Angie Kleijn
Iets vreemds het gebeur op die heel laaste dag wat president Paul Kruger in Pretoria was. Dit was oorlog; die kakies was op pad; die munt se goud en staatsargief-dokumente is ontruim; daar was ’n oorlogberaad by die president se huis en dit was die laaste keer in sy lewe wat hy sy vrou gesien het.
Die aand van 29 Mei 1900, kort voor die inname van Pretoria deur Brittanje, het die president sy huis finaal verlaat. Sy vrou kon nie saam met hom gaan nie omdat sy te siek was. Sy is in 1901 oorlede.
Paul Kruger het nooit teruggekeer nie en is op 14 Julie 1904 in Clarens, Switzerland oorlede.
Tog het Paul Kruger op dié van alle dae tyd ingeruim om ‘n 15-jarige seun van Amerika te sien. James Francis Smith het op 11 April vanaf Philadelphia vertrek om ‘n boodskap in die middel van ‘n oorlog af te lewer. Hy het dié afstand afgelê sonder om te weet hoe toevallig dit was dat hy die president enigsins te siene sou kon kry.
James Smith by staatsekretaris FW Reitz met die geleentheid van die oorhandiging van die pro-Boer handtekeninge aan president Paul Kruger
Foto: Transvaals Argiewe Depot
Boodskapper
James is as ‘n krulkop outjie van vyf voet, wat 100 pond geweeg het, beskryf. Hy was boodskapper nommer 1531 vir die Amerikaanse Distrik Telegraafmaatskappy (ADT). Hy het in Congresstraat 117, Brooklyn, New York gebly en was in diens van ADT se Manhattan-tak in Broadstraat 16.
Daardie jare het telegraafmaatskappye jong seuns op fietse gebruik om boodskappe af te lewer. Dit sou egter meer as ‘n fietsrit vat vir James om Pretoria te bereik.
Amerika het baie simpatie met die Boere in Suid-Afrika gehad. ‘n Philadelphia-koerant het die voortou geneem om dié ondersteuning te wys. Toe ‘n groep skoolseuns ‘n gedenkbrief geskryf het om hulle simpatie met Paul Kruger se saak te stel, het die ‘Philadelphia North American’ die idee met soveel entoesiasme aangegryp dat dit ontwikkel het in ‘n reuse lys wat deur 29 000 skoolseuns van New York-, Philadelphia- en Boston-distrikte onderteken is.
Die berig, ‘How I will find Oom Paul Kruger’ in ‘The Evening World from New York’,
bladsy 9 op 10 April 1900
Die koerant het besluit om dié boodskap van aanmoediging aan die “geharde pioniers” met ‘n ADT-boodskapper na ‘Oom Paul’ te stuur. Saam met die boodskap was koerantuitknipsels oor die oorlog wat deur Frank P Burrelle versamel is en in ‘n groot boek met ‘n spesiale leer-omhulsel geplak is.
Die waardevolle boodskap van simpatie en aanmoediging is in ‘n metaal briewekissie gedra. Dit sou waarskynlik behoue gebly het as ‘n bom naby dit ontplof het, alhoewel die seun wat dit moes dra, nie sou oorleef nie.
James Smith van New York is uit 2 000 ADT-boodskappers gekies om dié lys handtekeninge en plakboek persoonlik aan Paul Kruger in Pretoria af te lewer. Die maatskappy se president, Michael Raynens, het besluit om die taak, wat die draer van die boodskap reg in die kake van die oorlog sou instuur, aan James Smith te gee. Hy is glo gekies oor sy “onafhanklikheid en karakter”.
ADT boodskapper, James Smith, voor president Paul Kruger se huis, direk ná die oorhandiging van die boodskap van Amerikaanse kinders
Foto: ‘Blue Shirt and Khaki - a Comparison’, by James FJ Archibald
Afskeid
‘n Ruk voor James se vertrek was daar ‘n groot pro-Boer massa-vergadering by die Philadelphia Musiekakademie. Dit is deur Webster Davis gereël om teen die oorlog, wat die Britte teen die Boere voer, te protesteer. Toesprake is deur Webster Davis, Bourke Cochran en Edward Mark gelewer.
