Perdesiekte is vanjaar ‘n groot probleem PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 March 2019 05:24
Untitled Document

Perde-eienaars in die Bronberg-gebied is uiters bekommerd nadat perdesiekte uitgebreek het.

Afrika Perdesiekte kom meestal in die warm reënseisoen voor wanneer daar baie muggies is. Die hoë-risiko seisoen strek gewoonlik van Februarie tot Maart. Die risiko verhoog veral ná aanhoudende reën.

Dr Gary Buhrmann, ’n veearts van die Departement van Landbou, Visserye en Bosbou, sê dat die meeste uitbrake wat tot dusver hierdie jaar gerapporteer is, in Gauteng was. Perdesiekte moet aangemeld word en telers en private veeartse word onder die Wet op Dieresiektes (Wet no35 van 1984) verplig om staatsveeartse van uitbrake te laat weet.


Die Culicoides muggie
Foto: Dr Melvyn Quan

Nadine Bennet van stalle in Tierpoort sê dat dié siekte vanjaar ‘n groot probleem is. “Dit is weer een van die erger jare waar die perde links en regs doodgaan as gevolg van oningeligte en onverantwoordelike mense,” sê sy.

Sunette Ahlers het laat weet dat nog ‘n perd in Kameelzynkraal dood is. Teen die Bronnie se saktyd is bloed vir toetsing weggestuur om te bevestig of die oorsaak perdesiekte was.

Dit is nou te laat om perde teen dié siekte te ent. Inenting is jaarliks tussen Junie en Oktober.

Die muggies wat verantwoordelik is vir die oordrag van perdesiekte is laatmiddag en vroeg in die oggende aktief. Daarom word perde-eienaars aangeraai om hulle perde twee ure voor die son sak stalle toe te neem en hulle eers twee ure ná sonsopkoms uit die stalle te laat.

Skakel alle ligte in en om die stalle af en probeer openinge met 80% skadunet bedek. Spuit jou stalle gereeld met insekbeheer-dipstowwe en installeer waaiers in die stalle. Die muggies is kleiner as 1 mm en sukkel om in bewegende lug te vlieg.

Spuit perde met geregistreerde dipmiddels vir perde, soos middels wat piretroïedes bevat.


Installeer waaiers in stalle om muggies weg te hou

Muggies
Culicoides muggies is grootliks vir die oordraging en verspreiding van die virus verantwoordelik. Die virus wat perdesiekte veroorsaak is die orbivirus van die rioviridae- familie. Daar bestaan nege stamme of serotipes in die perdesiekte-familie.

‘n Perd kry die virus as hy deur ‘n besmette wyfie-muggie gebyt word. Dié virus is dus nie aansteeklik nie, maar oordraagbaar. Een perd kan nie by ‘n ander perd aansteek nie, omdat die virus slegs deur insekte oorgedra word.

Daar is glo ‘n moontlikheid dat sekere muskiet- en bosluisfamilies ook betrokke kan wees by die oordraging, maar dit is nog nie bewys nie.

As ‘n perd deur ‘n besmette muggie gebyt word, vermeerder die virus vinnig in die bloedstroom en heg aan die rooibloedselle, wat dan aan die begin ‘n verdikking van die bloed veroorsaak.

Die liggaam skei natuurlike stowwe af om die virus teen te werk, wat tot die verdunning van die endoteel-weefsel van veral die longe en hart lei, wat verskillende vorms van die siekte veroorsaak. Die inkubasietydperk is vyf tot sewe dae, afhangend van die verskillende vorms. Perdesiekte kom in vier verskillende vorms voor.

Perdesiektekoors is die ligste vorm van perdesiekte en simptome sluit koors, effens moeilike asemhaling, soms rooi slymvliese en verhoogde polsslag, in. Die simptome verdwyn na ‘n paar dae. Dit kom gewoonlik by ingeënte perde, wat besmet raak met een van die nege stamme waarteen hulle nie volledige immuniteit ontwikkel het nie, voor.

Dikkop (hartvorm): Die perd ontwikkel ‘n baie hoë koors en die hart word aangetas. Die kop, nek en veral die holtes bokant die oog swel op en daar kan ook ‘n erge swelling van die ooglede wees. Die swelsel kan later na die borskas versprei, maar nie na die bene nie. Dié vorm veroorsaak soms dat ‘n perd moeilik of glad nie kan sluk nie, maar massering van die slukderm kan help. Die dikkop- of hartvorm is gewoonlik minder ernstig as die dunkop- of longvorm van die siekte en sowat 50% van siek diere kan oorleef.

Dunkop (longvorm): Volwasse diere wat nog nooit geënt was nie en vullens wat nie teenliggame deur die ma se kolostrum ontvang het nie, is die vatbaarste vir dié vorm van perdesiekte. Dunkop is die ernstigste vorm en die longe word aangetas. Die perd ontwikkel ‘n hoë koors. Vog op die longe vermeerder, die perd haal al hoe swaarder asem, en staan later wydsbeen met voorbene reguit, en die nek en kop omlaag.

Later begin hy hoes en vog en skuim kom by die neusgate uit. Teen die einde is die neusgate en die bek oopgesper met die tong wat uithang. Perde met hierdie vorm kan binne ‘n paar uur vrek en die kans op herstel is minder as vyf persent.

Gemengde vorm is die mees algemene vorm van perdesiekte waar diere ’n kombinasie van die dikkop en dunkop vorms het. Swelling van die kop, oogholtes en longedeem kom voor. Vrektes wissel tussen 65% en 70%.


Nadine Bennett van Tierpoort sê dat perdesiekte vanjaar ‘n groot probleem is

Behandel
Met die dunkopvorm is dadelike behandeling nodig om die vloeistof in die longe te beheer. Die ander vorms van perdesiekte kan met anti-inflammatoriese middels behandel word om die swelsel en ongemak te verminder.

Hou die perd so stil as moontlik en moenie die dier probeer vervoer nie, omdat spanning die toestand vererger. Galkoors is dikwels ‘n sekondêre siekte wat saam met perdesiekte voorkom.

Vitamien- en mineraalaanvullings wat die immuunsisteem ondersteun, kan die hersteltydperk bespoedig. Moenie perde binne ses weke nadat hulle perdesiekte opgedoen het werk nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger