Nefie van dagga-plant vir bouwerk ingespan PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 March 2019 05:37
Untitled Document

‘n Nefie van die dagga-plant gaan ingespan word om bakstene te maak op die plek waar die eerste wettige brandewynstokery in die Zuid-Afrikaansche Republiek was – Eerste  Fabrieken op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier.

Ruan Jansen van Rensburg van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) is by ‘n onlangse streekbyeenkoms aangewys as die streekwenner van die Corobrik Argitekstudent van die Jaar. Sy tesis gaan oor die ontwerp van ‘n plaas met geriewe waar kannabis-plante as alternatiewe hulpbron by Eerste Fabrieken ingespan word.

Die plan is om industriële hennep, ook deel van die Cannabis sativa spesie, te gebruik om boumateriaal, spesifiek bakstene, te maak op ‘n stedelike plaas langs die vervalle Eerste Fabrieken-stasie, wat deesdae in Mamelodi val.

Ruan se tesis voorsien dat dié hennep as ‘n interaktiewe proses met die omliggende gemeenskap verbou sal word deur gemeenskaplike vervaardiging, produksie, handel en opvoedkunde. Die gemeenskap sal aangemoedig word om hennep op die landbou-perseel of op hulle eie persele te kweek en na die steenmakery te neem.


Ruan Jansen van Rensburg met sy wenner-sertifikaat as Corobrik se Argitektuurstudent van die Jaar
Foto: Verskaf

Fabrieken
Meer as ‘n honderd jaar gelede het Eerste Fabrieken ‘n soortgelyke rol in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gespeel. Alois Hugo Nellmapius het in September 1881 aansoek gedoen om ’n brandewynstokery op Hatherley te begin.

Hy het gesê dat dit hoog tyd is dat die volksraad mense aanmoedig om produkte in die ZAR te vervaardig, in plaas daarvan om alles in te voer en het voorgestel om ’n fabriek te begin wat suiker, meel, alkohol, bier, sigare, asyn en styfsel sal vervaardig en leer sal looi. Die volksraad het sy versoek goedgekeur en die kontrak is in Oktober 1881 onderteken.

Nellmapius het saam met die maatskappy Lewis & Marks, bestaande uit Sammy Marks en die neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n maatskappy begin.

Die registrasie is gepubliseer in die Staatskoerant van 14 Julie 1882 as De Eerste Fabrieken in de Zuid Afrikaansche Republiek (Bep). Die stokery is amptelik in Junie 1883 deur president Paul Kruger geopen.


Betonblokke wat in Frankryk uit industriële hennep gemaak is
Foto: Wikipedia

Vandag
Vandag is die enigste herinnering aan dié stokery die naam van ’n vervalle spoorwegstasie. Die 27-jarige Ruan Jansen van Rensburg se bekroonde planne vir dié gebied kan dinge hier dalk weer voorspoedig laat verloop.

Ruan, wat aan die Hoërskool Menlopark skoolgegaan het, het sy tesis verlede jaar vir sy M Tech-argitektuurgraad ingehandig. Hy werk by PKA International Architects in Waterkloof en het ‘n kontantprys van R10 000 van Corobrik gewen.

Corobrik se kommersiële direkteur, Musa Shangase, het gesê dat die maatskappy planne het om plaaslike produksiekapasiteit te bevorder. Hy het gesê dit is juis daarom dat hulle nuwe tegnologie verwelkom en hoekom hulle nuwe produkte ontwikkel wat die toekoms van die boubedryf in Suid-Afrika sal help vorm.


‘n Model van Ruan se projek
Foto: TUT Architecture

Hennep
Ruan het die bekostigbaarheid en toeganklikheid van industriële hennep ondersoek. Hy sê dat dié plante in verskeie vorms in industrieë gebruik word, soos vir die maak van tou, konstruksiemateriaal en medisinale produkte. Die verbanning van kannabis het ons egter jare lank vervreem van dié nuttige gebruike.

Hennep is ‘n variëteit van die Cannabis sativa plantspesie wat spesifiek vir industriële doeleindes gekweek word. Dit is van die plante wat die vinnigste groei en is 10 000 jaar gelede reeds in bruikbare vesel gespin. Matte, toue en lap is van dié vesel geweef en visnette is daarvan gevleg.

Die plant kan in ‘n verskeidenheid kommersiële items verwerk word, soos papier, tekstiele, klere, bio-afbreekbare plastiek, verf, insulasie-materiaal, bio-brandstof, kos en veevoer.


Cannabis sativa plante
Foto: Wikipedia

Betonblokke wat uit hennep en kalk vervaardig word (“hempcrete), word as insulasie-materiaal in konstruksie gebruik. Sulke blokke is gewoonlik nie sterk genoeg vir strukturele elemente nie en moet deur ‘n baksteen-, hout- of staalraam ondersteun word.