Volgens ‘n bladsy twee-berig in die ‘New York Times’ van 11 April 1900 het die dag voor James se vertrek as volg verloop: Hy het die Western Union-kantoor in Deystraat vroeg daardie oggend besoek, waar hy deur ‘n pragtige dogtertjie gesoen is.
Daarna het hy by burgemeester Van Wyck aangedoen. Die burgemeester het hom voorspoed toegewens en het gesê hy is trots dat ‘n seun van New York gekies is om dié reistog aan te pak.
Volgende op die lys was ‘n besoek aan president Grout van Brooklyn-distrik, waar ‘n foto geneem is van die twee wat bladskud.
Paul Kruger en sy vrou, Gezina Susanna Fredrika Wilhelmina, op hulle huis se stoep
Foto: Wikipedia
‘n Afskeidsfunksie is by die Waldorf-Astoria gehou waar James ‘n toespraak gemaak het om te sê dat hy sy persoonlike simpatie aan Paul Kruger sal oordra wanneer hy die handtekeninge oorhandig.
Daardie aand het hy ‘n vergadering van die Amerikaanse Nasionale Boerehulpvereniging bygewoon.
‘n Reuse skare het James afgesien toe hy op 11 April met die St Louis geseil het. Daar is geskat dat sy reis omtrent vier maande sou duur. In sy afwesigheid is ADT $7.’20 per dag, bo en behalwe uitgawes, betaal.
Die St Louis het James in sy donkerblou uniform na London geneem en van daar is hy na Parys en het by Napels op ‘n Duitse stoomskip geklim, wat hom na Delagoabaai (hedendaagse Maputo) geneem het. Op pad was daar ‘n geweldige storm naby Madagaskar, maar die skip het op 25 Mei veilig op Delagoabaai aangekom.
‘n Gedeelte van sy reis was James saam met Hugh Sutherland, ‘n Amerikaanse oorlogskorrespondent. Vanaf Delagoabaai is hulle met die Nederlands Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij (NZASM)-spoorlyn na Pretoria.
Die Transvaal Hotel se besoekersboek, wat meer as 14 000 handtekeninge bevat van mense wat die hotel van 2 Mei 1900 tot 26 Oktober 1902 besoek het
Foto: F Pretorius, 2012
Pretoria
Dit was oorlogtoestande en die trein het glad nie in die nag gery nie, net bedags met gewapende begeleiding. Dit het twee dae geneem om Pretoria 8 uur die aand van 28 Mei te bereik. In daardie stadium was die Britse magte net 40 myl buite Pretoria en die dorp was vol kommando’s wat besig was om terug te trek.
Die Transvaal Hotel se besoekersboek wys op 28 Mei 1900 die jeugdige handtekening van die 15-jarige James F Smith van Philadelphia in die Verenigde State van Amerika saam met dié van sy volwasse begeleiers: Hugh Sutherland, oorlogskorrespondent en een van die redakteurs van ‘n Philadelphia-koerant; James (Jas) FJ Archibald; en MW James.
Vroeg die volgende oggend het James en Hugh vir staatsekretaris, FW Reitz, gaan sien. Hy het gesê dat James drie uur daardie middag na president Paul Kruger se huis moes gaan. Daarná is James na die Amerikaanse konsul-generaal, Adelbert Hay.
Die middag het hy volgens boodskapper-reëls ‘n skoon kraag aan sy hemp gesit en sy skoene gepoets voor hy na die Krugerhuis vertrek het.
James het vertel dat Oom Paul in ‘n lang, lae een-verdieping kothuis gebly het wat slegs ‘n paar voet van die straat af was. Daar was twee klipleeus aan weerskante van die trappe as ‘n mens by die huis ingaan. Hy het aan koerante vertel dat dié leeus aan die president geskenk is deur Cecil Rhodes.
Ons boodskapper James is ook vergesel deur Jas FJ Archibald wat oor dié ontmoeting berig in sy boek, ‘Blue Shirt and Khaki, a Comparison’. Hy sê egter dat die klipleeus ‘n geskenk was van Barney Barnato, toe hy ‘n guns wou hê om een van sy skemas te bevorder, wat – ironies genoeg – uiteindelik die direkte oorsaak van die val van die twee Suid-Afrikaanse republieke was.
