Faerie Glenners stig Blok 4 Sekuriteitsdorp PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 12:42
Untitled Document

Inwoners van Faerie Glen het ‘n nuwe huiseienaarsvereniging gestig om die Blok 4 Sekuriteitsdorp-inisiatief in werking te stel. Dié gemeenskap se plan is om sekuriteitshekke op openbare paaie aan te bring ná ‘n reeks huisinbrake die afgelope paar maande.

Op Saterdag 30 Maart het die Blok 4-komitee ‘n werwingstasie by die kruising van Selikats Causeway en Manitobastraat beman. Hulle gebied is oos van die Faerie Glen Natuurreservaat tot teen die kruin van die Bronberg.

Voorsitter Louw Middel het gesê dat die toenemende misdaad die gemeenskap laat besluit het om self iets aan die probleem te doen. Die plan is om aanvanklik vier sekuriteitswagte by die hoofingange na Blok 4 in Faerie Glen te hê.


Die werwingstasie waar inwoners op 30 Maart meer inligting oor die sekuriteitsdorp-inisiatief kon kry
Foto: Eliot Mahlase

Hy het gesê dat Blok 4 besig was om waghuisies by elke hoofingang te sit sodat aktiwiteite gemonitor kan word en wagte verdagte voertuie en mense kan rapporteer. Die langtermyn doelwit is om toegangsbeheer toe te pas, maar sigbare monitering gaan die eerste stap vorm.

Hek een word in Manitobastraat naby Atterbury Boulevard beplan, net voor Kentuckyrylaan. Hek twee sal in Selikats Causeway naby Pick n Pay Hipermark wees, ook net voor Kentuckyrylaan.

Hek drie word beplan om in Alaskaweg te wees, net voor die kruising met Selikats Causeway. Hek vier sal in Koedoebergweg wees, net voor sy aansluiting by Selikats Causeway.

Volgens ADT Sekuriteit se Bennie Coetzee moet ten minste 480 lede van die gemeenskap by die inisiatief aansluit voor ADT vier waghuisies kan voorsien.


Die kaart wat die beoogde sekuriteitshekke in Faerie Glen Blok 4 aandui

Blok 4 is gestig toe bekommerde inwoners en ondernemings bymekaar gekom het om ‘n formele, wettige huiseienaarsvereniging te stig. Alle fondse, kommunikasie en betalingsadministrasie word deur ‘n derde party bestuur – die maatskappy ProAdmin wat spesialiseer in gemeenskap-, eiendom- en landgoedbestuur. ProAdmin gaan maandelikse verslae en jaarlikse finansiële state vir die vereniging opstel.

Die maandelikse lidmaatskapsfooi om aan dié inisiatief te behoort is R249 en aansoekvorms is op ProAdmin se webtuiste: www.proadmin.co.za. Skakel 087-223-0000.

Vir meer inligting oor die Blok 4 Sekuriteitsdorp, besoek www.block4.co.za. Bel Jaco by 082-826-7596 of Debbie by 083-595-9897 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 

© 2019 Die/The Bronberger