Goliat van Gat se grootste gaan aan Bubble PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 April 2019 12:51
Untitled Document

Peet Joubert het die Goliat van Gat Pampoenfees op 16 Maart met ‘n pampoen, genaamd Bubble, van 564 kg gewen.

Die fees is op die Pretoria-boeremark se terrein in Moreletastraat, Silverton gehou. Daar was pret vir die hele gesin met verskeie kompetisies soos ‘n pampoenpitspoeg-, pampoen-uitsny- en ‘n pampoen-dra-kompetisie.


Peet Joubert en sy vrou Sonja by die wenpampoen saam met Henri Combrink, voorsitter van die Cullinan Boere-unie
Foto’s: Verskaf

Die kompetisie word elke jaar deur TLU SA se Cullinan Boere-unie gereël en dit is waar die fees se naam vandaan kom – Cullinan is bekend vir die groot gat waar die bekendste diamant in die wêreld uitgehaal is.


Peet se wenpampoen by Uitkyk Vleismark in Silverton

Peet sê dat Bubble omtrent 100 dae oud was op die dag van die pampoenfees. Hy het vertel dat die plant ongeveer ‘n maand oud was toe die wind dit omgewaai het. Miskien is dit hoekom Bubble nie so groot was soos die vorige pampoen waarmee Peet die Suid-Afrikaanse rekord op 9 Maart by die Walkerville Landbouskou gebreek het nie, bespiegel hy.


Die reuse pampoene bied sitplek vir kinders by die pampoenfees

Daardie pampoen van 613 kg se saad is eers in sy kweekhuis in The Reeds geplant. Die plantjie is twee weke later oorgeplant en aan hitte en lig blootgestel. Peet het gesê jy plant nie net ‘n saad en laat dit groei nie. Hy het gemiddeld twee ure ‘n dag aan dié pampoen spandeer.


Henri Combrink, regs, saam met span Joubert: Peet, Sonja en hulle dogters Megan, staande, en Carmen, sittend

Peet se volgende doel is om ‘n pampoen wat ‘n driekwart ton weeg, te kweek.

Die kompetisie-pampoene is ná die fees verwerk en aan behoeftige mense geskenk.

 

© 2019 Die/The Bronberger