James het later vertel dat as dit nie vir die twee wagte by die voorhek was nie, jy sou dink dat een of ander kruidenier daar gewoon het. Selfs Jas FJ Archibald het in sy boek geskryf dat hy verstom was dat die ornamente in die vertrek goedkoop goed was.
Polley’s Transvaal Hotel in Pretoriusstraat in die 1890’s
Bron: Friedel Hansen
Ontvang
Toe James daar aankom was die president besig om ‘n oorlogberaad met staatsekretaris Reitz en generaals Meyer en De la Rey te hou. Hy het die beraad onderbreek en James in die sitkamer ontvang.
James het later vertel dat dit ‘n lang kamer was en dat Oom Paul aan die einde van die vertrek gestaan het. In sy hand was daar ‘n onaangesteekte pyp en hy het in ‘n spuugbak, wat in die middel van die vloer gestaan het, gespoeg.
Reitz het James aan die president voorgestel en James het sy voorbereide toespraak begin opsê: “U edele, ek bring vir u ‘n boodskap van die skoolseuns van Philadelphia.” Hy het sy sending so kort as moontlik verduidelik op die manier wat die ADT-boodskappers geleer is om dit te doen.
James sê hy was oortuig dat die president Engels kon verstaan, maar hy het nietemin vir die staatsekretaris gevra om die boodskap vir hom te vertaal. Oom Paul het amper geglimlag, het James vertel, en het hom in Afrikaans geantwoord.
“My seun, ek bedank jou dat jy so ‘n lang reis onderneem het om dié boodskap na my te bring en ek wens jou ‘n veilige terugtog na jou tuisland. Ek wil hê dat jy die Philadelphia-skoolseuns moet bedank dat hulle vir my sulke gawe boodskappe van aanmoediging in hierdie tyd gestuur het.”
Die Transvaal Hotel se besoekersboek op 28 Mei 1900 wys die jeugdige handtekening van die 16-jarige James F Smith van Philadelphia in die Verenigde State van Amerika saam met dié van sy volwasse begeleiers: Hugh Sutherland, een van die redakteurs van ‘n
Philadelphia-koerant; Jas FJ Archibald; en MW James
Foto: F Pretorius, 2012
Richard Harding Davis, wat ook daar was, het later vertel dat die toneel so aandoenlik was dat omstanders ‘n traan gepink het. Hy het ook gesê dat die president duidelik teleurgesteld was toe hy sien dat die dik leeromhulsel ‘n boek vol koerantknipsels bevat en nie ‘n Bybel nie.
Hy het egter deur die koerantknipsels geblaai en het weer amper geglimlag toe hy een van die pro-Boer spotprente, waarin hy uitgebeeld is, sien.
‘n Kleindogter van Paul en Sanna Kruger het later vir Jas FJ Archibald vertel dat haar ouma baie ure spandeer het om die koerantknipsels te lees ná die president weg is. Sy was glo diep dankbaar dat die Amerikaners hulle simpatieke sentimente so duidelik in die Amerikaanse pers uitgedruk het.
Staatsekretaris Reitz het vir James gesê om daardie aand weer terug te kom om die president te sien en hulle is uitgehelp sodat die oorlogberaad kon voortgaan. James se foto is saam met staatsekretaris Reitz en Hugh Sutherland geneem.
Die ‘Dayton Daily News’ van Dayton, Ohio op 21 April 1900 berig ook oor James Smith se tog na president Kruger
Weg
Toe hulle daardie aand teruggegaan het, was daar geen wagte by die hek nie. Iemand het hulle laat weet dat die president en regeringsamptenare per koets weg is.
Volgens Francis Hugh De Souza se boek, ‘A Question Of Treason’, het Jan Smuts die trein (vol goud, geld en staatsargief-dokumente uit die raadsaal) weggestuur om vir Paul Kruger en 16 lede van die regering by die Eerste Fabrieken-sylyn van die Delagoabaai-spoorlyn te wag.
