PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 22 June 2009 15:46
Untitled Document

Die gerugte loop weer dik oor Wapadrand se ‘kasteel op die berg’, noudat dit na baie dekades van terugslae en bespiegeling eindelik amper voltooi is. Dié indrukwekkende drieverdieping ‘kasteel’ op die Bronberg het langsaam gegroei nadat die huidige eienaar, Corné de Villiers, in 2003 besluit het om die vervalle murasie weer op te bou.

Anders as wat die geval met vorige eienaars was, het Corné daarin geslaag om die werk, wat blykbaar bykans 70 jaar gelede begin is, klaar te maak. Die kasteel het nou ’n imposante landmerk in die gebied geword en soos in die verlede loop die stories weer oor wat dit presies is en waarvoor dit gebruik gaan word.


Die ?kasteel-op-die-berg? soos dit vandag lyk

In die afgelope maand of drie het Die Bronberger talle navrae en ‘mededelings’ oor die kasteel gekry. Een gerug wat hardnekkig voortleef is dat dit ’n soort vyfster bordeel gaan word. Ander het weer gehoor dat ’n bekende motorhandelaar dit gekoop het en ’n hotel gaan oopmaak. Nog ’n gewilde spekulasie is dat dit ’n inrigting vir sielsiekes gaan word.

Die waarheid blyk te wees dat die plek nog aan Corné de Villiers behoort en dat hy dit oorweeg om ’n gastehuis oop te maak, onder meer met die oog op die sokker wêreldbeker van volgende jaar. Oorlewering wil dit hê dat ’n onbekende man dié kasteel reeds voor 1940 ver uit die dorp uit begin bou het as ’n inrigting vir sielsiekes. Sy vrou was glo ook sielsiek. Hy het opgehou toe sy tot sterwe kom.

Wat bevestig kon word, is dat Izak Perold in 1962 begin het om die kasteel op die grond te bou. Izak het op sy dag wyd deur Afrika gereis en was baie beïndruk met die Zimbabwe ruïnes. Nadat hy reeds sewe jaar gebou het en gespook het om met donkies klip teen die berg op te karwei, het sy eerste vrou besluit sy is te bang om so ver uit die dorp uit te bly en het hy dit stopgesit en later aan Corné verkoop.

 

© 2019 Die/The Bronberger