Zwavelpoortse vrou brul saam op wêreldrit PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 April 2019 12:49
Untitled Document

Vroue-motorfietsryers van reg oor die wêreld het verenig om aan ‘n aflosrit deel te neem. Die aflosstok word op verskillende bene van ‘n reis oor kontinente aangegee en Zwavelpoorter, Melanie Botha, gaan aan die Suid-Afrikaanse been deelneem. 

Die aflosrit het einde Maart vanaf John O’Groats in Skotland afgeskop en duur vanaf die Europese lente 2019 tot lente 2020. Daar is wêreldwyd 17 000 vroue uit 85 lande wat deelneem. Die roete wat oor kontinente loop sluit ook afgeleë en uitgestrekte wêrelddele in, soos Pakistan, Indië, Peru, Mexiko en Australië, en gaan in die Verenigde Arabiese Emirate tot ‘n einde kom. In dié land word vroue maar eers van verlede jaar af toegelaat om self te bestuur.


Melanie, regs, en Jana, links, besig met tydelike herstelwerk ná ‘n mederyer ‘n ligte
ongelukkie gehad het

Die Suid-Afrikaanse gedeelte van die aflos is vanaf 2 tot 9 Januarie 2020. In dié agt dae gaan
3 878 km in ongeveer 500 km ‘n dag afgelê word. Melanie beplan om die hele roete vanaf Johannesburg, deur KwaZulu-Natal, Oos-, Suid-, Wes- en Noord-Kaap tot by die Nakop-grenspos van Namibië te onderneem. Daar word die aflosstok aan die Namibiese vroueryers oorhandig. 

Rialette van Niekerk, Women Riders World Relay (WRWR) se ambassadeur in Suid-Afrika, het gesê mense wat betrokke wil raak hoef nie die hele roete saam ry nie. “Jy kan self kom en gaan soos jy wil; jy kan kies of jy net een been van die aflos wil saamry en of jy ‘n sekere aantal kilometers wil ry,” het Rialette gesê.

Vroueryers registreer as beskermengele wat van begin tot einde na die aflosstok omsien vir ‘n hele dag se rit. Die idee van ‘n aflosrit het ontstaan by ‘n Britse vrou, Hayley Bell, met die oogmerk om vroue-motorfietsryers die wêreld oor saam te snoer deur pret, ondervinding, selfvertroue en ‘n gevoel van eenheid.


Melanie se dogter Jana by ‘n onlangse vaardigheid-uitdaging van Bavaria Motorcycles. Sy het die vroueafdeling gewen

Melanie Botha van Zwavelpoort op haar Honda
.
.
.

Nog ‘n belangrike doel is om die motorfietsbedryf bewus te maak van die potensiële krag agter die mark wat so blindelings oorgesien word. Die probleem om gepaste uitrustings te vind bestaan nie net in die motorfietsbedryf nie. Die beplande vroue-ruimte-uitstappie is op die lange baan omdat daar nie ruimtepakke is wat die vroue in die span pas nie.

Melanie het in 2008 begin motorfiets ry omdat sy self wou ervaar hoe dit is voordat sy haar jongste dogter, Jana, wou toelaat om te ry. Jana het kort voor dit ‘n ernstige motorongeluk op die aansluiting van Zwavelpoort- en Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) oorleef. 

Melanie het sedertdien daagliks met haar motorfiets gependel – vir ‘n jaar selfs na en van Johannesburg.


Die Franse span op hulle been deur Frankryk

Met die aflosrit dra elke vrou self die kostes van registrasie, verblyf en ook reiskostes vir die been of bene waaraan sy wil meedoen. Soms is die vroue gelukkig en word verblyf gratis aangebied. So gaan ‘n deel van die Suid-Afrikaanse groep kosteloos in Clarens by die Maluti Mountain Lodge oorbly.

Vroue hoef ook nie net in hulle eie land te ry nie. Van die vroue ry reeds van die begin af saam en ‘n paar uit die Verenigde Koninkryk beplan om saam met die Suid-Afrikaners te kom ry.

Besoek gerus die Women Riders World Relay (WRWR) op Facebook en ervaar die opgewondenheid wat onder vroue op motorfietse posgevat het.

 

© 2019 Die/The Bronberger