Het jy al van vermetel gehoor? Die ouens (glo studente) wat die groot kennisgewingbord
buite die Bronberg Lodge gegaps het en dit toe bykans ’n
jaar later weer netjies op sy plek gaan terugsit het, het so ewe gaan vra of
hulle nie nou ’n beloning kry nie. Die knape het glo die bord ‘geleen’ om dit
as ’n ‘ramp’ vir hulle veldfietse te gebruik.
xxx
Al ooit van ’n ‘nappy run’ gehoor? Dis net soos ’n ‘toy run’ – net anders. Dit
gebeur as motorfietsryers geld insamel vir weggooi doeke vir die Paul
Jungnickelhuis vir volwasse gestremdes. Dié tehuis kry slegs 14 weggooi
doeke per inwoner per maand van die staat. Die Inka Riders hou ’n reuse
massarit en pretdag met lewendige musiek, stalletjies, gelukkige trekkings
en ’n kontantkroeg om vir dié tehuis geld in te samel. Dit gebeur op 18 Julie
van 8 vm tot laat by die Silver Lakes Action Cricket Arena in Lynnwoodweg.
Almal is welkom en toegang is R130 per volwassene.
xxx
Die Bronberg-gebaseerde Diamond ‘L’ Abattoir is tweede in die land gegradeer
in die skoonste slagpale in Suid-Afrika afdeling.
xxx
Sektor twee van die Boschkopse GPF hou op 9 Julie sy jaarvergadering by
die Farm Inn. Die vergadering begin om 6.30 nm. ’n Forum-bestuur sal op die
vergadering gekies word met die opdrag om beter polisiëring in die gebied
te bevorder. Die sektor sluit die volgende gebiede in: Wapadrand, Silver
Lakes en omliggende behuisingsontwikkelings, Zwavelpoort noord van die
berg, Shere, Tygervallei, Lombardy Estate en Swaeltjie.
xxx
Klip Klap Antiek- en Kunsmark vier in Junie sy eerste verjaarsdag. Dié mark,
wat elke derde Sondag op ’n plot in Leanderlaan, Olympus gehou word, is
een van die min plotmarkte wat daarin slaag om stedelinge aan te hou
nader lok.
Zwavelpoort se Roger Evans is een van sewe
pottebakkers wie se werk van 21 Junie tot
16 Julie by die Tina Skukan Galery op plot 6,
Koedoebergweg, Faerie Glen uitgestal word.
Plot 6 is die laaste oorblywende plot in dié
voorstedelike gebied.
xxx
’n Paar goed wat ’n tiener graag op Vadersdag van
sy/haar pa sou wou hoor, maar wat in die meeste gevalle nooit sal gebeur
nie is:
“Kan jy die musiek asseblief ’n bietjie harder sit?”
“Ja, vat maar my nuwe kar. Hier is R500 vir petrol.”
“Ek is mal oor jou neusring. Ons moet altwee gaan vir nuwe oorbelle.”
“Hier, vat jy maar die TV se afstandbeheer.”
xxx
Baie vaders is nie juis te vaardig as dit by inkopies kom nie. So is ’n sekere
vriend op ’n dag gedwing om winkel toe te gaan toe sy vrou siek in die bed
was. Omdat sy al te bewus was van sy gebrekkige inkopie-ervaring het sy ’n
netjiese lysie gemaak van die sewe goed wat hulle benodig. Ewe trots kom
pa later met die inkopiesakke by die huis aan en begin sy aankopies op die
kombuistafel uitpak: Een piesang, twee sakkies sout, drie skaapboude, vier
brode, vyf bottels melk, ses dosyn eiers en sewe slaaikoppe.
xxx
Ons sien Kungwini se stadsraad doen getrou gestand aan minstens twee van
sy verklaarde vyf ‘sleutel-prioriteite’. Die prioriteit om werk te skep kry hy
mildelik reg deur hoë amptenare met volle betaling te skors en dan waarnemende
burgemeesters en waarnemende munisipale bestuurders in hulle
plekke aan te stel. Briljant, sou ons sê. Die sleutel-prioriteit om armoede te
beveg (‘fight poverty’) kan seker ook beteken dat amptenare hulle eie
armoede beveg deur te vat wat nie aan hulle behoort nie. Mag ’n mindere
belastingbetaler maar droom van die dag dat ‘fight corruption’ ’n sleutelprioriteit
word? |