Informele nedersetting teenaan Rayton gekeer PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 12:44
Untitled Document

Inwoners van Rayton was briesend toe 12 gesinne skielik op 3 April begin erwe uitmeet het op oop grond langs die Rayton-toetsstasie. Die grond behoort aan Stad Tshwane en die Cullinanse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die metroraad dadelik gekontak en inwoners gemaan om kalm te bly.

Karen Yssel, voorsitter van die GPF, het inwoners laat weet dat dié gesinne afgesit is van ‘n plot in Kameeldrift wat aan ‘n private ontwikkelaar verkoop is. Die wet lui dat sulke mense hervestig moet word en die metroraad het die stuk grond langs die Rayton-toetsstasie beskikbaar gestel.

Die afsettingshofbevel is uitgereik en die 12 gesinne is daarvolgens met hulle besittings in Rayton afgelaai om wettiglik hulle strukture op te rig.


Karen Yssel van die Cullinanse GPF (Sektor 4 – Rayton Buurtwag)

Daar was egter geen konsultasie met die Rayton-inwoners naaste aan dié oop stuk grond nie. Volgens Nomsa Mabasa, streekdirekteur by die metroraad, het die ANC raadslid vir Rayton wel met inwoners gekonsulteer. Karen het gesê dat bewyse daarvan gesoek word.

Die gesinne en hulle besittings is dieselfde dag van die grond af verwyder. Hulle het daardie aand in die Kameeldrift-gemeenskapsaal oorgeslaap. Karen het inwoners laat weet dat die gesinne se prokureurs verder met die applikant wat die afsettings-hofbevel bekom het, sal onderhandel.

Op 4 April het ‘n nuwe groepie mense skielik op dieselfde stuk oop grond opgedaag om erwe uit te meet. Dit was nie die gesinne wat die vorige dag deur die balju daar afgelaai is nie. Die metroraad is bewus gemaak van die mense en het gesê dat daar opgetree sal word sodra ‘n struktuur opgerig word.


Inwoners van Pumzile Park besig om op 4 April erwe uit te meet op die oop grond langs die
Rayton-toetsstasie

Die nuwe groep mense was inwoners van Pumzile Park, ‘n informele nedersetting net buite Rayton.

Hulle is deur ‘n lid van die burgemeesterskomitee aangespreek en daar is ooreengekom dat hulle die volgende week terugvoer sou kry oor toekomstige hervestiging. Enige verdere onwettige grondgrypery op die grond langs die Rayton-toetsstasie sal deur die Metro-polisie hanteer word.

Karen het laat weet dat die 12 gesinne nie op dié oop stuk grond hervestig sal word nie. Raadslede het glo vir hulle ‘n blyplek op Kameeldrift gekry.

 

© 2019 Die/The Bronberger