De Souza skryf dat Paul Kruger direk nadat James daar weg is, van sy eie familielede afskeid geneem het. Hy het hulle almal in die sitkamer ingeroep en vir hulle welstand, God se hulp en leiding gebid.
Daarná het hy sy vrou aan die hand geneem en hulle het in die slaapkamer gaan afskeid neem.
Niemand in die sitkamer het glo beweeg of gepraat nie. Die enigste geluid was dié van die koetsperde buite.
Dié terugblik op James Smith se avontuur was op bladsy 2 in die Hattiesburg-koerant van
28 Augustus 1941. Dit lees: A messenger boy travelled 24 000 miles to deliver one telegram (Good wishes from New York to Boer President Paul Kruger, during the Boer War)
Bron: newspaperarchive.com/hattiesburg
Ons boodskapper James het later vertel dat daar daardie aand en die volgende dag plunderaars en wetteloosheid in Pretoria was. Die staatstore is onder andere geplunder. Binne ‘n kort rukkie het van die inwoners ‘n komitee vir veiligheid gestig en die geplunder is stopgesit.
Die Britte het al hoe nader gekom en bomme is afgevuur. Een aand was James-hulle by die Amerikaanse konsul, Adelbert Hay, se huis en hulle kon hoor hoe bomskerwe op die dak val.
James het rondgehardloop en skerwe opgetel ná bomme ontplof het, oënskynlik sonder om te besef in watter gevaar hy was. Hy het gesê dat dit vir hom soos “fourth of July” gevoel het.
Die volgende oggend, op 4 Junie, het veldmaarskalk Lord Roberts Pretoria ingeval en die Britse vlag is gehys. James en sy geselskap is vir ses weke as gevangenes aangehou.
Hulle kon uiteindelik op 12 Julie op die trein Kaapstad toe klim. Die 1 040 myl het hulle sewe dae en sewe nagte geneem en hulle het snags amper gevries omdat hulle in ‘n oop kolewa moes ry. Die twee gewone treinwaens was vir gewonde soldate en verpleegsters. Daar was geen verversings nie en James-hulle moes hulle eie kos vir die sewe dae saamvat.
Die geselskap moes tot 1 Augustus in Kaapstad vir ‘n stoomskip wag voor hulle die Kinfauls Castle na Southampton kon neem. Cecil Rhodes se suster, Edith, was ook aan boord.
Nog ‘n berig oor James Smith in ‘The Courier-Journal’ van Louisville, Kentucky op 14 April 1900
op bladsy 9
Terugkoms
‘The Sun’ van 17 September 1900 berig dat avonturier, James Francis Smith, om 8 vm op
16 September met die ‘American Line’ stoomskip in New York aangekom het.
Hy is verwelkom deur sy pa en ma, drie susters en twee broers, wat almal in Brooklyn gewoon het. Agter hulle het Michael W Rayene van die ADT en Frank P Burrelle, wat die knipsels versamel het, en sy vrou gestaan.
James en sy gesin is op die hawe in ‘n perdekar gelaai en na die Burrelle-gebou in Wes-19e straat geneem. In dié gebou is James agter ‘n rostrum, wat met rooi, wit en blou vlagdoek versier is, tuisgemaak en het hy oor sy avonture vertel.
Hy het glo gesê dat hy ‘n Amerikaanse burger en ‘n Republikein is, maar dat hy die Boere ondersteun.
Hy het gesê hy glo dat die Boere een of ander tyd bo sal uitkom en hy hoop sy volgende missie sal wees om ‘n boodskap aan die weduwee keiserin van Sjina te neem.
James Smith is op 8 April 1940 oorlede. Sy doodsberig het op 9 April in ‘The Philadelphia Inquirer’ verskyn. Dié berig lui dat dieselfde determinasie wat hom in 1900 Afrika toe geneem het, hom deur die range na ‘n verantwoordelike posisie in die polisiemag laat opbeweeg het.
Toe hy ná ‘n siekbed van 10 dae dood is, was lieutenant James F Smith in bevel van die speurtak in noordelike Queens, New York. Sy seun, Robert T Smith, was ‘n New York ‘state trooper’. Die doodsberig noem dat hy ook deur sy vrou en dogter oorleef is. |