Inwoners pak skoonmaak-taak in Cullinan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 12:44
Untitled Document

‘n Groep Cullinan-inwoners het saamgespan om ‘n skoonmaakveldtog op die dorpie te loods. Mense het op Saterdag 6 April met trekkers, grassnyers, bossiekappers en asbliksakke bymekaargekom om die veldtog in die Oudorp-gedeelte af te skop.

Die gras is gesny, bome gesaag en die heining, wat die myn rondom Oudorp gespan het, is skoongemaak. Die stasie-gronde en spoorlyne is ook skoongemaak en ‘n werker is aangestel om die gebied rondom die kruising van Oaklaan en Mainstraat skoon te hou.


Inwoners het ingespring om die lang gras rondom Oudorp korter te kry
Foto: Karen Yssel

Takke is afgesaag
Foto: Karen Yssel
.

Volgens Karen Yssel, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, was die veld in Governmentstraat toegegroei, wat dit baie maklik gemaak het vir misdadigers om wegkruipplek te kry.

Sy sê dat daar ‘n paar inbrake en vergiftiging van honde in dié gebied was en dat die mense ingespring het om ’n plan te maak om ontsnaproetes uit die weg te ruim.


Die mense het 8 vm bymekaar gekom om met die skoonmaakaksie te begin
Foto: Verskaf

Baie inwoners wat nie self aan die skoonmaakaksie kon deelneem nie, het ‘n werker geborg. Die Waterkan en Exact Organics het water aan almal voorsien en selfs koeldrank is aangedra.

Die plaaslike Spar het asbliksakke voorsien, sowel as pap en sous vir die braai, wat ná die skoonmaakaksie by Cullinan Junction gehou is.


Die trekker by die heining wat rondom Oudorp gespan is
Foto: Karen Yssel

Lukas is aangestel om die asblikke by die stopstraat voor die Wimpy skoon te hou
Foto: Angela Bruce

Karen Yssel het gesê dat dié dag dien as ‘n voorbeeld van hoe ‘n gemeenskap saamstaan en probleme oplos sodat almal veiliger is.

Mense wat by die Cullinan Skoonmaak-veldtog se boodskapgroep wil aansluit, kan Angela Bruce bel by 081-584-3843.

 

© 2019 Die/The Bronberger