ‘n voedseltekort, die opkommandering van alle boumateriaal en perde vir militêre gebruik, ‘n konstante vloed van vlugtelinge en krygsgevangenes, onvoldoende mediese fasiliteite, onhigiëniese toestande in die dorp se militêre kampe en ‘n gebrek aan samewerking tussen die weermag en siviele mediese owerhede.
Teen die einde van Junie 1900 het die Britse magte, verteenwoordig deur ‘n dr Caldwell, die personeel se salarisse betaal en sommige van die gestig se personeel is vervang.
Ná die ander Hollanders gedeporteer is, het dr Smeenk steeds op die perseel gewoon. Die militêre goewerneur van Pretoria het op 8 September aan hom geskryf dat hy, vergesel van sy vrou en twee dogters, na Holland terug gestuur gaan word.
Dr Smeenk is in Desember 1900 daar weg en die hospitaal was onder die tydelike toesig van ‘n plaaslike geneesheer, dr Wilhelm Bidenkamp. In Januarie 1901 het die mediese offisier van gesondheid van die Transvaal, dr George Turner, aan die militêre goewerneur verslag gelewer oor sy kort besoek aan die hospitaal. Hy het gesê dat die fasiliteite onvoldoende was en dat daar ‘n dringende behoefte was aan ‘n inwonende dokter met die nodige ondervinding.
JMA (Donkie) Wolmarans, wat die bekende ‘Wolmarans Villa’ teen die hange van die Magaliesberg in Donkerhoek gebou het, was een van die Krankzinnigengesticht se kurators
Dr Todd
‘n Nuwe mediese superintendent, dr Percy Everard Todd, is aangestel om na die 165 pasiënte om te sien. Hy het vroeg in Februarie 1901 daar begin werk. In die vyf maande sonder ‘n mediese direkteur het toestande agteruit gegaan en dr Todd het geskryf dat die gestig ‘n doolhof van donker gange, selle en klam terreine was wat deur hoë mure omring is. Geen voorsiening is vir die vermaak van pasiënte gemaak nie.
Hy het ook gesê dat dit nie moontlik was om die pasiënte te klassifiseer nie omdat almal, geneesbares en ongeneeslikes, saamgegooi is. Daar is bevind dat dit broodnodig was om pasiënte op te deel en dat groepe deur opgeleide personeel van mekaar geskei moet word.
Dr Todd het vertel dat die meeste van die enkel kamers, waarin twee pasiënte gebly het, slegs ses voet ses duim by drie voet 10 duim groot was. Hy het drie mans gevind wie se hande en voete vasgeboei was. Al die pasiënte was baie vuil, hulle hare was lank en het geswerm van die luise. Pasiënte kon nie in die nag toilet toe gaan nie.
Dr Todd het gesê dat hy geen rekords van die pasiënte kon kry nie. Nie een van Dr Smeenk se pasiënte-rekords het die oorlog oorleef nie.
Die hospitaal se personeeltekort is in Mei 1901 verbeter toe vier oppassers en vier verpleegsters vanaf die gestig naby Grahamstad daar aangekom het. Nuwe reëls vir oppassers is opgestel en die sertifisering en aanhouding van pasiënte is deur Proklamasie 36 van 1902 gewettig.
Staatsargitek Sytze Wopkes Wierda het die bouplanne vir die
‘Krankzinnigengesticht te Pretoria’ opgetrek
Foto: Wikipedia
Horace
Dit blyk egter of daar in die volgende 30 jaar steeds niks gedoen is om pasiënte besig te hou nie. In Marilynne Holloway se ‘Scope’ artikel het Horace Morgan vertel dat daar geen vermaak of afleiding was nie; nie eers kerkdienste nie.
Hy het gesê dat die pasiënte maar buite rondgedwaal het tot hulle ingeroep is vir maaltye, om geskeer te word, vir terapie of vir die takies wat hulle moes verrig, soos om beddens op te maak.
Volgens Horace het hy geen behandeling ontvang nie, behalwe die skrikwekkende “insulien-koma-terapie”, wat glo ‘n pasiënt se lewe in gevaar gestel het en later verban is. Hy het gesê dat hy net twee keer ‘n jaar ‘n psigiater gesien het.
Oor die jare het Horace op die naam ‘Robertson’ reageer en hy sê dat niemand ooit probeer uitvind het wat sy regte naam was nie. So het sy vaal lewe vir ongeveer 12 jaar op dieselfde trant voortgegaan. Buite het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek sonder dat hy ooit in die hospitaal daarvan gehoor het. Koerante was nie toegelaat nie.