Die eerste moderne voorbeeld waar hennep-beton gebruik is was in 1986 in Frankryk met die opknap van die Maison de la Turquie in Nogent-sur-Seine deur Charles Rasetti. In Brittanje is dié beton vir die eerste keer in 2000 gebruik vir die konstruksie van twee eksperimentele wonings in Haverhill. Die eerste Amerikaanse hennep-huise is in 2010 in Asheveill, Noord Carolina voltooi.

Panele van hennep-beton vir konstruksiedoeleindes word deur die Universiteit van Bath getoets en deur die Europese Unie befonds. Dié panele word ontwerp vir hoë-kwaliteit konstruksie, vinnige oprigting op die bouperseel, optimale hidrotermiese prestasie en energie- en hulbron-doeltreffende geboue.
Hennep word ook gebruik vir die pleister van interne mure.


 Insulasieblokke vir binnenshuise gebruik
Foto: Wikipedia

Verskil
Die verskil tussen dagga en industriële hennep is die hoeveelheid van die aktiewe komponent, tetrahidrokannabinoïde (THC), wat dit bevat. Hennep het laer konsentrasies THC en hoër konsentrasies kannabidioliese suur (CBD), ‘n chemiese verbinding wat in die harskliere van ru-hennepplante voorkom.

CBD het geen psigo-effekte nie terwyl THC as dwelm gebruik word. Wetgewing verskil van land tot land, maar die meeste wettige hennepvariëteite mag slegs ‘n toegelate vlak van 0.03% THC bevat.
SSK, een van 113 kannabinoïede in die hennepplant, word bestudeer vir sy terapeutiese effek op depressie, slapeloosheid, kanker, pynverligting en as ‘n hupstoot vir die immuunstelsel.

Voorstanders van die gebruik van CBD vir gesondheidstoestande sê dat die mens al soveel duisende jare saam met dié plant op aarde leef, dat ons liggame ingeboude reseptore het wat presies weet hoe om dié plant ten goede aan te wend.

Navorsing word wêreldwyd gedoen oor kannabinoïede reseptore, wat dwarsdeur die liggaam gevind word as deel van die endokannabinoïde stelsel, wat in ‘n verskeidenheid fisiologiese prosesse betrokke is.

Kannabinoïede reseptore behoort aan ‘n klas van selmembraan reseptore in die G-Proteïen gekoppelde reseptor superfamilie. Die kannabinoïede reseptore word deur drie hoofgroepe geaktiveer: endokannabinoïde, wat aan die onderkant van die brein geproduseer word; plant kannabinoïede, soos deur die Cannabis sativa-plant geproduseer; en sintetiese kannabinoïede.


Ruan by die uitstalling van sy werk
Foto: TUT Architecture

Seevaarders
Daar word gesê dat Portugese seevaarders Cannabis sativa, wat inheems is aan Oos-Asië, hierheen gebring het voor Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het. Die Khoi-Khoin het dié plant makdagga genoem, omdat dit hulle aan die inheemse wildedagga herinner het.

In Suid-Afrika groei daar verskeie inheemse Leonotis-soorte: velddagga, klipdagga, koppiesdagga, knopdagga, rooidagga, perdedagga, rooipootjiedagga, malkopdagga en stranddagga.

Wildedagga is tradisioneel gebruik om ‘n tee te maak wat gedrink word vir koors, hoofpyn, griep, verkoue en longaandoenings. Dit word ook gebruik om wonde te ontsmet en word aan skerpioensteke en insekbyte gesmeer om pyn te verlig. Dit het glo ‘n soortgelyke kalmerende uitwerking as makdagga wanneer dit gerook word.


Werkers wat vate rol voor Eerste Fabrieken-brouery is deur fotograaf HF Gros afgeneem

Die ou Griekwanaam vir makdagga is ‘dwaalbos’ en dit word ook ‘ganja’ (uit Hindi) genoem en ‘ghwa’ of ‘ghwaai’ van die Zoeloe- en Sothowoord vir tabak.

Volgens Viva Afrikaans strek Afrikaanse name vir makdagga van ‘aaptwak’ en ‘boom’ tot ‘papegaaislaai’, ‘elektriese spinasie’, ‘giggelgras’, ‘karatetwak’, ‘Tarzan-twak’, ‘rondkyktwak’ en ‘wildepietersielie’.

Dit word ‘duiwelasem’ in Namakwaland genoem, ‘ghonnaghoet’ in George se wêreld, ‘gras’ of ‘groenvoer’ in die Kaapstad-omgewing, ‘haasgras’ in Theunissen en ‘hoendervoet’ in Montagu.

 

© 2019 Die/The Bronberger