Op die vlerke van ‘n mierleeu PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 April 2019 12:54
Untitled Document

Eus de Clerk

Wil jy graag ‘n troeteldier aanhou wat nie vuilmaak of die bure met sy geblaf en getjank wakker hou nie? Een wat nie snags op die mure sit en katterwaal na die maan nie? Een wat nie die huis met hare of vere bemors nie? Een wat nie ‘n fortuin aan veeartsrekeninge kos nie?


Die vlieënde insek

Wel, soos die advertensies sê, soek nie verder nie. Die troeteldiertjie wat jy moet kry is volop in die Cullinan-omgewing: Mierleeus – of soos party mense hulle noem, toktokkies, of molletjies. Of, as jy jou tong wil knoop, Myrmeleontidae – sy wetenskaplike klassifikasie.


Die kokonne bo-op die grond

Nou, hoe moet ’n mens te werk gaan?

Stap een: Vat ‘n blikkie of enige ander geskikte houer; loop ‘n draai deur die veld en soek na wilde Myrmeleontidae se tregtertjies. Skep die tregtertjie asook die grond rondom op en keer terug huis toe.

Stap twee: Sif die grond deur Liefie se meelsiffie in ‘n geskikte houertjie – ek gebruik leë margarien-bakkies. Plaas die mierleeu daarin, en wag totdat die goggatjie ‘n nuwe tregter bou. Dit kan soms etlike ure neem, so hou maar die toebroodjies en koue verversings byderhand.

Stap drie: Gooi elke dag ‘n paar rondlopermiere in die sandput-van-die-dood. Die mierleeu sal hulle onmiddellik gryp en verslind. Dié wat probeer ontsnap, sal hy met sandkorrels bestook sodat hulle terugval na die tregter se bodem. (Moenie wharrie nie, daar sal nie bloed op jou spat nie!)


Mierleeus se tregters
Foto’s: Eus de Clerk

Nou vir die sirpraaiz! Na die verloop van etlike maande sal jy oplet dat jou troeteldiertjie nie meer eet nie. Grawe versigtig in die grondjies en jy sal ‘n klein balletjie (kokon) van sand kry.

Sit dit bo-op die sand neer. Na sowat dertig dae sal jy een oggend ‘n klein vlieënde insek, wat amper soos ‘n naaldekoker lyk, sien. Dit is die mierleeu in sy nuwe gedaante! Hy is nou gereed om die wêreld in te vaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger