Verdagte vragmotors groot gevaar op plotpad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 13:07
Untitled Document

‘n Vragmotor het op 27 Maart op die verlenging van Leribisiweg in Zwavelpoort gerol. Die bestuurder het volgens ooggetuies sommer in die ry uitgespring voor die vragwa omgeslaan het.

Inwoners wat langs dié pad woon sê hulle vrees vir hulle lewens omdat vragmotors met ‘n baie groot spoed teen die bult van The Hills af jaag. Hulle sê dat spoedwalle opgerig moet word omdat die pad deur vragmotors as deurpad van Garstfonteinweg-verlenging na Lynnwoodweg-verlenging gebruik word.


Die vragmotor wat gerol het met sy vrag grond oor die pad
Foto’s: Verskaf

Motoriste word gereeld van die pad af gedwing deur dié jaende vragmotors en bergfietsryers beaam dat dié stuk pad deesdae ‘n bedreiging vir hulle lewens is.

In Februarie het inwoners ‘n rooi vragmotor, wat glo rommel vanaf The Hills-landgoed op- en aflaai, agternagesit omdat hy drie motors van die pad afgery het.

Volgens ‘n inwoner wie se motor deur dié vragmotor getref is, het die bestuurder geen identifikasie aan hom nie – nie eers ‘n bestuurslisensie nie. Inwoners wat dié vragmotors voorgekeer het, het foto’s geneem om te wys dat die vragmotors se lisensieskywe teen die vensters ook verval het.


Die bestuurder het in die ry uitgespring

Mense wat in die omgewing bly, sê dat dié vragmotors onpadwaardig is en onwettig in die omgewing rommel stort. Pogings om die eienaars van die vragmotors te dwing om verantwoordelikheid vir hulle drywers se optredes te neem, het tot dusver misluk.

Leribisiweg-verlenging in Zwavelpoort is dieselfde pad waaroor Martie Erasmus in Die Bronberger se Januarie-uitgawe geskryf het, ‘Plastiek en rommel op plotpaaie platgeskraap’, en waarop Frik Schoeman in ons Februarie-uitgawe geantwoord het.


Die rooi vragmotor waaroor inwoners kla

Frik het vertel dat hy in 1983 die pad met moeite gemaak het en dat Jack de Wet later ’n stuk bo teen The Hills se muur gemaak het. Die gemeenskap het op daardie stadium ook sementstroke gegooi om beter rybane teen die bult op te hê.

Frik het vertel dat die gemeenskap ’n naam, “Giant Reed Road”, vir die pad gekies het en dat dié voorstel by die owerhede lê en wag vir goedkeuring.

 

© 2019 Die/The Bronberger