Stilhou gevaarlik op dié stuk snelweg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 14:43
Untitled Document

Motoriste word gewaarsku dat boewe bedrywig is op die N4-Oos snelweg tussen die Cullinan/Rayton-afrit en die Diamond Hill tolplaza.

Vyf voertuie se bande is in die vroeë oggendure van 27 Maart net voor dié tolplaza beskadig. ‘n Vrou wat in ‘n oostelike rigting op dié stuk pad gery het, berig dat sy oor twee onbekende hindernisse gery het en twee pap wiele gekry het.

Sy het besluit om nie stil te hou nie en het deur die tolhek gery en by The Rose vulstasie aangedoen om na die skade te kyk. By dié vulstasie het sy vier ander voertuie met beskadigde bande gevind. Een daarvan was ‘n splinternuwe Audi met vier erg beskadigde bande.

Volgens ‘n sekuriteitsfirma van Bronkhorstspruit was ten minste een ander motoris nie so gelukkig nie. Hy het daardie nag van die pad afgetrek om insleepdienste te bel nadat sy bande beskadig is en is dadelik beroof.


Die Diamond Hill tolplaza op die N4-oos snelweg
Foto: Tolplan

 Dit wil voorkom asof skerp voorwerpe en hindernisse aspris op daardie deel van die snelweg geplaas word om motoriste te dwing om stil te hou sodat hulle beroof kan word.

Polisiewoordvoerder, konstabel Connie Moganedi, sê dat die polisie bewus is van die probleem en die snelweg gereeld patrolleer.

Verlede maand het ons berig dat ’n Tradevest Logistics vragmotor die nag van 2 Maart op daardie deel van die snelweg gekaap is. Die vragmotor was vanaf Nelspruit op pad na Rustenburg met kratte leë bierbottels.

Net ná die Diamond Hill tolplaza en voor die Cullinan/Rayton afrit van die snelweg is hy van die pad af gedwing deur twee bakkies, een wat voor hom en een wat agter hom gery het. Twee van die vier mans in die bakkies het in die vragmotor se kajuit gespring en ‘n vuurwapen teen die drywer se kop gedruk.

Mense word aangemoedig om sulke voorvalle op dié deel van die snelweg te rapporteer aan die Cullinanse Polisiestasie: 012-734-0751.

 

© 2019 Die/The Bronberger