Horace het vertel dat een van die beste dinge wat met hom gebeur het, die frats-haelstorm in 1948 was. Dié storm het die hospitaaldakke vermorsel en van die pasiënte is na Sterkfontein Hospitaal naby Krugersdorp verskuif. Daar was dinge baie anders – vermaak is gereël, daar was ‘n sportklub, danse, pieknieks, flieks, teepartytjies en die pasiënte is op uittogte geneem.
Horace is ook vir die eerste keer sedert sy opname die kans gegun om ‘n werkie teen vergoeding te doen. Dié werk en ontspanningsaktiwiteite het ‘n baie goeie invloed op Horace gehad en hy het weer dinge buite homself begin raaksien. Dis toe dat hy gehoor het iemand sê dit is 1967. Hy kon dit nie glo nie, want in sy kop was dit nog altyd 1937.
Horace het 30 jaar van sy lewe verloor. Hy het gedog hy is 24 jaar oud, maar was 54.
Staatsekretaris Willem Eduard Bok was nog een van die drie kurators, wat deur die regering aangestel is
Foto: Nederland's Patriciaat, Den Haag: Centraal Bureau voor Genealogie
|
Horace toe hy 12 jaar oud was
Foto: ‘Scope’, 21 November 1975
. |
Onthou
Horace het onthou dat sy naam Horatio Shaun Morse Morgan is, maar daar was nie ‘n manier wat hy hospitaalpersoneel kon oortuig dat hy nie ‘Robertson’ was nie. Dit is immers die naam wat op sy opname-rekord aangedui is.
Hy het ook onthou dat hy ‘n jonger suster, Edna, het; dat hy in die St George Seunskool en later op St John’s College was. Hy het vir ‘n tyd saam met sy oupa, F Kluckow, in die Lobatsi Hotel gewoon en was verloof aan Ruth Eccles van Johannesburg, waar hy in 1937 ‘n splinternuwe motor agtergelaat het.
In desperaatheid het Horace begin briewe skryf aan almal wat hy kon onthou, maar die adresse het nie meer bestaan nie. Ná sewe jaar se sukkel, het ‘n predikant wat Sterkfontein besoek het, die naam St John’s College genoem. Hy het Horace gehelp om aan die skool te skryf en dit is bevestig dat hy van 1926 tot 1928 daar skoolgegaan het.
Horace het aan die registrateur van geboortes in Pretoria geskryf en sy geboortesertifikaat gekry. Dit het gewys dat hy in 1913 in Johannesburg gebore is as kind van Richard Langley Morgan en Freda, ‘n nooi Kluckow.
Horace is uit die hospitaal ontslaan. Hy het eers in ‘n nabye oorgangshuis, wat deeltyds deur een van die hospitaal-verpleegsters bedryf is, gebly en het terapie by die hospitaal ontvang. Een van die terapeute het hom gehelp om ‘n foto en berig in ‘The Star’ te plaas. Dit was baie toevallig dat sy suster Edna, wat toe vir die tweede keer getroud is, dié keer met Bill Brady, daardie dag ‘n koerant gekoop het en die berig gesien het.
Die herenigde familie, van links na regs: Bill Brady, Edna se tweede man; Edna, Horace se suster; Karine Merton, Edna se dogter; en Horace Morgan
Foto: ‘Scope’, 21 November 1975
Die volgende dag was daar ‘n blye weersiens tussen dié twee. Edna het vertel dat dit wat haar die meeste geskok het, haar broer se armoedige toestand was. Hy het geen besittings gehad nie en die klere aan sy lyf het gelyk of dit omtrent tiendehands aan hom afgestaan is en het hom glad nie gepas nie.
Horace het by Edna en Bill gaan bly en het vir ‘n klein salaris by ‘n regeringsgesubsidieerde fabriek gewerk. Ná ‘n paar jaar het Bill afgetree en die egpaar se plan was om in ‘n klein huisie aan die Natalse Noordkus te gaan woon. Om dit te kon bekostig het hulle in ‘n winkel op Melmoth gaan werk en in ‘n karavaan ingetrek.
Horace kon nie meer by hulle bly nie en teen die tyd wat die artikel in ‘Scope’ geskryf is, het hy al maande lank in Durban se strate op en af gestap op soek na werk. Die antwoord was altyd dieselfde: hy was te oud en het geen ondervinding gehad nie.
Die laaste keer wat Marilynne Holloway met Horace gepraat het, het hy gesê dat hy aansoek gaan doen om by die Franse Vreemdelingelegioen aan te sluit. As dit nie werk nie, sou hy moes begin smeek om weer in die hospitaal opgeneem te word. |