Die ongelooflikste ding PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 April 2019 13:03
Untitled Document

Die ongelooflikste ding het nou die anderdag hier aan die voet van die Bronberg gebeur, sê Gert Mossie. Soos julle dalk weet, is ons bevoorreg om Juliana se goue mol hier in ons midde te hê.
Juliana se mol is ook nie sommer so nie, sê Gert. Hy/sy is hoendertandskaars, op die kritieke gevaarlys en in die ganse wêreld bly hy ook net hier en iewers in die Laeveld, dink hy.

Nou het ons ook hier naby ’n onooglike steengroef (dis nou ‘n kwarrie, Piet) wat letterlik ’n steen des aanstoots vir natuurliefhebbers is en besig is om geleidelik ’n groot deel van ons kosbare berg te verslind, sê Gert Mossie.

So sit ons groepie plotrotte toe mos dié betrokke dag in die tuin van die kuierplek wat oorle ou Faan Smuts destyds hier in die skadu van die berg gebou het. Ons sit en treur oor die rakbie en praat sommer ‘n bietjie dinges met mekaar, elkeen met ‘n lekker beker vatbier vir die vrede voor ons.

Skielik word daar weer ’n allemintige ontploffing by die ‘kwarrie’ afgeskiet en ons skrik byna ons bier weg. Hulle skiet die berg met dinamiet en goed des dingeses in om klein klippies van groot klippe vir padbou en dies meer te maak, sê Gert.

Hoe ook al, die dinamietskieter van die steengroef moes sy ‘kalkulasies’ verkeerd gehad het, want daar waar ons in die tuin sit, sien ons net stof en klippe in alle rigtings in vlieg.

Ons bekyk die spulletjie nog so en neem ons bekers op teen die skok toe iets skielik ‘kaplaks!’ binne in ou Rooi Kerneels se bierbeker beland. Rooi Kerneels en party van die anders ouens skrik hulle natuurlik van voor af uit die geloof uit, sê Gert Mossie.

En ja, by nadere betragting, is dit jou wrintie die einste Juliana se molletjie wat daar al in die rondte, al in die rondte in ou Kerneels se bierbeker swem – amper soos iemand wat met net een arm in ‘n sementdam swem. Die molletjie se ogies is so styf toegeknyp en sy oortjies is platgetrek soos hy om te lewe swem.

Hy is bly om te kan berig dat, nadat hy sy babalaas in die sonnetjie gelê en afslaap het, die goue molletjie weer heel mooi herstel het en dat hulle hom weer ver van die steengroef af in sy natuurlike habitat kon loop vrylaat, sê Gert Mossie. 

O ja, sê Grootpiet, waar was ek dan en wanneer het dit nogal gebeur?

Nee, sê Gert, as hy reg onthou was dit op Maandag 1 April . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger