Oom onthou ‘n woeste warrelwind PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 25 March 2019 05:34
Untitled Document

“Wind,” sê die oom so uit die een kant van sy mond. Die ander kant knyp ‘n kromsteelpyp vernuftig tussen die ‘gums’ vas.

“Julle knapies wat nie die Kalkveld ken nie, ken nie wind nie. En ook nie warrelwinde nie,” sê hy.
Ons bevind ons in ‘n plaaslike kuierplek. Buite woed ‘n bekwame Augustuswind en dis hoekom die gesprek ast’ware in dié rigting gewaai word.

“In die Kalkveld het ek jare probeer boer en dáár leer ‘n man wat wind is,” sê die oom.

Hy sê dit laat hom dink aan dié goeie dag toe hy doer oor die vlaktes ‘n allervreeslike stofwolk sien aankom het. Wit kalkstof, sê hy, is in ‘n reusagtige tregter hemelwaarts gedwing. Tussen die bek van die tregter en die suigpunt wikkel die warrelwind sy lyf heen en weer soos hy beur om nog harder te suig, sê die oom.

Toe hy besef dat dié duiwelse ding reguit op sy troppie skaap in die boonste kamp afpyl, toe is dit klaar te laat, sê hy.

Hy en sy skaapwagter, Jafta, en sy opreggeteelde skaaphond, Windvoël, sit so vinnig as wat die Datsun bakkie hulle kan dra skaap se kant toe. Maar toe hulle daar aankom suig die windslang net die laaste groot ram die lug in op, sê die oom.

Nou, sê die oom, is dit asof die warrelwind tevrede was met sy vangs en na sy wilde aantog oor die vlaktes loop staan hy net daar waar hy die trop skaap verorber het. Hy wikkel ‘n bietjie deuskant toe en dan weer ‘n effe daai kant toe, maar hy bly net daar in die boonste kamp. So al of hy dalk op iets wag.
Hoe ookal, sê die oom, hy sien toe, met die opkyk na die reuse tregterbek daar bo, hoe woer sy trop skaap al in die rondte, al in die rondte.

Hy en Jafta en Windvoël besluit toe om maar in die bakkie te wag ingeval die wind besluit hy wil effens asem skep om dan die skape op só manier weer ter aarde te laat. En hulle wag. En hulle wag, sê die oom.

Hy is mos maar lief vir sy diere, sê die oom, en hy is baie erg oor sy skape. Naderhand besluit hy só kan dit nie aangaan nie. Die skape sal mos verhonger daar bo. Dit lyk vir hom hoeka of hulle al klaar aan’t maerword is.

Agter op die Datsun is nog die sak mielies wat hy vroeër vir die hoenders by die koöperasie op die boek gekoop het, sê die oom.

Jafta sleep toe die sak mielies nader na die bek van die warrelwind toe. Die plan is om ‘n gat met sy knipmes te maak en dan die mielies vir die windslang te voer.  Die probleem, sê die oom, is dat elke keer as Jafta die sak wil laat los om sy ding te doen dan dreig die duiwelse ding om hom ook op te slurp.

So beduie die oom vir Jafta om die sak terug te sleep bakkie toe. Vir plan B, sê die oom. Hy pak daar en dan Jafta se broeksakke vol klippe - kalkklippe natuurlik - en Jafta sleep terug tregter toe. Die plan werk nommerpas. Nie lank nie of hy en Jafta staan tevrede en kyk hoe die skape gulsig daar bo aan die geelmielies vreet. Jy kan sommer sien hoe stoel hulle, sê die oom.

Maar ‘n nuwe probleem steek sy kop uit. Windvoël het intussen afgedwaal en nou rondomtalie hy ook daar bo tussen die skape. Hulle kan sien hoe hy, jy kan maar sê swem, soos hy spook om sy skape daar in die ope hemel op ‘n knop te probeer jaag. Die oom stuur toe maar weer die afgeweegde Jafta terug tregterbek toe. Dié keer met die gemsbokbiltong wat die oom altoos voor in die ‘kêbbiehoul’ saamry.

“Daai was vir jou wind,” sê die oom en steek sy pyp op.

“Maar wat toe van die skape, oom? En van Windvoël,” wil ek weet.

“Nee, jy sal nie glo nie, daai dwarrelwind kies toe uiteindelik weer koers. Reguit opstal se kant toe.

Seker gaan soek vir nog skape of mielies of iets om op te tel. Maar net daar raak sy gô uit en hy sit die hele spulletjie netjies in die skaapkraal neer”, sê die oom. 

 

© 2019 Die/The Bronberger